HERKOMS VAN DIE GEMEENTE

Die ses plase in die Moot, van Daspoort in die weste tot Rietfontein in die ooste, is mettertyd onder BESIGHEID verdeel in kleiner woonbuurte.  Villieria is geproklameer in 1896 - die naam afgelei van De Villiers, die nooiensvan van die landmeter/skrywer GR von Wielligh se vrou.

In 1944 is die gemeente Villieria afgestig van Eloffsdal, die "moedergemeente" in die Moot.  Vanweë verstedeliking van die Afrikaner na die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog volg buitengewone groei in dié gebied.  Ook hier sou, soos in die geval van Eloffsdal-gemeente, die patroon van die hennetjie-met-kuikens volg.

In 1946 stig die gemeente Derdepoort van Villieria af.  Dit bring slegs tydelike verligting vir die leraar, ds LLN Botha, en in Maart 1949 word 'n medeleraar, ds HJC Reyneke, in Villieria bevestig.
En hiervandaan die verhaal van Pierneef . . .

Die gemeente wat vandag bekend staan as die NG gemeente Pierneef is in 1950 van die gemeente Villieria afgestig. Met die gemeentelede sittende op kissies en planke, geleen van die SA Polisiestoor, is die gemeente Pierneefstraat van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, Ring van Eloffsdal, op 30 September 1950 gestig - toe die 29ste NG-gemeente in Pretoria. In April 1951 is die naam verander na Pierneef. Tydens die naweek van 8 en 9 November 1952 is die kerkgebou ingewy. Dit is geleë in een van die Noordelike voorstede van Pretoria met die naam Villieria.

In 2000 het ons gemeente die 50ste herdeking van ons bestaan gevier. Vir hierdie geleentheid het ons 'n feesblad gepubliseer met inligting oor die eerste 50 jaar.

Kliek hier om hierdie feesblad oop te maak en/of af te laai.


Terug na hoofblad