Feesblad van die NG Gemeente Pierneef

50 Jaar oud 1950-2000

Woord Vooraf

Ná die sentrale gedeelte van Pretoria was die Moot een van die eerste streke waar wit pioniers hulle gevestig het. Die oudste kerkgebou in die Moot is in 1905 opgerig. Hier het leraars van die sentrale gemeente - eers dié op Kerkplein en later die Groote Kerk in Bosmanstraat - eredienste kom hou vir die Moot se plaasmense. (Die geboutjie staan agter die kerk van Eloffsdal en word nog as Sondagskoollokaal gebruik.)

Die ses plase in die Moot, van Daspoort in die weste tot Rietfontein in die ooste, is mettertyd onderverdeel in kleiner woonbuurte. Villieria is geproklameer in 1896 - die naam afgelei van De Villiers, die nooiensvan van die landmeter/skrywer GR von Wielligh se vrou.

In 1944 is die gemeente Villieria afgestig van Eloffsdal, die "moedergemeente" in die Moot. Vanweë verstedeliking van die Afrikaner na die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog volg buitengewone groei in dié gebied. Ook hier sou, soos in die geval van Eloffsdal-gemeente, die patroon van die hennetjie-met-kuikens volg.

In 1946 stig die gemeente Derdepoort van Villieria af. Dit bring slegs tydelike verligting vir die leraar, ds LLN Botha, en in Maart 1949 word 'n medeleraar, ds HJC Reyneke, in Villieria bevestig.

En hiervandaan die verhaal van Pierneef . . .

 

"Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan. Daar is 'n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam".                                                                                          Maleagi 3:16

 

IN DIE BEGIN . . .

 

Eers die pastorie, daarna die gemeente

 

Heelparty van die lidmate van Villieria was afhanklik van busvervoer om by die kerk te kom. Vir talle wat suid van die Capital Park-Silverton-spoorlyn gewoon het, het kerkbywoning mettertyd moeilik geword vanweë 'n ontoereikende busdiens. Met die oog op bearbeiding van dié deel van die gemeente is die pastorie in 25ste Laan 341 gebou as woning vir die medeleraar.

 

Die volgende stap sou egter wees die stigting van 'n eie selfstandige gemeente. (Hierdie patroon sou homself herhaal 17 jaar later met die afstigting van Pierneefrant.)

 

Op kissies en planke

 

        Om met 'n skuldlas van ,3 000,00 en sonder kerk of saal, af te stig - vir 407 lidmate 'n waagstuk? So vra ds Reyneke in Die Voorligter van Desember 1951. Nee, antwoord hy self, dit was die waag van die geloof. Die stigtingsvergadering, bepaal vir 30 September 1950, sou plaasvind in 'n tent op die terrein waar Hoërskool Hendrik Verwoerd se sportgronde tans is. Op 29 September steek 'n storm op en skeur die tent uitmekaar. Inderhaas is 'n ruim woonvertrek in die huis van die Taljaard-gesin te 23ste Laan 332 gekry.

       Met die gemeentelede sittende op kissies en planke, geleen van die SA Polisiestoor, is die gemeente Pierneefstraat van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, Ring van Eloffsdal, op 30 September 1950 gestig - toe die 29ste NG-gemeente in Pretoria. (Die voorgestelde naam van Villieria-Suid het nie inslag gevind nie, en in April 1951 is die naam verander na Pierneef.)

 

Kyk ek na die ooste . . .

 

Die gemeentegrense was soos volg:

 

Oos:     Die Derdepoortse gemeentelike grens, dws vanaf 'n punt op die berg in die suide al langs 34ste Laan, albei kante, tot teenaan die spoorlyn.

Noord:  Van 34ste Laan al met die spoorweg langs tot by 21ste Laan.

Wes:     21ste Laan (albei kante), van die spoorlyn tot aan die kruin van Riviera-rant.

Suid:     Van 21ste Laan ooswaarts al langs die bergkruin tot by 34ste Laan.

 

Die gedeelte 21ste tot 18de Laan is in 1951 van die gemeente Riviera afgesny en by Pierneef gevoeg - 'n wins van sowat 120 lidmate.

 

Die opsieners

 

Op 1 Oktober 1950 is 12 ouderlinge en 14 diakens bevestig deur die konsulent, ds JF Linde van Riviera. Van die oorspronklike kerkraad is nog een oud-ouderling in die lewe, en lid van Pierneef: Oom Abraham (AD) Theron, op 85 (26 April 2000) tans die oudste lidmaat in die gemeente.

 

Kerkraadsvergadering in 'n (borrel)bad?!

 

Vlytige hande het weldra 'n deel van die Taljaard-huis omskep in 'n saaltjie, bekend as die Moggsaal. (Naas toegang vanuit 23ste Laan, was daar ook toegang tot die saaltjie met die kort straatjie tussen 23ste en 24ste Laan.) Aanvanklik het die badkamer as konsistorie en moederskamer gedien, totdat 'n "sub-konsistorie" op die stoep ingerig is. (Mev Taljaard het tegelyk opgetree as koster.)

 

Die eerste predikant, ds HJC Reyneke, was 'n vanselfsprekende keuse. Die feestelikhede rondom sy ontvangs, bevestiging en intrede het tydens die naweek 19 tot 21 Januarie 1951 plaasgevind. Ds Linde het die formele bevestiging waargeneem en dr MW Retief van Daspoort het die rede gehou, gevolg deur ds Reyneke se intreepreek op Sondag, 21 Januarie.

       Nou kon daar getuig word: "'n Pragtige gees van eensgesindheid en samewerking heers tussen die pastorie, die kerkraad en die gemeente. Almal is geesdriftig eens om deur die krag en genade van God die gemeente op te bou tot 'n sieraad en lof vir die Koning van die Kerk." (Ons Gemeentelike Feesalbum, 1952.)

 

Klein steentjies, groot boustene

 

GEMEENTEBRIEF

NH OF G GEMEENTE PIERNEEF

2 Julie 1951

Liewe Broer en Suster,

       Voor die saaltjie waar ons gemeente nou aanbid, is daar 'n muurtjie gebou. Die stene in hierdie muurtjie tel 300 - 'n simboliese voorstelling van ons teenswoordige skuld van ongeveer ,3,000.

       Die muurtjie dui aan dat dit die onmiddellike verhindering is op ons pad om 'n eie plek van aanbidding vir die Here op te rig.

       Ons wil graag begin bou. Die Kerkraad stel voor dat hierdie muurtjie heel bly en ingekleur word: groen steentjies stel voor die wat reeds betaal is, en rooi steentjies die wat beloof is tot en met 30 September.

       Op hulle vergadering van 4 Junie 1951 het lede van die gekombineerde Kerkraad om en by ,400 beloof tot en met 30 September. Hiermee word reeds 40 steentjies ingekleur. Elke ,10 wat van nouaf vir hierdie spesifieke doel byeengebring word, kleur nog 'n steentjie in. Het ons hierdie skuld betaal, is ons pad oop.

       "Deur die geloof het die mure van Jerigo geval" (Hebr. 11 : 30). Ons muur kan ook val. Dis nie onmoontlik nie. Bid saam met ons. Ons kàn. U kan. Dankie!

 

Hartlik gegroet!

 

Saam in Sy diens:

HJC Reyneke                                                                                                                      WBW Danzfuss

VOORSITTER VAN DIE KERKRAAD                                                                           SCRIBA-KASSIER

 

 

In Desember 1951 berig ds Reyneke verder in Die Voorligter:

"Met ,3,000 skuld was afgestig. Daar was ongeveer ,2,500 bate. Na een jaar kan hierdie skuld betaal word en die onbelaste bate van die gemeente bereken word tussen ,7,000 - ,8,000.

Maar, nie net materieel was daar voorspoed nie. Hoe dank ons ons Hemelse Vader vir die hervorming en nuwe belangstelling wat in so baie lewes en huisgesinne in die afgelope jaar plaasgevind het! Die samewerking is heg en blymoedig. Die onderlinge kennis en verkeer van gemeentelede hartlik. Verbetering in kerkbesoek word dankbaar opgemerk."

 

Dis die God der leërmagte, troue Bondsgod van weleer . . .

 

Die Eerwaarde Kerkraad het groot genoeë om u hartelik uit te nooi tot die plegtige hoeksteenlegging van hulle nuwe Kerkgebou, DV op 16 Augustus 1952 om 3 nm. Plek: Hoek van 26ste Laan en Pierneefstraat. (Dié erf, "seker gedeelte 2 van Plot 91, Villieria, Pretoria, groot 50 110 vk vt", is geruil van die stadsraad van Pretoria vir "seker gedeelte 1 van Plot 91, geleë aan 26ste Laan, … groot 25 155 vk vt" - as bruidskat ontvang met afstigting - plus ,250, "synde die verskil in waardes.")

 

Die bouaannemer, mnr FP van Heerden, oorhandig die troffel aan ds Reyneke. Psalm 146:1 en 8 weerklink: Sion, sing die God ter eer, prys Sy grootheid, loof die Heer!

 

Ek was bly toe hulle vir my gesê het: "Kom ons gaan na die huis van die Here toe."

 

Notule van Kerkraadsvergadering gehou in die Moggsaal, Maandag, 3 November 1952 om 7:30 nm.

 

Kerkbou:

Die vergadering bekragtig … die uitbetaling van ,1 989-14-9 aan die boumeester.

Inwyding:

Die eerwaarde voorsitter rapporteer dat die reëlings in verband met die inwyding in orde is en deur die betrokke kommissie afgehandel word.

Onthaal:

Die broers kerkraadslede word daarop gewys dat die susters voornemens is om by die inwyding verversinge te bedien, en gevra of hulle nie op taktvolle wyse versoek kan word om van die plan af te sien nie sodat hulle onbelemmerd aan al die plegtighede kan deelneem . . .

 

Tydens die naweek van 8 en 9 November 1952 word die kerkgebou van die NG-Gemeente Pierneef op die noordoostelike hoek van Pierneefstraat/26ste Laan, Villieria, ingewy, sonder 'n onthaal. Die wydingsdiens is gehou deur prof AB du Preez.

 

Interessante gegewens oor die koste verskyn in die Kerkraadsnotule van 5 Januarie 1953:

Aan:

Stadsraad vir water, goedkeur van planne, elektrisiteit, ens

,113-12-6

 

Spoorvrag op gereedskap en materiaal

,39-6-9

 

Kanselkleed

,35-10-0

 

Dowe gehoortoestel (sic)

,42-6-0

 

Klok

,275-0-0

 

Toringhorlosie (geskenk deur kerkraad)

,250-0-0

 

Matte, ens

,139-18-8

 

Traliewerk, draad en pale vir omheining

,241-14-0

 

Brandkas

,35-0-0

 

Kanselstoele (nog nie afgelewer nie)

,45-0-0

 

Boukoste: Kerk, buitegebou, omheiningsmuur

,17,578-13-10

 

Totaal, sonder orrel

,18,796-1-9

 

Orrel

      ,1,975-0-0

 

Groottotaal

,20,771-1-9

'n Dankbare kerkraad het besluit om:

1.    'n Bybel (10/6) aan elke dopeling by die eerste doopplegtigheid in die kerk te gee,

2.    'n adres en geraamde portret aan die boumeester, en

3.    'n staal maatlyn (, 3-8-0) aan die bouvoorman.

 

       Die KJV (Kerk Jeugvereniging) het beloof om die kanselbybel te skenk, terwyl die Sondagskool die haan op die kerktoring sou betaal. Die doopvont, wat pas by die preekstoel en kerk, sou geskenk word deur ouderling WCE van Wyk, wat dit self sou maak uit akasiahout uit Palestina. 'n Blok van die hout is verkry met die hulp van ds Reyneke, ouderling Swanepoel en sy broer, en lede van die Joodse gemeenskap. Omdat die hout te nat was, kon die doopvont eers op 6 Februarie 1955 in gebruik geneem word. Die doopbakkie is geskenk deur die gesin Piek.

       Die geskiedenis van die doopvont sou op skrif gestel word vir bewaring in die gemeentelike argief, en die betrokke lede van die Joodse gemeenskap, wat toe ook die skeepsvrag betaal het, is na die diens uitgenooi.

       In 1961 het ouderlinge Koos Burger en Bennie van der Merwe 'n stel kollektebordjies gemaak en aan die gemeente geskenk. Dit is vervang met 'n nuwe stel, gemaak en geskenk deur Armand du Plessis, en in gebruik geneem op 4 Junie 2000 - vyf dae voor sy dood.

       Die huur van die Moggsaal is beëindig op 31 Oktober 1952, en die gebou sou herstel word tot sy oorspronklike inrigting: mure wat uitgebreek was, moes weer gebou word, ens. Die stene van die skulddelgingsmuurtjie sou in die aanlooppaadjie na die hoofdeur van die kerk ingemessel word. (Die laastes hiervan is nog te sien in die vorm van 'n driehoek aan die oostekant van die ingangsportaal.)

 


Tydens die ruil-en-kooptransaksie van die kerkerf tussen die Kerkraad en die Stadsraad het laasgenoemde onder meer die volgende voorwaardes gestel:

     dat, indien die eiendom eenmaal nie meer vir kerklike doeleindes gebruik word nie, die grond en geboue wat daarop mag wees sonder vergoeding na die Stadsraad sal terugval (5/11/51), en

     dat daar genoeg parkeerruimte binne die kerkterrein verskaf word sodat daar staanplek vir een motorkar is vir elke 20 sitplekke in die kerk (3/12/51) . . .

 

"Word wakker, noordewind, kom, suidewind! Waai deur my tuin!"

 

In Augustus 1952 bekragtig die kerkraad die betaling van 'n rekening vir die aankoop van bome vir die kerkterrein. 'n Tuinkommissie word benoem vir die opruim, beplanning en uitlê van die kerkgronde, met die hulp van die gemeente. Aanplant van slegs inheemse bome, sommige van die seldsaamste soorte, word beoog - ongeveer 140 bome en struike altesaam, met leiklippaadjies tussenin.

 

"Prys die Here! Prys Hom met die ramshoring, . met harp en lier! . met snaarinstrumente en fluite! ."

Ook met die harmonium in die Moggsaal - geleen deur die gesin Piek. En met die orrel, en solosang en koorsang en gemeentesang . . .

 

       Die gemeentesusters het hulle ten doel gestel om die kerkorrel - die "koningin van die instrumente" - kontant te betaal. In Maart 1952 verklaar die orrelkommissie dat 'n pyporrel te alle tye bo ander fabrikate verkiesbaar (sic) is, maar dat, kostegewys, die aankoop van 'n elektroniese orrel ondersoek word. Die firma SA Orrelbouers het egter met 'n voordeliger aanbod na vore gekom: installering van 'n pyporrel teen 'n verlaagde prys van ,1,975 deur sekere gebruikte dele in te bou. Deur goedgunstige samewerking van die bestuurder, mnr Van Loon, is die orrel binne ses maande geïnstalleer en kon dit feestelik ingewy word gedurende die naweek van 6 en 7 Junie 1953. Die orrelis by die geleentheid was ds WEH Söhnge, en die wydingsdiens is waargeneem deur ds CB Brink, Moderator, NH of G Kerk.

       Die eerste orreliste van die gemeente was mej MR de Villiers, met mev BJ Stander die koorleidster. Na mej De Villiers het gevolg mej Y Voges, en van Mei 1953 tot Maart 1960 doen mev A van der Gryp diens as orreliste, met koorleiding. Mnr TP Coetzee (April 1960 tot Mei 1979) word opgevolg deur mev Sheilagh de Villiers (Junie 1979 tot Desember 1989), mev Hester Ackermann (1990 tot 1996) en sedertdien mnr Johann Dednam, met uitgebreide taak as orrelis, koorleier en leier/afrigter van die Pierneefsanggroep. Dié groep, met instrumentaliste, het ontstaan as Pierneef se Sondagaandsanggroep onder leiding van Albert Kotzé. Die groep het aanvanklik net voor die aanddienste opgetree, totdat hierdie alternatiewe wyse van sing as wesenlike deel van die gemeentelike sangbediening aanvaar is. Tans is die groep volledig verantwoordelik vir die sang en musiek tydens die aand-dienste, asook minstens een lofprysingsdiens per maand in die oggende.

       Verskeie sangleiers was voorheen deur die jare behulpsaam met voorsang en die aanleer van nuwe liedere. Geen wonder nie dat besoekende predikante telkens gewag maak van Pierneef se hartlike sang.

 

DIE EERSTE KWARTEEU:

'N GEMEENTE GROEI TOT VOLWASSENHEID

 

Ses predikante het in voltydse hoedanigheid die gemeente bedien in hierdie tydperk.

 

Ds HJC REYNEKE : 21 JANUARIE 1951 - 31 JANUARIE 1954

       "Die begin en aanvoorwerk van 'n gemeente vereis dit: Daar moet oorgawe aan die Heer wees, met die vaste vertroue dat Hy wat roep, sal voorsien." - Ds HJC Reyneke: Kerkraadsnotule, 6 Februarie 1951.

       In hierdie drie jaar is die fondamente gelê vir die funksionering van 'n gemeente wat ná 50 jaar met dankbaarheid kan terugkyk - dank aan die Here wat sy kerk onderhou, en dank en hulde aan "so 'n skare geloofsgetuies rondom (en voor) ons . . . ". Hegte bande is gesmee tussen gemeente en leraar, deur krisistye heen - 'n basis waarop deur opvolgers steeds voortgebou sou word.

       Naas die ideaal van kerkbou as eerste doelwit, is die gemeentelike werkprogram op 'n stewige grondslag geplaas: Kerkraad, kerkraadswyke, Sondagskool, sending - in samewerking met die Sendingkommissie, asook die werk van die Transvaalse Vrouesending vereniging (TVSV)-, die Kindersendingkrans (KSK)- en die Mannesendingbond (MSB)-takke (laasgenoemde gestig in 1952). Die bestaande Pierneeftak van die Strewers het oorgegaan in die Kerkjeugvereniging (KJV).

       Deur skakeling met die Christelike Maatskaplike Raad van Pretoria en versorging van hulpbehoewendes binne die gemeente is barmhartigheidsdiens bewys.

Met die totstandkoming van die Laerskool Pierneef is die gemeente betrek deur die bemoeienis van ds Reyneke, in samewerking met die betrokke gemeentes van die susterkerke.

 

"DIE GEMEENTE IS GESTIG OM TE BESTAAN TOT DIE WEDERKOMS VAN CHRISTUS, EN TOT DAN MOET DAAR GETROUHEID WEES". Mag hierdie profetiese woorde van ds Reyneke die gemeente van Pierneef steeds inspireer in die geloof.

(Ds Reyneke is van Pierneef na die gemeente Bethlehem-Môrelig. Hy is oorlede op 27 Maart 1977 en is begrawe in Clarens. Mev Reyneke is tans 'n inwoner van die ouetehuis in Harrismith.)

 

Ds WJ MEINTJES : 16 MEI 1954 - 8 APRIL 1956

       Toe proponent WJ Meintjes op 16 Mei 1954 in Pierneef georden en bevestig is, was dit in 'n gemeente wat reeds op vaste voete staan. Sy uitgesproke wens soos aan die gemeente gestel was een van hartlike samewerking in die diens van die Meester. Hierdie wens is nooit beskaam in die korte twee jaar wat hy die gemeente gelei het nie.

       Naas die gereelde werksaamhede het Pierneef in hierdie tyd begin met die aanvoorwerk vir die bou van 'n saal op die erf langs die kerk, aangekoop met 'n skenking van mev Hough, 'n gemeentelid. Die geestelike welstand van gemeente en gemeenskap was ter sake, met ernstige sorg oor Sabbatsontheiliging van uiteenlopende aard, met gevolglike vermindering in kerkbywoning, veral saans. Voorts is met verskeie gemeentes geskakel met die oog op beroeping van 'n evangelis vir die omgewing, met entoesiastiese aandeel van die plaaslike MSB-tak, die TVSV en die KJV. Ook het Pierneef geldelik bygedra tot die Sendinggemeente Noordelike Pretoria en die bouprogram te Hammanskraal.

       Met sy vertrek na Voortrekkerhoogte het ds Meintjes Pierneef gegroet met die woorde: Hy is die Here; laat Hom doen wat goed is in sy oë. (1 Sam. 3:18) - "Mag dit waarlik u en my ondervinding in hierdie roepstem wees."

 

(Ds Meintjes is kort hierna getroud met mej Fransie de Villiers, van Pierneef. Hy is in 1984 oorlede.)

 

 

Ds GJV BELL : 5 AUGUSTUS 1956 - 4 NOVEMBER 1962

       Die bedieningstyd van ds Bell het verloop teen die agtergrond van sy uitspraak dat hy "…nie gekom het om groot dinge tot stand te bring nie, maar om die Naam van die Here te verheerlik." Dit sou dan ook die gemeentelike werksaamhede die volgende jare kenmerk.

       'n Besondere geleentheid was die ingebruikneming van die kerksaal op 20 Junie 1958, waar 'n dankbare gemeente kon bely : Nie aan ons, o Here, nie aan ons nie, maar aan U Naam, gee eer, om U goedertierenheid, om U trou ontwil.

       Christelike deernis en liefdevolle meelewing binne en buite gemeentegrense spreek uit die werksaamhede, waar byvoorbeeld besondere aandag gegee is aan die geestelike welsyn van gemeentelede. Probleme met kerkvervreemding, afname in kerkbesoek en die verskynsel van "geestelike traagheid" het aandag geniet - met gunstige reaksie op onder andere 'n evangelisasieaksie en opvolging daarvan kort voor Pinkster in 1960. Voorsiening van geestelike leesstof is gesien as hulpmiddel hierby en kolportasie is getrou voortgesit, terwyl ondersteuning ook aan die Christelike lektuurfonds gegee is.

       Pierneef het steeds sy sendingtaak met erns benader, en die verskillende sendingaksies het getrou bygedra tot sendingondernemings: die TVSV (nou VSB) aan die Laeveldse Sendingstasie, aan Maandagshoek, die Groothoek-hospitaal en ook Swaziland-sending; die MSB hoofsaaklik aan die Filadelfia-sendingstasie; die KSK het bygedra vir 'n kinderhuis by Dingaanstat, 'n babakamer by die Vlakfonteinse kraaminrigting, 'n skool vir blindes by Klipspruit, en bearbeiding van Indiërs en Kleurlinge, en die Sondagskool se bydrae het gegaan na die Saulspoort-sendingstasie. Die KJV-lede het Sondae aktief deelgeneem aan die Marabastad-sendingaksie.

       Die MSB begin met die reël van garagedienste in die gemeente, asook 'n jaarlikse sendingnaweek of -week. Ook het Pierneef se jarelange betrokkenheid by die sending-gemeente te Elandsrivier 'n aanvang geneem. Voortgesette groei in getalle (1 051 lidmate, 1 741 siele, 452 gesinne - 1961) bring mee dat daar gekyk moes word na verligting van die leraar se werklas, om die volle geestelike behoeftes van die gemeente te akkommodeer. 'n Begin is gemaak met die hou van twee eredienste gelyktydig, met bykomende hulp van elders. So is die twee emeritusleraars di BA Spies en P Swart vir tydperke in die gemeente betrek.

       Ds Bell en gesin verlaat die gemeente in November 1964, met sy benoeming as mede-hoofsekretaris van die Christen-Studentevereniging (CSV), te Stellenbosch. Hy het in . . . . geëmeriteer en die egpaar woon tans in Pretoria.

 

Ds JNF O'KENNEDY : 24 MAART 1963 - 24 APRIL 1966

Pierneef Kerksaal : 22 Maart 1963 - Die ontvangs

Die seremoniemeester, ds Jac JS Botha, aan die woord : Hy wil nou graag vir ds O'Kennedy aan die gemeente voorstel. Almal praat van dié O'Kennedy, maar nie een van ons ken die ou nie! Waarop ds O'Kennedy antwoord : "Hoekom het julle dan maar nie vir Bell gevra om te bel nie?" (Oom Louis Pistorius).

       Met hul koms na Pierneef vanaf Transkei-sending het ds en mev O'Kennedy 'n besondere tradisie kom voortsit, naamlik dié van 'n pragtige vyftal kinders - soos ds Reyneke voor en ds Botha na hulle, en etlike van hul bure in 25ste Laan: die gesinne Goosen, Lemmer, Coetzer, Robinson en mev Riekie Coetzee (voorheen mev De Villiers), eggenote van orrelis Pierre Coetzee!

       Ds O'Kennedy het sy bedieningstaak gesien teen die agtergrond van die stryd teen die magte van die bose. So 'n stryd kan slegs gevoer word in die gesindheid van eenheid en onselfsugtigheid, na die voorbeeld van Christus. Met die oog op geestelike versterking van die lede sien hy die gemeente as 'n oesland - met erkenning aan die voorgangers wat gesaai het. Oestyd vereis arbeiders en masjinerie - wat geskep moet word waar nodig. (Dit sou uitloop op die beroeping van 'n medeleraar.)

       Evangelisasie binne en buite gemeenteverband is voortgesit. Aan die hoërskooljeug is besondere aandag gegee, met die stigting van 'n JuniorKJV-tak op 30 Januarie 1964, terwyl die ander jeugwerksaamhede voortgegaan het. (Ds O'Kennedy se belangstelling in die jeug het gelei tot sy verkiesing tot voorsitter van die KJV-Ringsunie in 1965.) Op 12 Oktober 1963 het Elandsrivier-sendinggemeente sy kerkgebou ingewy, en die geleentheid is bygewoon deur 'n aantal belangstellende lidmate.

       Bykomende arbeid vir die oesland is verkry in die persoon van 'n finalejaar-teologiestudent, mnr S Vogel, vanaf 1 Desember 1963. So 'n reëling sou egter net as tydelik beskou word, en daarom het Pierneef in Februarie 1964 besluit dat die tyd ryp is om 'n tweede leraar te beroep. Twee erwe in 32ste Laan is gekoop van die SA Spoorweë, waarop met die bou van 'n tweede pastorie begin is.

       Maar - voordat die pastorie klaar was, was die bewoners reeds daar! Met groot dankbaarheid teenoor die Here wat steeds sorg, het Pierneef sy eerste medeleraar ontvang in die persoon van . . .

 

Ds JC CROTS : 13 DESEMBER 1964 - 26 AUGUSTUS 1968

       In navolging van Paulus se oproep tot die ouderlinge van Efese in Hand. 20:28: Gee dan ag …, roep ds Crots ook die gemeente van Pierneef op om bedagsaam, arbeidsaam en met geesdrif te werk. Dit sou nodig wees, waar die sieletal met die 1965-opname reeds op 1 906 gestaan het, met 1 192 lidmate en 513 besoekpunte.

       Met die oog op die vrugbaarste bearbeiding van die gemeente is 'n werkindeling opgestel. Die twee leraars sou gesamentlik verantwoordelik wees vir leiding in eredienste, sakramentbediening, bidure en kerkraadsvergaderings, en die verskillende verenigings. Vir huis- en siekebesoek, huwelike en begrafnisse was elke leraar verantwoordelik in 'n eie gebied, met 26ste Laan as verdeling tussen oos en wes. Ds Crots sou die oostelike deel bearbei. Toe hy en sy gesin in Augustus 1965 die voltooide pastorie in Heckroodtlaan betrek, is sy verbintenis met dié deel van die gemeente, wat nog . . . . . . . jaar sou voortduur, bevestig.

       In die loop van die geestelike bearbeiding van die gemeente het veral die onbevredigende bywoning van aanddienste en bidure steeds aandag geniet. 'n Verskynsel van dié aard sou van tyd tot tyd aanleiding gee tot oproepe ten gunste van afstigting, wat dan intensiewer bearbeiding tot gevolg sou hê.

       Intussen het daar nog sestien maande se harde en hartlike samewerking tussen die twee leraars gevolg, totdat ds O'Kennedy in April 1966 na sy nuwe gemeente in Rondebosch vertrek. Tydens die vakature is tydelike hulp verleen deur ds JA Malherbe, tot met die bevestiging van . . .

 

Ds A BOTHA : 14 AUGUSTUS 1966 - 31 DESEMBER 1978

       Ook nou volg 'n tydperk van hartlike en openhartige samewerking tussen die twee leraars. Geleidelik het die werksaamhede egter spontaan verdeel in twee afdelings: Sondagskool en katkisasie, die Sustersvereniging vanaf 1 Januarie 1968 in twee takke, bydraes is aangeteken volgens "oos" en "wes" . . .

       Argumente teen afstigting was daar wel. Daarom is die aangeleentheid met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid ondersoek: Wat is die eis ten opsigte van die uitbreiding van God se koninkryk? Aan sy kinders wat in biddende afhanklikheid opsien na Hom gee die Here die antwoord: Onbeboude grond het begin skaars word in die omgewing. Die SA Spoorweë het erwe in Heckroodtlaan vrygestel vir verkoop - en Pierneef se aanbod is aanvaar in November 1967.

       In Julie 1968 is die gemeente Pierneefrant afgestig, met 28ste Laan (albei kante) as grens tussen die twee gemeentes. As bruidskat ontvang die dogtergemeente die pastorie en drie leë erwe in Heckroodtlaan, asook 'n bedrag van R10 000, waarvan die eerste R5 000 betaal sou word met aanvang van kerkbou, en die tweede met ingebruikneming - mits die tweede leraarspos in Pierneef verval. Albei die gemeentes het gebruik gemaak van die bestaande kerkgebou tot einde 1968, waarna Pierneefrant die lokale van die laerskool gebruik het.

       Elandsriviersendinggemeente, so lank reeds gekoester deur sy voogde in Pierneef, sou die verantwoordelikheid van albei gemeentes word. Uit die bydraes vir Elandsrivier is ook 'n kerkgebou op Schilpadfontein opgerig en op 24 Februarie 1968 ingewy.

       Ds Crots, wat as eerste leraar na Pierneefrant beroep is, het op 25 Augustus 1968 demissie ontvang van Pierneef.

       Sy feesboodskap met die verjaardagviering van Pierneef op 2 Oktober 1966 sluit ds Attie Botha af met die oproep: "Hierdie gemeente moet in die jare wat voorlê steeds 'n gemeente van Christene bly - Christene wat die naam waardig is vanweë die belydenis van Sy Naam, die toewyding van hulle lewe, die stryd teen sonde, die oorwinning in hulle Verlosser." Hy skets vervolgens die stand van sake van al die verenigings in die gemeente: die (Senior) KJV, wat "…trag om die jongmense te mobiliseer en 'n diensarm van die gemeente te maak", die Junior KJV, "'n besonder ywerige tak", die Kinderkrans, met 13 wykstakke met hulle ywerige en toegewyde leidsters, die Sondagskool met meer as 500 kinders (vóór afstigting), en die aandeel van die vrouelidmaat in die gemeente, in die Sustersvereniging, die TVSV, en by die vrouebidure.

       Na afstigting het Pierneef ywerig voortgebou op al dié terreine, tesame met sending en evangelisasie. In Julie 1969 word 'n gestadige verbetering in bywoning van eredienste en bidure berig, terwyl bydraes met 25% toegeneem het. Pierneef het toe 685 belydende en 375 dooplidmate getel, met 297 besoekpunte - wat spoedig weer pastorale hulp vereis het. Vanaf 1970 het proponent (dr) W Prinsloo en finalejaarteologiestudente JC (Cassie) Carstens, E Rischmuller, MJ Lazenby en MJ Badenhorst kanselhulp verleen. (Teologiese kandidaat MJ Lazenby lewer ook sy proefpreek in Pierneef gedurende 1974.) Vir 1977 sou daar nie van studentehulp nie, maar wel van preekhulp gebruik gemaak word - onder andere van die dienste van dr (later prof) AJ Smuts, op daardie stadium 'n gemeentelid en pastorale sielkundige in Sinodale diens.

       In 1973 is die aantal sitplekke in die kerk vermeerder met 50 deur omskepping van die portaal en aanbouing van 'n nuwe, tesame met ander nodige verbouings aan die kerkgebou. 'n Lidmaat van die gemeente, WA Steyn, was die argitek.

       Met die oog op beter funksionering van die gemeente op die verskillende terreine word die benaming "vereniging" vervang met "-aksie", met verteenwoordiging op die betrokke kerkraadskommissies. Kontak word steeds gehou met Elandsrivier, wat berig dat 'n nuwe gemeente in 1976 gestig word op Mabaleng.

       Die jeug geniet hoë prioriteit - die kind is deel van die gemeente vanaf geboorte. In 1975 word begin met kleuter-kategeseklasse. In Februarie 1977 rapporteer die leraar dat daar "geen jeugverwildering in die gemeente is nie en 'n minimum jeugprobleme." Tog was deelname aan die SKJA en BKJA onbevredigend. Daarmee saam is 'n behoefte aan verdieping van die geloofslewe in die gemeente uitgespreek. Dié aspekte sou aandag geniet in toekomstige beplanning, soos aanbeveel tydens 'n simposium oor kerklike beplanning (Die NG Kerk op pad na 2000).

       Ds Botha sou egter nie deel hê aan die beplanning of die uitvoering daarvan nie. Hy ontvang demissie met ingang van 1 Januarie 1978, weens sy benoeming as predikant in sinodale diens met opdrag Diens van Barmhartigheid in die sinode van Noord-Transvaal.

(Na emeritering het ds en mev Botha op Lichtenburg gaan woon, waar hy oorlede is in . . . .)

 

DIE TWEEDE KWARTEEU : DIE BRUID MAAK HAAR GEREED . . .

 

       Met volwassewording kan die gemeente - die bruid van Christus - met verwagting vorentoe kyk. Soos die Here Pierneef in die eerste kwarteeu gedra het, so sou ook die tweede kwarteeu getuig van sy getroue voorsiening.

       Na die uittrede van ds Botha word die eerste beroep uitgebring op, en aanvaar deur . . .

 

DR MTS ZEEMAN : 31 MAART 1978 - 25 JANUARIE 1987

       In die "pylvak" van sy bediening pak dr Tienie Zeeman sy taak in Pierneef aan aan die hand van 'n tweeledige doelwit, naamlik die uitdra van die Skrifwaarheid tot opbou van die geloof, en versterking van die onderlinge liefdesband in die gemeente.

       Die doelwit is verwesenlik deur betrokkenheid op al die terreine van die gemeentelike lewe - en selfs daarbuite. 'n Groot aantal gemeentelede het deelgeneem aan gemeentebou- en evangelisasiekursusse, met uitreiking na die middestadgemeentes Meintjeskop en Burgerspark, en die Engels- en Portugeestalige gemeentes. Uitreiking op sendingvlak het gerealiseer in samewerking met die kerkraad van Mamelodi-Noord, aan wie die saal beskikbaar gestel is vir dienste op Woensdagaande, waar ook Bybelstudie en noodhulp-klasse aangebied is. Ook het die Thusanangklub vir vroue tot stand gekom, waar kookkuns-, naaldwerk- en lees-en-skryfklasse aangebied is, met geestelike bearbeiding daarby. Die bydraes aan die betrokke sendinginstansies is volgehou, met byvoeging van Zoeloeland-sending (Empangeni), terwyl 'n leerling aan die Helene Franz-skool vir gestremdes as "pleegkind" aangeneem is. Plaaslik is ook bygedra tot die onderhoud van 'n swart geestelike werkster, en die gemeente kon deel in die vrug van hierdie arbeid deur betrokkenheid by die jaarlikse ringsendingfees.

       Die erediens is verruim deur die instelling van die selfbringstelsel van die dankoffers, en met uitsonderlike meelewing het die gemeente sy barmhartigheid uitgeleef deur ruim finansiële ondersteuning van verdienstelike gevalle. In die eredienste is besondere aandag gegee aan kerkmusiek, met die ingebruikneming van die nuwe, uitgebreide Psalm- en Gesangboek en die eerste Jeugsangbundel, terwyl Pierneef in 1983 kon deel in die Bybelfees 50, met die ontvangs van die nuwe Afrikaanse vertaling. Oudiovisuele hulpmiddels neem hul plek in by 'n informele inrigting van die aanddienste, en wyksbybelstudie- en gebedsgroepe versterk die onderlinge bande. 'n Hoogtepunt vind plaas op 28 November 1982, met die voorstelling van die eerste vyf vrouediakens: Rina Botha, JM de Beer, Linda du Toit, Irene Pienaar en Christa van Rensburg!

       Senior lidmate en die jeug word versorg : die eerste met die totstandkoming van die Aksie Senior Lidmate (ASL), en die tweede met besondere bearbeiding opeenvolgend deur finalejaar-teologiestudente Alwyn Burger, Henk Zeeman, Willie van Heerden, Leon van der Merwe, André Lourens, Willem Pretorius, Appie Pienaar en Gerhard Botha - en met die kry van 'n eie tuiste in die NES!

       Met sy afskeid op Sondag, 25 Januarie 1987 kon dr Zeeman met oortuiging Paulus se woorde aan Timoteus herhaal (II Tim. 4:7): Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Hy spreek egter ook die teleurstelling en versugting - van stellig elke predikant in bediening - uit oor "… mense wat volhard in kerkloosheid en louheid, ander wat aan dwalinge bly vasklou …" Maar : "… die Heilige Gees sal sy ware kinders op sy tyd verander en oortuig van die waarheid en dat hulle hulle tot Hom moet bekeer. Mag dit tog gou gebeur!"

 

DS/DR MJ LAZENBY : 29 MAART 1987 TOT TANS

OP PAD NA 2000 : PIERNEEF IN VERNUWING

       Veranderinge op alle lewensterreine in die laaste dekades van die 20ste eeu sou Pierneef nie verbygaan nie. Deur gebruikmaking van die beskikbare tegnologiese hulpmiddels word 'n vaartbelynde gemeente-administrasie daargestel. 'n Kantoor/spreekkamer vir die leraar word ingerig in die vroeëre moederskamer, met 'n kantoor vir die skriba in die ou kassierskantoor. Vasgestelde kantoorure vergemaklik toeganklikheid en werksaamhede.

STRUKTURERING

       Uitgaande van die konsep van 'n gemeentesentriese bedieningspatroon is die gemeentelede betrek by beplanningswerkwinkels en gawesontdekkingskursusse, ten einde te bepaal in watter bedieningsfeer elkeen hom/haarself ten beste kan ontplooi in sy/haar gemeente- en Koninkryksdiens. Alle vrouelidmate is volledig geïntegreer in die werksaamhede van die verskillende gemeentelike kommissies en/of diensgroepe.

Op 4 November 1989 is die eerste vroueouderling (mev Marie van Wyk) in Pierneef bevestig, en sedertdien is die optrede van 'n vroueprediker nie meer vreemd vir die gemeente nie.

       Implementering van die blokstelsel bevorder enersyds meer toegespitste kerkraadsbediening en andersyds wyer onderlinge betrokkenheid.

 

EREDIENS

       Besondere aandag word deurlopend gegee aan alle fasette van die erediens, ten einde tred te hou met veranderende omstandighede en eietydse behoeftes. Fyn beplande kleurskakerings skep 'n besondere atmosfeer in die liturgiese ruimte, tesame met die permanente plasing van die nuwe doop- en nagmaalsimbole, terwyl byvoorbeeld blomme of kerse aanvullend aangewend word. Wisseling in die orde van die liturgie en 'n geïntegreerde musiekbediening dien tot verryking in die geestesbelewing van die gemeentelid. 'n Bedieningstema word jaarliks geformuleer in aansluiting by die gemeente se visie vir die jaar se werksaamhede, en as fokuspunt aangebring in die liturgiese ruimte. In 1996 het dit gelui : PIERNEEF GROEI, in 1997 PIERNEEF GEE OM, in 1998 PIERNEEF RAAK BETROKKE, in 1999 HIER'S MY HAND, en in 2000 PIERNEEF 50 : JUBEL OOR JESUS.

 

SENDING & EVANGELISASIE : DIE MISSIONÊRE TAAK

       Tot met die aanbreek van die nuwe staatsbestel in 1994 het die weeklikse werklas- en ander aanbiedinge met veel seën voortgegaan. Omdat die werk neergekom het op bearbeiding van lidmate van die destydse NG Kerk in Afrika en die NG Sendingkerk, was daar dus nie meer sprake van sending as sodanig nie. Die taak sou gevolglik opgaan in die Kommissie vir Ekumene en Evangelisasie, terwyl finansiële bydraes gekanaliseer is na die werk van die NG Sendingkerk onder die Mosambiekse vlugtelinge. Pierneef se aandeel in middestadbediening is uitgebrei na Arcadiagemeente, met ontbinding van die gemeente Meintjeskop. Naas finansiële bydraes, beoog die gemeente ook fisiese hulp ten opsigte van die hospitaalpastoraat Hospivisie. Uitreiking na die onmiddellike omgewing vind plaas sedert 1997 deur die verspreiding van 'n maandblaadjie Hier's my hand.

 

FINANSIES

       Naas die maandelikse dankoffers wat steeds na die kerk gebring word, bring gemeentelede jaarliks in Oktober - die tiende maand van die jaar - 'n spesiale dankoffer; gewoonlik gepaard met 'n besondere dank- en getuienisdiens. Voorts lewer die gemeentebasaar - met enkele uitsonderinge sedert 1988 weer 'n jaarlikse instelling - meesal rekordbedrae geld op, wat meehelp dat Pierneef vanaf 'n gesonde finansiële basis kan funksioneer. ('n Gedeelte van die pastorie-erf is reeds in 1995 afgesny en verkoop ter stywing van kerkfondse.) Binne- en buitegemeentelik word barmhartigheidsdiens bewys waar ondersteuning nodig is. (Gevalle van werkverlies?? - HS.) 'n Lofwaardige projek is die "aanneming" van 'n huisie (nommer 2) by die Jakaranda-kinderhuis (voorheen Abraham Kriel) in East Lynne.

 

AKSIES EN AKTIWITEITE

       Bepaalde ouderdoms- en belangegroepe funksioneer binne aksies waar in hulle behoeftes voorsiening gemaak word: die Tieneraksie (TA), wat nou funksioneer as CK's (Christuskinders); die BKJA; AKSIE SWOEG, (almal tussen veertig en sestig jaar); die TUSSEN-INNERS, van dertig tot veertig; die VROUEAKSIE, en die ASL, vir die senior lidmate.

       Aktiwiteite op soveel terreine, en met die leraar se betrokkenheid op wyer kerklike terrein asook sy doktorale studie oor kerklike lidmaatskap in die NG Kerk (met verkryging van die graad DTh in 1994 aan Unisa), noodsaak pastorale hulp. Permanente hulp sou egter aan Pierneef voorsien word in die persoon van . . .

 

DS NJ ACKERMANN : 7 FEBRUARIE 1988 - 25 AUGUSTUS 1996

       Na sy terugkeer uit Frankryk waar hy werksaam was as kapelaan met opdrag buitelandse bediening, en waar hy tuis nie direk gekoppel sou wees aan 'n militêre gemeente nie, moes ds Ackermann as deeltydse predikant aan 'n siviele gemeente verbonde wees. Sy beroep na Pierneef was uitsonderlik, met net een naam op die groslys!

       Sy dienstyd in Pierneef het hy hoofsaaklik aan twee terreine gewy, naamlik die senior lidmate en die jeug, insonderheid as hoof van die kategeseskool, met 'n kwota preek- en ander kanselverwante verpligtinge, waaronder die beurtelingse jaarlikse Pinksterdienste.

       In 'n gemeente waar die fisiese en organisatoriese strukture so goed funksioneer, het ds Ackermann met ywer en groot vrug kon bou aan geestelike strukture - veral rondom die ASL. Hy kon voortbou aan die stabiliteit wat hy in Pierneef ervaar het, van gemeentelede wat byvoorbeeld meer as veertig jaar in dieselfde huis gebly het, en tegelyk ook aan die vernuwing, soos die tyd geëis het.

       Met sy uittrede in 1996 uit die Weermag, waar hy steeds betrokke was by Kapelaansdienste, het ds Ackermann tegelyk by Pierneef uitgetree - die gemeente wat hy met waardering bestempel as "… merkwaardig, … met 'n stadsgesig en 'n gelowige plattelandse hart."

 

ONS TENTMAKERS!

       Die leemte wat met ds Ackermann se vertrek ontstaan het, is gevul deur die broers dr AGS (Gustav) GOUS en prof IG (Ig) GOUS, albei in die hoedanigheid van tentmaker. (Gustav praktiseer as pastorale berader en Ig is mede-professor verbande aan die Departement Ou Testament by Unisa.) 'n Merkwaardige gebeure met hul bevestiging op 22 November 1998: die kanselrede is gehou deur hul broer, dr HJ (Henk) Gous, predikant in die gemeente Quellerina (Roodepoort), en die bevestiging is waargeneem deur hul vader, die bekende dr AGS (Andries) Gous. Die arbeid onder die jeug baat veral hierby, waar die junior- en senior kategese, asook die kindereredienste as hul besondere opdrag toegeken is. Verder hou hulle kontak met die gemeente deur gereelde erediensaanbiedinge.

 

DIE "BRUID" VERGEET NIE HAAR KLEIN EN GROOT FAMILIELEDE NIE … - SPESIALE PROJEKTE

 

Met die instemming tot kinderdeelname aan die nagmaal deur die Sinode, het Pierneefgemeente sedert 1999 met vrymoedigheid ook sy dooplidmate wat hulself daartoe begerig getoon het, ingetrek in deelname aan hierdie wonderlike herdenkingsmaaltyd.

       En waar, vanweë 'n oënskynlike verskuiwing in die ouderdomsprofiel van die gemeente, die behoefte aan 'n moederskamer opnuut geblyk het, is die ruimte onder die galery in die loop van 1998 vir dié doel ingerig.

       Die "familie" sien met verwagting uit na Pierneef 50 - het hulle dan nie kliphard gewerk (en is steeds besig!) om hul huis in orde te bring nie? 'n Doelmatig gemoderniseerde kombuis staan gereed vir die feesvieringe rondom 30 September 2000!

 

… BAIE MEER AS EDELSTENE

'n Knap vrou is baie werd . . . Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk.

 

       Die vrou van Spreuke 31:11-31 dien as rolmodel vir elkeen van die pastoriemoeders/predikantsvroue wat aan die sy van haar man vir korter of langer tyd in Pierneef gedien het. Waar hy saam met die leiers beraadslaag, pak sy die werk aan met krag

 

Mev Reyneke, gebore en getoë Vrystater, het op baie jong leeftyd predikantsvrou geword. Ook hier in die destydse Transvaal het sy haar werk met krag aangepak: Ervaring, saam met haar man, van ander pas gestigte gemeentes, het meegebring dat sy deur goeie organisasie die werk van die susters in Pierneef op 'n stewige fondament kon plaas. Hoewel ietwat stil en terughoudend van geaardheid, het sy haar volle ondersteuning gegee in die reuse taak wat Pierneef se susters hulself opgelê het, naamlik om die orrel kontant te betaal. Hoeveel dosyn koeksisters in die pastoriekombuis in die twee jaar gebak is?! Sy was ook lief vir naaldwerk, veral ook breiwerk - Sy maak wol en vlas bymekaar en geniet dit om dit te verwerk …

       Die Reyneke-egpaar was die eerste van drie vir wie 'n vyfde kindjie gebore sou word vanuit Pierneef se pastorie.                                                                          (Mevv Thirza van der Merwe / Bettie Goosen)

 

Mev Hannah Bell, skryfster van kinderverhale, en steeds aktief op dié terrein - Lief vir kinders, rustig, en ook baie fluks in gemeente- en sustersbedrywighede. As een groot familie het hulle saamgewerk, -geleef, -gebid. 'n Biduur onder haar leiding was 'n gees- en hartversterkende ervaring. Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie.

       Sy het haar man ten volle ondersteun waar hy nooit enige eer na hom wou laat toekom nie - selfs nie 'n formele afskeid met hul vertrek uit Pierneef nie!                             (Mevv T van der Merwe / B Goosen)

 

Mev Sienie O'Kennedy, dogter van 'n sendingdokter (Oom "Tommie" Steyn van Morgenster), het by uitstek 'n sendingingesteldheid gehad. Sy het besondere leiding gegee aan, en waardering betoon vir, die Kindersendingkransleidsters, met nadruk op die bewusmaking van die kind van sy volwasse geroepenheid. Haar leuse was: "Voed die kinderhart met betrokkenheid in God se arbeidsveld."

       Sy het 'n eenheidsband gesmee met die gemeentesusters in die breë, was liefdevol en erkentlik, en word onthou as 'n goeie spreekster - As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde. (Die O'Kennedys was die tweede predikantspaar wat tydens hul verblyf in Pierneef 'n pastoriebaba gehad het - ook die vyfde in die gesin!)

(Mevv Marie van Wyk / Lettie van Niekerk)

 

Mev L Crots word onthou as 'n vrou wat in noue verbondenheid met haar Here geleef het - As sy die Here dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word … Stilweg en in beskeidenheid het sy haar verantwoordelikhede met toewyding vervul, en daardeur 'n warmte uitgestraal wat veral by die ouer geslag en gemeentevroue aanklank gevind het. 'n Baie liewe vrou, wat hard gewerk het, in haar deel van die gemeente.

(Mevv Marie van Wyk / Martie Bartman)

 

Mev Marie Botha: Tydens hul dienstydperk het die Vroueaksie momentum gekry, en onder mev Botha se leiding is heelparty fondsinsamelingsprojekte deur die gemeentevroue onderneem, met geldelike donasies aan verskeie instansies. Benewens dit, was sy die praktiese huismoeder, 'n ware tuisteskepper ... Sy hou goeie toesig oor haar huishouding … Met prysenswaardige aanvaarding het sy hul spesiale kindjie, Louise - ook die vyfde in die gesin, gebore vanuit Pierneef se pastorie - gesien as 'n spesiale gawe van God, en haar liefdevol versorg, tot vandag toe.

       Oor vroue se skugterheid om deel te neem aan openbare gebed, het mev Botha by geleentheid gesê: "Hoe leer 'n kind loop? - Deur eenvoudig te begin loop! Hoe leer ons bid? - Deur eenvoudig te begin bid!"

(Mev Marie van Wyk)

 

Mev Marie Zeeman: Opreg, warm, liefdevol; innig verbonde aan haar Here - Keurig en netjies is sy in alles, so ook in die voorbereiding van haar boodskappe vir haar "vrouentjies" of die Kinderkranskinders. Verjaarsdag- en ander kaartjies, of die inskrif in Bybels vir dopelinge, word geskryf in sierskrif, met 'n persoonlike gedagte daarby. Gasvry - Sy staan op as dit nog nag is en maak kos vir haar huisgesin; ook haar slavinne kry hulle deel. So was sy die spilpunt waar rondom die Thusanangklub tot stand gekom het.

       Deur haar bedagsaamheid en belangstelling kon sy, waar nood was, troos en steun en, met die wysheid van ervaring, raad gee. Dankie, Tannie Marie!

(Mev Thea Oosthuizen)

 

Mev Hester Ackermann: Haar hande staan vir niks verkeerd nie … Naas haar verpligtinge as kapelaansvrou, was Hester volledig betrokke in Pierneef in die agt jaar van hulle verbintenis met die gemeente. Sy het beurtelings opgetree as voorsitster van die Vroueaksie en aanbieder van die Vrouebiddag, en was 'n gesogte gas by vrouewyksbyeenkomste. Mensliewend, en met 'n mooi gesindheid, het sy haar gawes by die Thusanangklub gebruik. By Bybelstudiebyeenkomste was sy in groot beskeidenheid dié een na wie almal met respek en waardering kon opsien. Sy het saam met ds Nick haar belangstelling verder toegespits op die senior lidmate, onder wie sy baie geliefd was.

       Sy was entoesiasties oor enige verdienstelike projek - of dit die basaar was, of 'n Kers- of Paasfeessangdiens, wat sy as orreliste-koorleidster met deeglike voorbereiding aangebied het. Haar sprankel voor die orrel het meegehelp om van Pierneef 'n singende gemeente te maak!

(Mev Bebe Pistorius)

 

Mev Malinda Lazenby: Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees … Malinda Lazenby verteenwoordig 'n nuwe geslag predikantsvroue wat voltydse beroepe beoefen terwyl hulle ook probeer om aan die tradisionele verwagtinge van die kerkgemeenskap te voldoen. As onderwyseres en later dosent by die Technikon, het sy veral aan die begin van hul bediening in Pierneef die Vrouediens, Kinderkrans en werkersklasse ondersteun en gelei, en later die verantwoordelikhede gedeel met mev Hester Ackermann. Sy was ook vir 'n kort rukkie skriba van die gemeente. Bybelstudie en meelewing in 'n biduurgroep is vir haar 'n prioriteit. Die afgelope vyf jaar was Malinda voltyds redaksiesekretaresse van LIG (vroeër Voorligter). In dié tyd het die gemeentevroue self sterk leiding begin neem in vroue-aktiwiteite. Vanweë haar belangstelling in die rol van vroue in die kerk het Malinda in die Ring van Villieria en die Sinode van Noord-Transvaal 'n rigtinggewende rol gespeel, as voorsitter van die Vrouediens van Noord-Transvaal in 'n stadium wat daar toenemend anders oor die rol van die Vrouediens as struktuur in die kerk gedink is. Dit het daartoe gelei dat aan die Vrouediens kommissiestatus toegeken is. Die afgelope drie jaar is sy redakteur van die NUUSBRIEF van die Vrouediens van Noord-Transvaal en dien sy in die Sinode se Kommissie vir Kerklike Media. Tans geniet Malinda in die kantoor van die Algemene Sinode die opwinding en uitdagings wat die pos as sekretaresse van die skriba en van die kommissies vir Leer en Aktuele Sake en van Inligting en Ekumene bied.

       Hoewel sy op al dié terreine 'n rol speel en baie lief is vir almal in die gemeente, is sy eintlik op haar gelukkigste in haar huis, by haar gesin, voor die naaimasjien, die stoof of in die tuin.

(Mev Mara Snyman)

 

NASKRIF - Pastoriekinders stout?! Nee, wat, sê die Goosens, wat ál die 50 jaar in 25ste Laan woon; sedert … die langsaanbure van die pastorie. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar …

 

SO 'N GROOT SKARE GELOOFSGETUIES - PIERNEEF SE "HULDEGALERY"

 

·    Skriba                                                                  Kassier

 

WBW Danzfuss

1950 - 1957

 

WBW Danzfuss

1950 - 1957

 

BJL van der Merwe

1957 - 1968

 

BJL van der Merwe

1957 - 1963

 

JJL Pretorius

1968 - 1987

 

JF Eksteen (Assistent)

1962 - 1963

 

Mev M Lazanby

1988

 

PA Geyer

1963 - 1964

 

Mev B Weideman

1989

 

FA de Jager

1964 - 1984

 

Mev N du Plessis

1990 - 1997

 

Mev Ann Marais

1984 - 1991

 

Mev M Burger

1997 - hede

 

WC Oosthuizen

1991 - hede

·    Kosters (en hul gades)

 

Mnr CJ/Mev Taljaard

 

1950 - 1968

 

Mev D Stiemie

 

1971 - 1973

 

Mev M Bartman

 

1968 - 1971

 

Mnr JJF Nell

 

1 Mei 1973 - hede


 

     Orreliste, Sangleiers, Sanggroep, Koorlede en -leiers - ook jeugkore, Mentors by Kinderdienste.

     Tuinhulpe / Skoonmakers

     Kolporteurs

     Vroueaksieleidsters/werksters: Al die gemeentevroue, wat so getrou werk by funksies, begrafnisse, sorg vir blomme, omsien na die siekes, die eensames, beproefdes, nuwe intrekkers . . .

     Sondagskool- /Kategeseonderwysers / Katkiseermeesters

     Kinder(sending)kransleidsters en alle ander jeugvereniging- / aksieleiers en -leidsters

     Konsulente/Tydelike kanselhulpe

     Al die kerkraadslede oor 50 jaar

     Al die getroue gemeentelede oor 50 jaar: So 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons - en dié wat ons reeds vooruitgegaan het … - vir oop harte en hande, waaruit voortgespruit het:

             'n sterk onderlinge liefdesband

             gebedsondersteuning

             barmhartigheidsondersteuning

             ondersteuning van teologiestudente uit die gemeente

             deelname aan sending- en evangelisasieaksies

             waak oor die gemeente se geboue en finansies

             waak oor ons jeug

             deelname aan eredienste / musiek / koor / sanggroepe

             skenkings, van watter aard ookal

             uitreik na buite gemeentegrense


Só gebruik God sy boodskappers!


Hy het nie tien talente ontvang nie - miskien net een of miskien net 'n halwe. Om te lees gaan moeilik, daarom is sy plekkie meestal regoor die banke van die ouderlinge. Want, het hy gedink, hulle kan my mos help as 'n Gesang of Psalm gesing word.

Sy grootste genot is om die tou te trek waaraan die kerkklok vas is. As daardie tou getrek word, dan weergalm die gelui van die klok ver en wyd oor die gemeente van Pierneef. Kom sondaars kom, kom sondaars kom, roep die kerkklok.

En dan die verskonings - "Ek kan nie vandag kerk toe gaan nie, want …, want …, want … Intussen roep die klinkende klanke: Kom, sondaars, kom!

Aangeland in die Hiernamaals, hoeveel van ons sal sê: "Baie, baie, dankie, Theronnie, dat jy daardie toutjie van die kerkklok ook vir my getrek het. Ek het gehoor. Ek het gegaan. Ek het die heilsboodskappe duidelik ontvang. Daar het redding vir my siel gekom. Vir my die Lig, die Ewige Lewe. Ek sal altyd by Hom wees."

Nogmaals baie dankie, Theronnie. Mag jy nooit moeg word om die tou van die kerkklok in die toring te trek nie.

Oom Piek (Datum onbekend.)

 

HOE LYK DIE PAD VORENTOE?

      Oor die afgelope vyftig jaar het baie dinge verander. Een van die grootste veranderings is die wêreldwye verandering wat die mens self ondergaan het - die makroverandering van moderne mens na postmoderne mens. Die moderne mens het sy veiligheid gevind in die beklemtoning van die rasionele denke, die resultate van wetenskaplike navorsing wat absolute waarhede gebring het, die leef binne vaste strukture en beginsels wat dikwels deur wetgewing van bo-af gegee is, die mens wat emosies eenkant toe gestoot het omdat dit aanduiding van swakheid is, ens. Die postmoderne mens, vandag se mens, soek nie meer sy veiligheid in hierdie dinge nie. Nou word veiligheid en menswees gesoek in praktiese nut en betekenis van dinge. Mense wil die lewe beleef. Warmte en emosie is belangriker as vste rigiede strukture en absolute waarhede. Daarom is lojaliteit ter wille van lojaliteit nie meer daar nie. In sy uiterste vorm het die Bybel ook vir die postmoderne mens relatief geword. Die eietydse mens wil nie meer langs die kantlyn staan en toekyk hoe alles vir hom bepaal word nie, maar wil self betrokke raak en met ̕n eie mondigheid sy lewe sinvol inrig.

      Hierdie verandering het ̕n ingrypende invloed op die manier waarop die bediening van die Evangelie hanteer moet word. Die inhoud van die Bybel het nie verander nie, maar die konteks waarbinne dit moet toegepas word, het radikaal verander. Dit is die grootste uitdaging waarvoor die kerk staan. Sukses in die bediening sal in die toekoms gemeet word aan die mate waarin die kerk daarin gaan slaag om hierdie makro verandering gaan hanteer.

      As ̕n mens mooi na hierdie saak kyk, is daar baie om oor opgewonde te raak. Per slot van rekening eis die Bybelse idee van kerkwees mos juis dat daar warmte en emosie tussen mense sal wees; dat daar omgee en betrokkenheid sal wees; dat die gelowiges die gawes wat die Heilige Gees juis vir dienslewering gegee het, benut sal word; dat die evangelie nie net rasionele waarheid sal bly nie, maar in die praktyk van elke dag sal grondvat. Die postmoderne mens is eintlik baie ontvanklik vir die eise van ware gemeentewees. Die kerk sal net nuut moet dink en oppas om van strukture uit die verlede norme vir die toekoms te maak. Eietydse bedieningspatrone sal gevind moet word om die entoesiasme van vandag se gelowiges prakties tot eer van God te kanaliseer.

      Wat ̕n opwindende uitdaging! Dit kan aangepak word met die belofte van Jesus Christus self:

En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Mat 28:20


Terug na hoofblad