Om jou roeping reg te verstaan en gemotiveer te word om dit werklik uit te leef, het ons tot dusver in hierdie reeks gepraat oor
die koninkryk van God. Ons het agter gekom dat dit die fokus van die hele Bybel is. Alles wat God aan ons in die Skrif openbaar
het uiteindelik te doen met die realisering van God se koninkryk hier op aarde sowel as in die hiernamaals. In die Ou Testament
hou dit verband met die etniese volk Israel in Palestina en is die handhawing van hulle identiteit as verbondsvolk die sentrale tema.
In die Nuwe Testament word God se liefde en die geheim van ons verlossing bekend gestel en word die verantwoordelikheid van die
gemeente as nuwe volk van die Here wat uit alle gelowiges bestaan, die fokus. Daarmee saam word elke gelowige as deel van God se
kerk op aarde die draers van God se koninkryk na die wêreld toe.
Die vraag is nou, wat het my betrokkenheid by 'n bepaalde gemeente waar ek lidmaat is, te make met hierdie hele saak van die feit
dat ek geroep is om God se koninkryk in hierdie wêreld te help bekendstel? Daaroor gaan ons nou praat.
Beeldspraak of die gebruik van metafore hou gewoonlik die voordeel in dat mens deur middel van 'n bekende begrip iets baie
ingewikkelds kan verduidelik. Jesus het in sy bediening dikwels hierdie tegniek gebruik om sy volgelinge oor die koninkryk van God
in te lig en hulle toe te rus. Trouens, dwarsdeur die Bybel word hierdie tegniek deur verskillende skrywers gebruik om geestelike
waarhede te verduidelik. So is daar meer as 80 sulke beelde wat in die Bybel gebruik word om verskillende aspekte van die koninkryk
en veral die kerk aan ons te verduidelik. Dit laat mens besef dat dit sekerlik vir God 'n baie belangrike saak is en dat Hy wil
hê ons moet dit mooi verstaan.
Een van die belangrikste en sekerlik mees omvattende van hierdie beelde is die liggaamsbeeld waarin die kerk (gemeente) die liggaam van Christus genoem word. Paulus is veral lief om so van die kerk te praat in teksgedeeltes soos 1 Kor 12, Rom 12 en Ef 4.
In 1 Kor 12:27 sê hy reguit vir die gemeente: "Julle is die liggaam van Christus en afsonderlik is julle elkeen 'n lid
daarvan" en in Rom 12:4 & 5 help hy ons nog beter verstaan: "Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar." In Ef 4
word die klem geplaas op die noodsaaklikheid dat die liggaam vir sy eie opbou veantwoordelik is deurdat elke deel van die liggaam
sy funksie vervul: "Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde." (vers 16)
Omdat hierdie beeld so omvattend is en in die briewe van Paulus daarom ook so 'n groot rol speel, sal dit die moeite werd wees
om dieper daarop in te gaan en na 'n klompie aspekte daarvan te kyk ten einde ons roeping beter te verstaan.
Wanneer Paulus in Ef 4 praat oor die funksionering van die gemeente dan lê hy groot klem op die feit dat die gemeente moet
groei tot volwassenheid. Net soos geen mens gebore word en klaar groot en voolwasse is nie, net so is dit ook met 'n gemeente.
Voortdurend moet die lidmate geestelik groei tot volwassenheid sodat elkeen al beter sy funksie kan vervul. Hoe moet dit gebeur?
Paulus laat die klem val op die feit dat elkeen in die gemeente sy rol reg moet verstaan. Daar is hoofsaaklik twee groepe mense
in die gemeente: die leiers (hoofsaaklik kerkraadslede) en die ander lidmate. Die taak van die leiers is nie om alleen diens te
lewer asof die res van die gemeente in 'n hotel tuisgaan en net bedien moet word nie. Nee, die leiers is daar om die res so
te lei dat hulle toegerus word vir die dienswerk wat elkeen het om te verrig. Kyk weer na vers 12: "Sy doel daarmee (met
die leriers) is om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus". Jy moet dus mooi
verstaan dat die geestelike en ander versorging van lidmate nie primêr die taak van die dominee en die ander leiers is nie,
maar elke lidmaat se verantwoordelikheid. Die dominee en ander leiers is daar om jou deur middel van predikikng, Bybelstudie,
persoonlike gesprekke, kursusse, kategese, ens so toe te rus dat jy jou versorgingsverantwoordelikheid kan nakom.
Wanneer dit
gebeur, sal die gemeente tot volwassenheid groei. "So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in
ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. Dan sal
ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe." (Ef 4:13-15)
Petrus beklemtoon weer die noodsaaklikheid van elke gemeentelid om vir sy/haar eie geloofsvorming self verantwoordelikheid
te neem. Hy gebruik die beeld van 'n honger baba om dit te verduidelik:"Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog,
huigelary, jaloesie en kwaadpratery. Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat
julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry." Al is die ander gemeentelede daar om jou te ondersteun en die leiers
om jou vir jou taak toe te rus, bly jou geestelike vorming steeds in die eerste instansie jou eie verantwoordelikheid. En onthou,
jy is nie klaar gevorm as jy met formele kategese (sondagskool) klaar is nie. 'n Mens hou nooit
op met geestelike vorming nie!
Om mee af te sluit, kom ons praat net vir 'n oomblik nog oor lidmaatskap. As bogenoemde dinge dan waar is van elke lidmaat van die
gemeente, wie is hierdie sogenaamde lidmate? Toe ek nou die ander dag die vraag by die Bybelskool gevra het, het die meeste mense
geantwoord en gesê: "Mens word lidmaat van die gemeente wanneer jy belydenis van geloof aflê." Met ander woorde,
kinders tot en met 16 jaar oud is nog nie lidmate nie en daarom is alles wat hierbo geskryf is nie op hulle van toepassing nie.
Juis in hierdie wanpersepsie lê die kerk se grootste probleem.
Die regte antwoord is egter dat almal wat in die verbond van God ingesluit is, ook lidmate van die gemeente is. Sonder om hier
'n lang storie daarvan te maak, is dit interressant om te sien dat wanneer iemand in die Ou Testament wat nie 'n gebore Israeliet
is nie ook deel van die volk (gemeente) van God wil word, dan moet hy die verbondseise nakom en besny word. Dan sal hy en al sy
mense saam met hom nie net as deel van die volk aanvaar word nie, maar sou hy beskou word as 'n gebore Israeliet (lees Eks 12).
Op grond hiervan en ander skrifgedeeltes aanvaar ons in die NG Kerk dat alle verbondsmense volledig lidmate van die gemeente is.
In ons tyd is dit nie meer die besnydenis wat as teken van die verbond diens doen nie, maar die doop. Dit beteken dus dat
almal wat gedoop is, lidmate van die gemeente is. Alles wat dus hierbo van die gemeente gesê word is dus ook op
die kinders in die gemeente van toepassing. Tussen hakies, belydenisaflegging van geloof het niks met lidmaatskap uit te waai nie.
Dit het wel baie te make met 'n persoon se geloofsvorming. Dit beteken dat iemand op enige ouderdon belydenis van sy/haar geloof
kan doen. Kinders behoort dus van kleinsaf geleer te word om hulle belangrike funksie as deel van die liggaam van Christus uit te
oefen.