|
Miskien het jy ookal gehoor dat mense vra: "Hoe kan ek gered word?" of "Hoe kan ek ook 'n kind van die Here word?" of "Ek is bang om dood te gaan. Hoe kan ek vrede met die Here
maak?" of "Ek weet my sonde is so baie. God sal my nooit in sy koninkryk toelaat nie. Wat moet ek doen?"
Miskien loop jy self met een of meer van hierdie vrae in jou hart rond. Natuurlik is daar nie kitsoplossings nie, maar ten minste kan jy hieronder die belangrikste feite van
Jesus se Evangelieboodskap lees en dit in jou lewe toepas. Jy kan dit selfs leer en vir ander wat met vrae rondloop vertel.
Eintlik is daar maar net vier belangrike feite wat jy moet weet en toepas in jou lewe. Hier is hulle. Lees gerus die teksgedeeltes by elkeen:
GOD HET JOU INNIG LIEF
- Joh 3:16 God het die wêreld (sit jou naam in) so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
- Rom 5:8 Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
DIE MENS (JY) IS 'N SONDAAR EN VERLORE
- Rom 3:23 Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.
- Rom 6:23 Die loon wat die sonde gee, is die dood.
- Joh 3:18 wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
- 1 Joh 1:8 & 10 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
GOD RED SONDAARS UIT GENADE
- Rom 3:24-26 Hulle (sondaars) word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.
- Ef 2:1-6 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld
en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. So het ons trouens vroeër ook almal gelewe.
Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die
ander mense deur God gestraf moes word. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings,
saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!
AANVAAR JESUS SE VERLOSSING IN GELOOF
- Hand 16:31 Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word.
- 1 Joh 1:9 As ons ons sondes bely — Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
- Joh 3:16 God het die wêreld (sit jou naam in) so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
As jy met berou oor jou sondes hierdie verlossingsplan van God kan aanvaar, bid dan sommer nou tot die Here en vra hom om jou as sy kind te aanvaar. Jy kan byvoorbeeld vir die
Here sê:
Hemelse Vader, ek besef dat ek 'n sondaar is en sonder u genade vir ewig verlore sal gaan. Ek bely nou my skuld voor u en aanvaar in die geloof die vergifnis wat
deur Jesus vir my by u moontlik gemaak is. Dankie dat ek nou u kind genoem kan word en tot in ewigheid nooit weer verlore sal gaan nie. Help my om uit dankbaarheid
aan u gehoorsaam te lewe. Amen.
Noudat jy jou saak met die Here reggemaak het, kan jy seker wees dat Hy jou as sy kind aangeneem het. Hy verklaar self in Joh 1:12 Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. As uitvloeisel van jou nuutgevonde verbintenis met die Here moet jy nou moeite doen om geestelik te groei en die Here
al beter te leer ken. Sluit by 'n gemeente aan of by 'n omgeegroep. Skaf vir jou hulpmiddels aan wat jy kan gebruik saam met die lees van die Bybel.
BAIE WELKOM IN DIE HUISGESIN VAN DIE HEMELSE VADER!
As jy dalk met iemand hieroor verder wil praat, kan jy gerus die volgende nommer skakel: 082 2202895 of 'n epos stuur aan nood@ngkpierneef.co.za
|