Wat hierna volg, is ̕n uittreksel uit die verslag van die Algemene Sinode se Kommissie vir Leer en Aktuele sake oor
die Gesag van die Skrif soos dit in 2002 aan die Algemene Sinode voorgelê en goedgekeur is. Omdat dit ̕n redelik
lywige dokument is, sal dit oor ̕n paar aflewerings volledig afgelewer word.
Die werking van die Gees omvat die interpretasie van die Skrif in die Skrif self, maar ook die vertolking daarvan in die verkondiging tot op die hede. Sommige vorme van inspirasie in die Skrif verskil nie wesentlik van wat vandag nog steeds plaasvind wanneer die Skrif verklaar en verkondig word nie. Maar soos in die Bybelse tye is daar ook vandag 'n veelheid van ver¬tolkings wat soms verrykend is, maar ander kere in stryd is met die openbaring van God. Van hierdie dwaalleer lees ons telkens in die Skrif. Dit het die totstandkoming van die kanon genoodsaak. Nie alle verhale en alle uitleg klop met die boodskap van die Gees wat die kerk in die kanon gehoor het en nog steeds hoor nie. Wesentlik verskil die totstandkoming van die kanon nie soveel van wat nog steeds gebeur wanneer iemand God se Woord hoor en hom/haar daardeur laat oorreed om God op sy Woord te neem nie.
Die formele gesag van die Bybel as die kanon van die kerk, is ten diepste gefundeer in sy materiële boodskap (inhoud) en nie in die feit dat die kerk dit as sodanig aanvaar het nie. Voortaan sou hierdie kanon as norm dien, vir die interpretasie van die Blye Bood¬skap in telkens nuwe situasies. Die erkenning van die kanon was 'n daad van deemoed, waaruit blyk dat die Skrif wel binne die verbondsgemeenskap ontstaan het, maar nie in die eerste instansie die produk daarvan was nie, maar die maatstaf waaraan die kerk gemeet word. As kanon staan die Skrif krities teenoor die kerk.
Die waarheid van die Woord is wel ewig, maar nie tydloos nie. Juis omdat dit ewig is, is dit vir elke tydsgewrig aktueel. Wat in een konteks die waarheid is, is in 'n ander 'n leuen. Die versoeker kwoteer vir die Seun van God (die vleesgeworde Woord) telkens die Woord van God (Matt 4), maar dit is keer op keer die verkeerde teks vir die geleentheid. As ewige Woord, kan dit vele vorme en selfs teenstrydige gestaltes in verskillende kontekste aanneem. Paulus wil nie vir Titus besny nie ( Gal 2:3-5), maar is gewillig om dit te doen in die geval van Timoteus (Hand 16:3).
Nie die letter nie, maar die Gees is deurslaggewend. Weliswaar kom die Gees tot ons deur middel van die letter (woorde) van die Skrif, maar die Gees kan besonder vry omgaan met die letter deur dit nie net te vertaal nie, maar ook te vertolk vir 'n nuwe tyd. Tog bly dit dieselfde Gees. Om dieselfde rede (eerbied vir God) dat Moses by die brandende doringbos sy skoene uittrek, trek ons (voorlopig nog?) Sondae kerktoe ons skoene aan. Boonop is die feit dat ons Sondae kerk toe gaan (en nie Saterdae nie) 'n teken daarvan dat Christus die vervulling (nie vervanging nie) van die Ou Verbond is. Die blote feit dat die 4e gebod in die kanon voorkom, beteken nie dat die kerk dit nog op dieselfde wyse as destyds toepas nie. Die voortgang in die heilsgeskiedenis asook die veranderde konteks, spreek mee. Die gees (beter: Gees) van die adviese wat Paulus aan eienaars gee hoe om teenoor hulle slawe op te tree, bring mee dat in later eeue dit so verstaan word dat slawerny as sodanig liewer afgeskaf moet word.
Soms kan die interpretasie van spesifieke gebeure binne die kanon self krities verskil. Geen krasser teenstelling is moontlik nie, as wanneer 2 Sam 24:1 'n daad aan God toeskryf waarvoor in 1 Kron 21: 1 die Satan geblameer word. Sou ons hier tot 'n keuse gedwing word tussen die twee interpretasies? Maar waarom sou albei uitsprake in die kanon opgeneem wees? Sou dit moontlik wees dat albei aksente in hulle spesifieke konteks die noodsaaklike was? Word die feit dat Josef in Egipte beland het, nie sowel aan die sonde van sy broers én aan die genade van God toegeskryf nie? Dit word wel versag deur te sê dat sy broers hom "verkoop" het, terwyl God hom "gestuur" het (Gen 45: 4,5), maar binne die tyd val wat God en wat sy broers doen, saam. En wie het Christus laat kruisig? Was dit die Bose of sy Vader? (Luk 22: 53; Matt 26:56; Mark 14:49. Sien ook Matt 26:31en Mark 14:27). Juis Bybeltekste wat ons die meeste moeite gee, mag die grootste verrassings oplewer.
Een van die heel grootste misverstande ten opsigte van die gesag van die Skrif is dat die Bybel in die eerste instansie 'n boek is wat aan ons foutlose informasie verskaf, wat ons dan moet sluk of stik. Uiteraard gee die Skrif ook allerlei informasie, maar die funksie van woorde in die algemeen, en God se Woord in die besonder, is dat dit nie blote informasie deurgee nie, maar dinge doen. Wanneer 'n man aan 'n meisie sy liefde verklaar, deel hy haar nie interessante informasie mee nie. Wanneer ons sing van God wat ons sy Woord gegee het, dan moet dit so verstaan word dat God aan sy volk (kerk) trou gesweer het. Daarom dat die Reformasie so lief was om na God se Woord as belofte te verwys. Dit is 'n belofte soos wanneer 'n bruidegom sy hart aan sy bruid verpand.
God se Woord, is terselfdertyd 'n daad. Hy oordeel en beoordeel. Sy Woord is soos 'n operasie¬mes wat kneus om te genees. Hebr 4:12: "Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart". Die Griekse woord vir "oordeel" (krinein) beteken om te skei. So skei God se Woord die lig van die duisternis, die skape van die bokke, die lewe van die dood, die ou skepping van die nuwe skepping.
In die boek Jona vind ons 'n merkwaardige voorbeeld om te demonstreer dat die Woord nie primêr informatief is nie, maar performatief. Indien dit andersom was, was die Woord van God aan die Nineviete 'n leuen, want Nineve is toe nie binne veertig dae verwoes nie. Klaarblyklik was Jona se verkondiging nie bedoel as blote informasie nie, maar as 'n oproep tot bekering. God se Woord het iets bewerk: dit het Nineve bekeer. God se Woord het sy krag bewys deurdat Nineve nie verwoes is nie. En Jona het dit gevrees. Hy het geweet dat wanneer God sê Hy gaan Nineve verwoes, hy wat Jona is, God nie "op sy woord kan neem" nie! (Jona 4:2). Dat God berou het oor die onheil (Ou Vertaling) was deel van Israel se geloofsbelydenis.
Daarteenoor kan 'n mens wanneer God 'n belofte gee, Hom altyd in geloof op sy Woord neem. In Christus die vleesgeworde Woord, vonnis Hy ons en spreek ons vry. Hierdie performatiewe (vgl "perform") karakter van Gods Woord, wat terselfdertyd daad is, staan in skepping en geskiedenis (verlossing), op die voorgrond. Christus die vleesgeworde Woord, is God se groot verlossingsdaad. In sy Woord gee God ons nie allerlei waardevolle informasie oor sy beloftes nie, maar Hy "gee ons sy Woord!" Geloof is dan ook om God "op sy Woord te neem." Volgens Calvyn druppel onder die verkondiging van die evangelie saam met die stem van die prediker die heilige bloed van Christus op ons neer en staan die paradys voor ons oop. Die Woord is nie maar net mededelings oor die heil nie, maar mededeling van die heil. Omdat God in Christus self ons vonnis gedra het en ons dus saam met Christus gekruisig is, word ons ook in Christus se opstanding vrygespreek (Rom 4:25). In die verkondiging van die Woord, word hierdie vryspraak deur die Heilige Gees aan ons gesagvol toegesê. Wie God op sy Woord neem, is erfgenaam van God en mede-erfgenaam van Christus. 2 Kor 1: 20v: "Hy (Christus, die vleesgeworde Woord) is die "JA" op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop "AMEN" sê." 1 Joh 5: 10-12: "Wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. En die getuienis behels dit: God het ons die ewige lewe gegee, en die lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie." Ongeloof is om God nie op sy Woord te neem nie en Hom sodoende tot leuenaar te maak.
Dit is derhalwe duidelik dat die sola Scriptura (die Skrif alleen), sola gratia (God se genade alleen) en sola fide (deur die geloof alleeen) onlosmaaklik verbonde is. Hierdie sogenaamde solismes verduidelik mekaar oor en weer. Wie die een laat vaar, is ook die ander twee kwyt. Wie egter "buig" onder die gesag van Gods Woord wat ons vonnis en vryspreek, sterf daagliks saam met Christus en staan daagliks saam met Hom op tot 'n nuwe lewe. In die woorde van Luther: "So beluister ook u in die prediking steeds weer die barmhartigheid van God en mag u nie sê: "Ek is verlore" nie, net so min as wat u mag sê: "Ek is goed." Sê liewer: "Ek weet dat ek voor U 'n sondaar is; dit is my oordeel oor myself. Maar dit is dan ook die enigste oordeel; 'n ander oordeel is daar nie. Want wie in My glo, sal nie veroordeel word nie"." Daarom sing ons in die kerk: "Wat sou ons dan ooit laat bewe? In dié Woord het ons die lewe!" (Lied 255).
In die verslag Skrifgesag en Skrifgebruik wat deur die Algemene Sinode van 1986 aanvaar is, word in punt 2.6 enkele opmerkinge gemaak oor die interpretasie van die Skrif. Hoewel in die huidige verslag die aksent val op die gesag van die Skrif, is dit ook onlosmaaklik verbonde met die vraag na die gebruik daarvan. In aansluiting by 1986, gee ons enkele riglyne.
In hierdie verslag word 'n poging aangewend om na twee kante afwysend standpunt in te neem, naamlik enersyds teenoor die moderne liberalistiese, en andersyds die moderne fundamentalistiese omgang met die Skrif. In eersgenoemde geval word die Bybelse geskiedenis as teologies onbelangrik beskou. Die belangrikheid van Israel vir ons, het volgens hierdie standpunt niks te make met hulle geskiedenis nie, maar met hulle godsdiens. In radikaal-kritiese kringe word die religion of Jesus belangriker beskou as die religion about Jesus. Selfs al het Jesus nooit bestaan nie, dan het ons nog altyd die tydlose godsdienstige waarhede van byvoorbeeld die Bergpredikasie. Daarteenoor maak die fundamentalisme die teologiese betekenis van die Skrif geheel en al afhanklik van die natuur¬wetenskaplike en historiese korrektheid van die Bybel.
In werklikheid staan hierdie twee skynbaar teenoorgestelde standpunte heel digby mekaar en bevestig weereens die waarheid dat familietwiste die ergste is. Beide onderwerp die Bybel aan 'n krasse vorm van Skrifkritiek wat daartoe neig om die Woord van God kragteloos te maak. Nie een van die twee wil die Bybel in sy konkreet menslike gestalte aanvaar as Woord van God nie, omdat hulle aanstoot neem aan die konkreet historiese karakter van die Openbaring. Terwyl die liberalisme die Bybel as gevolg van sy diep menslike karakter nie ernstig wil neem as Woord van God nie, poog die fundamentalisme om die Bybel as Woord van God te "red" deur die swakke menslike karakter daarvan soveel moontlik te ontken. In beide gevalle word ons gekonfronteer met 'n rasionalistiese verheerliking van die menslike rede. In beide gevalle word per implikasie aanstoot geneem aan die menslike gestalte van die Woord, wat ten diepste verset is teen die dienskneggestalte van die Kneg van die Here "wat geen gestalte of heerlikheid gehad het, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms dat ons Hom sou begeer nie" (Jes 53:2 ou vertaling). In beide gevalle heers 'n beheptheid met die letter van die Skrif, wat mense blind maak vir die Gees in die letter. Die Bybel as boek, maak beide blind vir die Bybelse boodskap.
Aangesien in hierdie verslag die standpunt ingeneem word dat die Bybel nie 'n bron van foutlose natuurwetenskaplike en historiese informasie is nie, sal dit seker vanuit fundamentalistiese kringe bestempel word as self 'n produk van die modernisme. Ongetwyfeld is dit waar dat juis die moderne tyd as gevolg van dramatiese groei in kennis, ons diep onder die indruk gebring het van die feit dat die Bybel geen handboek is vir die wetenskap nie. Tog wys onder andere die Ou-Testamentikus John Goldingay daarop dat ook in die premoderne tyd reeds heelwat uitsprake by bekende teologiese figure voorkom wat dui op 'n bewussyn van hierdie waarheid. Origenes beskou Gen 1 as teologies waar, maar nie as histories korrek nie. Augustinus waarsku mense om nie die Bybel te gebruik as bron vir sterrekundige informasie terwyl nie-Christene weet dat dit nie waar is nie. In die tyd van Calvyn het sterrekundiges reeds besef dat Saturnus groter is as die maan, hoewel die skeppingsverhaal na die maan verwys as een van die twee "groot ligte". Calvyn betig mense wat sterrekundige informasie gaan soek in Genesis terwyl dit die dinge beskryf soos wat dit vir ons voorkom. Luther kan by geleentheid uiters nonchalant omgaan met onversoenbare feitelike teenstrydighede in die Skrif. Volgens hom kan 'n mens dit ignoreer want dit bring nie die artikels van ons geloof in gedrang nie. Sekerlik is hierdie uitsprake nie kenmerkend van teoloë in die premoderne periode nie, maar tog is dit duidelik dat die inspirasie van die Skrif nie vir hulle sondermeer wetenskaplike foutloosheid impliseer het nie.
Terwyl die fundamentaliste nie erns maak met die vleeswording van die Woord van God nie, neig die liberaliste tot 'n ontkenning van die vleeswording van die Woord van God. Die Bybelse heilsbetekenis van inkarnasie, kruis en opstanding, vind hulle onaanvaarbaar. Reeds tydens die Reformasie was daar die sogenaamde rasionele spiritualiste wat die rede beskou het as die spil waarom alles draai. Uit hierdie kringe word die Hervormers dan ook beskuldig dat hulle aanhangers is van 'n "papierpous". Nie die historiese Christus nie, maar die "ewige Christus" in ons, word sentraal gestel. Dit is teen hierdie spiritualistiese tendens wat reeds in die vroeë kerk kop uitsteek, dat 1 Joh 4:2v. waarsku: "Hieraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is.