Die NGB
In 'n tyd van groot vervolging van Protestantse Kerke is hierdie Belydenisskrif deur Guido de Bres opgestel. Dit was in die jaar 1561 in die Suidelike Nederlande (vandag België). Verskeie Sinodes in die 16de eeu asook die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-1619) het dit as een van die Belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke aanvaar.
Artikel 1
DIE ENIGE GOD
Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God
noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die
alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.
2 Kor. 3:17; Joh. 4:24; Jes. 40:14.
Artikel 2
DIE MIDDELE WAARDEUR ONS GOD KEN
Ons ken Hom deur twee middele:
Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë
soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy
ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom 1:12). Al die dinge is genoegsaam om
die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.
Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend en
wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.
Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:4; 1 Kor. 8:4, 6; 1 Kor. 12; 1 Kor. 1.
Artikel 3
DIE GESKREWE WOORD VAN GOD
Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense
van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet 1:21). Daarna het God deur
sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif
te stel en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige
en Goddelike Skrif.
2 Pet. 1:21; Ps. 102:19; Eks. 17:14; (Deut. 3); Eks. 34:27; Deut. 5:22; Eks. 31:18.
Artikel 4
DIE KANONIEKE BOEKE VAN DIE HEILIGE SKRIF
Ons vat die Heilige skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks
ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg:
Die boeke van die Ou Testament, nl. die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en
Deuteronomium; die boeke Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke (genoem
Paralipomenon), Esra, Nehemia, Ester, Job, die Psalms van Dawid, drie boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en
Hooglied; die vier groot profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël; en vervolgens die twaalf klein profete: Hosea, Joël,
Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi;
die boeke van die Nuwe Testament, nl.: vier evangeliste: Matteus, Markus, Lukas en Johannes; die Handelinge van
die apostels; die veertien briewe van die apostel Paulus: aan die Romeine, twee aan die Korintiërs, aan die Galasiërs,
die Efesiërs, die Filippense, die Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timoteus, aan Titus, Filemon en
die Hebreërs; die sewe briewe van die ander apostels: die brief van Jakobus, twee van Petrus, drie van Johannes en
die brief van Judas en die Openbaring van die apostel Johannes.
Artikel 5
DIE GESAG VAN DIE HEILIGE SKRIF
Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.
Artikel 6
ONDERSKEID TUSSEN DIE KANONIEKE EN APOKRIEWE BOEKE
Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke: die derde en vierde boek van Esra, die boek van Tobias,
Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by die geskiedenis van Ester, die Gebed van die drie manne in
die vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en die Draak, die Gebed van Menasse en die twee boeke
van die Makkabeërs.
Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem.
Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die
Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van ander, die heilige boeke,
afbreuk doen nie.
Artikel 7
DIE VOLKOMENHEID VAN DIE HEILIGE SKRIF
Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo,
daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig
beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer
word nie - ja, al was daar ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode
is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan
heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook
al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging
van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die
waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps 62:10). Ons
verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer
as hulle sê: "...maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is" (1 Joh 4:1) en: "As iemand na julle kom en hierdie
leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie..." (2 Joh:10).
2 Tim. 3:17; 1 Pet. 1:11, 12; Spr. 30:6; Gal. 3:15; Op. 22:18; 1 Tim. 1:3; Gal. 1:8,11; 1 Kor. 15:2; Hand. 26:22; Rom.
15:4; Hand. 18:28,29; 1 Pet. 4; Luk. 11:13; 2 Tim. 3:24; 2 Tim. 1:13; Kol. 2:8; Hand. 4:19; Joh. 3:13; 2 Pet. 2:16; Joh.
15:15; 1 Joh. 1:5; Hand. 20:27; 2 Joh. 1; Joh. 4:25; Deut. 12:32; Heb. 8:9; Matt. 15:3; 17:5; Mark. 7:7; Jes. 1:12; Hand.
1:21; Rom. 3:4; Jes. 8:20; 2 Tim. 4:(3); 1 Kor. 1:13; 2:4; 3:11; 1Pet. 5:12; 2 Tess. 2:2; Ps 12:7; 19:8,9,12; Deut. 4:6;
6:9; Ef. 4:5; Joh. 5; Kol. 1:16,18; 1 Kor. 8:6.
Artikel 8
GOD IS EEN WESE EN ONDERSKEIE IN DRIE PERSONE
Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige wese, in wie drie Persone is,
naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie
is volgens die eienskappe wat Hulle nie met mekaar deel nie.
Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.
Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader.
Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.
Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die
Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so 'n wyse ondeske
dat hierdie drie Persoon slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die
Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat
so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees
aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van
gelyke ewigheid af in een en dieselfde wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag,
goedheid en barmhartigheid.
1 Kor. 1:24; Joh. 1:14; 1 Joh. 1:1; Op. 19:13; Spr. 8:22; Kol. 1:15; Matt. 28:19; 3:16; Joh. 1:14; Mig. 5:1
Artikel 9
SKRIFGETUIENIS OOR DIE LEER VAN DIE DRIE-EENHEID
Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in
onsself voel. Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie- eenheid te glo, staan op baie
plekke in die Ou Testament en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie.
Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Genesis 1:26 en 27: "En God het gesê: Laat Ons mense maak
na ons beeld, na ons gelykenis...En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape";
Genesis 3:22: "Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons". Wanneer God sê: Laat Ons mense
maak na Ons beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En as Hy sê: God het geskep, wys
Hy die eenheid van die Godheid aan. Welliswaar sê hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou
Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is
die stem van die Vader gehoor, wat sê: "Dit is my geliefde Seun" (Mat 3:17). Die Seun is in die water gesien en die
Heilige Gees het Hom in die vorm van 'n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule
deur Christus vasgestel: "Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees" (Mat 28:19). In die
Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: "Die Heilige Gees sal oor jou kom en
die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem
word" (Luk 1:35); eweneens: "Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van
die Heilige Gees sy met julle almal" (2 Kor 13:13) en: "Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord
en die Heilige Gees en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed
en die drie is eenstemmig" (1 Joh 5:7, 8).
Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie persone in een enige Goddelike Wese is. Al gaan
hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle
kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.
Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die eie werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons:
Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige
Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart.
Die leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en
gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas,
Sabellius, Samosatenus, Arius en derglike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is.
Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicéa en Atanasius en
ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.
Gen. 5:1; Matt. 3:16; 28:19; Luk. 1:35; Hand. 2:32; 2 Kor. 13:13; 1 Joh. 5:7; Hand. 2:32,33; 1 Pet. 1:12; 1 Joh. 4:13,14;
Gal. 4:6; Ef. 3:14,16; Tit. 3:4-6; Jud. :20,21; Rom. (6) 8:9; Hand. 10:38; 8:29,37; Joh. 14:16; 1:33; Sp. 25:27.
Artikel 10
DIE GODHEID VAN JESUS CHRISTUS
Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy 'n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader, ewig saam met Hom, die heerlikheid (Heb 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Fil 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word. Moses sê dat God die wêreld geskep het en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Gen 1:1 en Joh 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Heb 1:2 en Kol 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga: "Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid" (Miga 5:1) en sê die apostel: "Hy is sonder begin van dae of lewenseinde" (Heb 7:3). Hy is dus ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.
Joh. 1:18,49 en 24; 1:14; Kol. 1:15; Heb. 1:3; Matt. 3:17; 17:5; Joh. 8:24; 10:30; 9:36; Hand. 8:34; Jes. 7:14; Rom. 9:5; 1 Tess. 3:11; Fil. 2:11; 2 Kor. 5:19; Hand. 20; Ef. 3:9; Rom. 14; Tit. 2; 1 Kor. 8:6; Heb. 1:1; 3:4; Joh. 1:3; 1 Joh. 5; Joh. 7, 14, 20; Op. 1-6; Joh. 8:58; 17:5; 1 Kor. 10:9; Gal. 4:4; Miga 5:2; Kol. 1:15; Ps. 2:7,12; Heb. 13:8.
Artikel 11
DIE GODHEID VAN DIE HEILIGE GEES
Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon van die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.
Gen. 1:1; Heb. 1:3, 11:3; Joh. 1:3; Ps. 33:6; Jer. 32:17; Mal. 2:10; Joh. 1:3; Joh. 16:26; Ps. 104; Amos 4:13; Joh. 14:16,26.
Artikel 12
DIE SKEPPING VAN ALLE DINGE, VERAL VAN DIE ENGELE
Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en
alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel 'n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee
om sy skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag
om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers
te wees en sy uitverkorenes te dien.
Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf verval, maar die
ander het deur die genade van God in hulle toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het so
' ontaard dat hulle vyande van God sowel as van alles wat goed is.
Soos moordenaars loer hulle op die kerk - ook op elke lidmaat - om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles
deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en
verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Saduseërs, wat ontken
dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong
uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.
Jes. 40:26; Matt: 28:19; 1 Joh. 5:15; and. 5:3; 1 Kor. 3:16; 6:11; Rom. 8:9; Kol. 1:16; 1 Tim. 4:3; Heb. 3:4; Op. 4:11; 11:16; Heb. 1:14; Ps. 103:21; 34:8; Joh. 8:44; 2 Pet. 2:4; Luk. 8:31; Matt. 25:41; Hand. 23:8; Matt. 4.
Artikel 13
DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD
Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie
maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is
God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie en Hy dra ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en
goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel
die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek
instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle
nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons
leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan
te oorskry.
Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles
deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor
alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie
op die aarde sal val nie (Mat 10:29, 30).
Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy
toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat
sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.
Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13,19; Job 1:21; 2 Kon. 22:20; Hand. 4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6; Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps. 105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9; Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon. 11:23; Gen. 45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10; Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh. 3:8; Gen. 1:26; Kol. 1:15; 3:10.
Artikel 14
DIE SKEPPING VAN DIE MENS, DIE SONDEVAL EN DIE GEVOLGE DAARVAN
Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak
en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig, sodat hy met sy wil in alles met die wil van God ooreenstem. Maar toe
hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die
woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking
onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur
van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood
verdien. Hy het deurdat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes
wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter
genoegsaam is om hom van alle verontskuldiging te ontneem. Al die lig wat ons het, het immers in duisternis verander,
soos die Skrif ons leer: En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie (Joh 1:5), waar die
heilige Johannes die mense duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die
mens geleer word, aangesien die mens niks anders as 'n slaaf van die sonde is nie en: "'n Mens kan niks aanneem
as dit hom nie uit die hemel gegee is nie" (Joh 3:27).
Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: "Niemand kan na My
toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie" (Joh 6:44)?
Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat "...wat die vlees bedink, vyandskap teen God is" (Rom 8:7)?
Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie (1 Kor 3:5)?
Kortom: Wie sal ook maar op 'n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie bekwaam is om iets uit
onsself te bedink nie maar dat ons bekwaamheid uit God is (2 Kor 3:5)? Daarom is dit reg dat wat die apostel sê,
onwrikbaar bly, want dit is God wat in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Fil
2:13).
Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in
die mens tot stand bring nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: "Sonder My kan julle niks doen nie" (Joh 15:5).
1 Pet. 2:9; Pred. 12:7; Ps. 8:5; 49:21; Jes. 59:2; Gen. 3:17,19; Pred. 7:30; Rom. 5:12; Joh. 8:7; Ef. 4:24; Rom. 12:2; 3:10; 8:6; Hand. 14:17; Rom. 1:20,21; Hand. 17:27; Ef. 4:18; 5:8; Joh. 1:5; Ps. 37:9; Jes. 26:12; Ps. 94:11; Rom. 8:3; 1 Kon. 20:9; Ps. 28:8; Jes. 45:25; Joh. 3:27; 6:44; (1 Kor. 2:14); 2 Kor. 3:5; Filip. 2:13.
Artikel 15
DIE ERFSONDE
Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is 'n verdorwenheid van die hele natuur en 'n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sonde laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem. Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit 'n giftige fontein. Dit word die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur sy genade en barmhartigheid vergewe. God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word. Ons verwerp hiermee die dwaling van die Pelagiane, wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit navolging ontstaan nie.
Ps. 51:7; Rom. 3:10; Joh. 3:6; Gen. 6:3; Ef. 2:5; Job. 14:4; Rom. 5:14; 7:18,19.
Artikel 16
DIE EWIGE VERKIESING VAN GOD
Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het.
Rom. 3:13; 9:16; Deut. 32:8; 1 Sam. 12:22; Ps. 65:5; Mal. 1:2; 2 Tim. 1:9; Rom. 9:29; Tit. 3:4,5; Ef. 1:4,5; Rom. 11:5; Hand. 2:47; 13:48; 2 Tim. 2:20; Rom. 9:11; 1 Pet. 1:2; Rom. 9:21; Joh. 6:27,44; 17:9,12; Joh. 13:9; 15:16; Rom. 11:34,35; Joh. 18:20; 15:19; Tit. 1:1; Ef. 1:3; Joh. 10:29; Matt. 15:24; 20:23.
Artikel 17
DIE VERLOSSER DEUR GOD BELOOF
Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het. God het die mens toe getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig te maak - sy Seun, wat uit 'n vrou (Gal 4:4) gebore sou word om die kop van die slang te vermorsel (Gen 3:15).
Gen. 3:15; 22:18; Jes. 7:14; Joh. 7:42; 2 Tim. 2:8; Heb. 7:14; Joh. 1:14; Gen. 3; Gal. 4:4
Artikel 18
DIE MENSWORDING VAN JESUS CHRISTUS
Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad vervul het deur sy Seun
in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en aan die mens
gelyk geword (Fil 2:7) deur werklik 'n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem. Hy
is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van 'n man
verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie, maar ook 'n egte menslike siel
om so 'n werklike mens te wees.
Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om altwee te red, aangesien albei verlore was. Teenoor die
kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons
daarom dat Christus die vlees en die bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb 2:14), dat Hy, wat die vlees
betref, 'n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand 2:30 en Rom 1:3), 'n vrug van
die moederskoot van Maria (Luk 1:42), gebore uit 'n vrou (Gal 4:4), 'n spruit van Dawid (Jer 33:15), 'n loot uit die wortels
van Isai (Jes 11:1), van die geslag van Juda afstam (Heb 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom 9:5), uit die geslag
van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het in alle opsigte - maar sonder sonde, aan sy
broers gelyk geword het (Heb 2:17 en Heb 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Immanuel is, dit wil sê: God
met ons.
Filip. 2:7; 1 Tim. 3:16; Luk. 1:55; Gen. 26:4; 2 Sam. 7:12; Ps. 132:11; Hand. 13:23; 1 Tim. 2:5; 1 Kor. 12:3; Deut. 29:2; Ps. 119:34; Rom. 7:19; Jer. 33:15; Heb. 7:14; Rom. 9:5; Gal. 3:16; Heb. 2:16; Matt. 1:16.
Artikel 19
DIE TWEE NATURE VAN CHRISTUS
Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en
verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie maar twee nature in een Persoon verenig,
terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het,
sonder begin van dae of lewenseinde (Heb 7:3) en die hemel en aarde vervul, so
' het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel 'n begin van dae het, eindig
van natuur is en alles behou wat by 'n ware liggaam behoort.
Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie
verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is. Hierdie twee
nature is so
' saam in een persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie.
Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus 'n ware menslike gees wat uit sy liggaam
uitgegaan het. Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in
die graf gelê het. Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy 'n klein kindjie was, al
het die Godheid Hom toe 'n klein tydjie nie geopenbaar nie. Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware
God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon
sterwe.
Matt. 28:20; Joh. 10:13; Ef. 4:8,12; Heb. 7:3; Matt. 26:11; Hand. 1:11; 3:21; Luk. 24:39; Joh. 20:25; Hand. 1:3; Matt. 27:50.
Artikel 20
GOD SE REGVERDIGE EN BARMHARTIGHEID IN CHRISTUS
Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur waarin die
ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf
vir die sondes deur die allerbitterste lyding en sterwe dra. So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy
ons sondelas op Hom gelê het en so
' sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het
immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee en Hy het Hom tot ons regverdiging
opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.
Heb. 2:14; Rom. 8:3,32; 4:25.
Artikel 21
DIE VERSOENING DEUR CHRISTUS
Ons glo dat Jesus Christus - kragtens 'n eed - 'n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself
in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en
sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Daar staan geskrywe dat
die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom;
dat Hy soos 'n lam na die slagpale gelei en by die misdadigers gereken is (Jes 53: 5, 7, 9); dat Hy as 'n misdadiger deur
Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps
69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir die onregverdiges gely (1 Pet 3:18); Hy het die verskriklike straf wat
ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk 22:44) en Hy het
uitgeroep: "My God, my God, waarom het U my verlaat" (Matt 27:26).
Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus
dat ons met julle oor niks praat nie as oor Jesus Christus en wel oor Hom as gekruisigde (1 Kor 2: 2); dat ons alles as
waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Fil 3:8); dat ons volkome
vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen
nie as slegs hierdie offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb 10:14).
Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van die God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk
van hulle sondes verlos (Mat 1:21).
Ps. 110.4; Heb. 5:10; Rom. 5:8,9; Kol. 2:14; Heb. 2:9,17; Rom. 4:25; Joh. 15:13; Hand. 2:24; Joh. 3:16; Rom. 8:32; 1 Tim. 1:15; Jes. 53:5,7; Heb. 9:14; 1 Pet. 2:24; Maat. 15:28; Joh. 18:38; Ps. 69:5; Eks. 12:6; Ps. 22:16; Dan. 9:26; 1 Kor. 2:2; Rom. 5:6; Filip. 2:8; Heb. 9:12; 1 Pet. 1:18; Joh. 10:9; Heb. 9:25,26; 10:14; Joh. 5:10; Matt. 1:21; Hand. 4:12; Luk. 1:31.
Artikel 22
ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF
Ons glo dat die Heilige Gees 'n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot
geheimenis te verkry. Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is
nie, o
'f dit is alles wél in Hom en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer
dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees,
want dit sou beteken dat Christus slegs 'n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die
geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom 3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat
die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid,
omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hy
' reken ons sy hele verdienste toe en ook al die heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof
die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword
het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.
Ps. 51:8; Ef. 1:17,18; 1 Tess. 1:6; 1 Kor. 2:12; Gal. 2:21; Jer. 23:6; 1 Kor. 1:20; Jer. 51:10; 1 Kor. 15:3; Matt. 1:21; Rom. 8:1; 3:20,28; Gal. 2:16; Heb. 7:19; Rom. 8:29,33; Hand. 13:28; 1 Pet. 1:4; Rom. 10:3,5,9; Luk. 1:77; Tit. 3:5; Ps. 32:1; Rom. 4:5; 3:24,27; Filip. 3:9; 2 Tim. 1:9; Ps. 115:1; 1 Kor. 4:7; Rom. 4:2.
Artikel 23
ONS GEREGTIGHEID VOOR GOD
Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Die leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Ps 32:2 en Rom 4:6). Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is ((Rom 3:24). Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen. Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons - helaas! - verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: "En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie." (Ps 143:2).
Heb. 11:7; Ef. 2:8; 2 Kor. 5:19; 1 Tim. 2:6; 1 Joh. 2:1; Gen. 3:7 (Rom. 5:19); Rom. 4:6; Hand. 4:12; Eseg. 36:23,32; Deut. 27:26; Jak. 2:10; Ps. 143:2; Luk. 16:15; Job 1; 1 Kor. 4:4; Ps. 18:28; Sef. 3:11; Heb. 10:20.
Artikel 24
ONS HEILIGMAKING EN GOEIE WERKE
Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die
werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom wedergebore laat word en tot 'n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe
laat lei en hom van die verslawing van die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigmakende
geloof die mens vir 'n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde
tot God doen nie, maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie
geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van 'n dooie geloof nie maar van wat die Skrif noem
'n geloof wat tot dade oorgaan (Gal 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat deur
God in sy Woord beveel het.
Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal
deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is in die geloof geregverdig
nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van 'n boom
goed kan wees voordat die boom self goed is.
Ons doen dus die goeie werke, maar nie om iets te verdien nie - wat sou ons tog kon verdien?
Veeleer is ons goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit
Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filp 2:13). Laat ons daarom
let op wat geskrywe staan: "...wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike
diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen" (Luk 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die
goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawes bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke,
maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur
besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir
God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige
sekerheid en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons
Verlosser steun nie.
Rom. 10:17; Joh. 5:26; Ef. 2:4; Joh. 8:36; Tit. 2:12; Joh. 15; Heb. 11:6; 1 Tim. 1:5; Gal. 5:6; Tit. 3:8; Rom. 9:32; Tit. 3:5; Matt. 7:17; Rom. 14:23; Heb. 11:4; Gen. 4:4; 1 Kor. 4:7; Fil. 3:13; Jes. 26:12; Gal. 3:5; 1 Tess. 2:13; Luk. 17:10; Rom. 2:6; Op. 2:13; 2 Joh. :8; Rom. 11:5 (6,7); (Ef. 2:5); Jes. 64:6; 1 Kor. 3:11; Jes. 28:26; Rom. 10:11; Hab.2:4.
Artikel 25
DIE SEREMONIëLE WET IN CHRISTUS VERVUL
Ons glo dat die seremonies en heenwysings na die wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.
Rom .10:4; Gal. 3:4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2,18.
Artikel 26
CHRISTUS ONS VOORSPRAAK
Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus,
die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons,
mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie
Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins
sodat ons 'n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder
die skepsels wat vir ons groter liefde het as Jesus Christus nie, Hy
' wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van 'n mens en van 'n
slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Filp 2:6, 7 en Heb 2:17). As ons dus moes soek
na 'n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy
wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en
aansien het, wie besit meer as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde
het (Matt 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan
vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets
wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit ook
uit hulle skrifte blyk.
Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op
grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid
van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel - wanneer hy
hierdie dwase vrees of liewer gebrek aan vertroue van ons wil wegneem - dat Jesus in elke opsig aan sy broers gelyk
geword het, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen.
Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb 2:17, 18). En om ons nog meer moed
te gee, sê die apostel vervolgens: Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het,
naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons
swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan
met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die
regte tyd gehelp te word (Heb 4:14 - 16). Dieselfde apostel sê: Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die
heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus... laat ons dan toetree met 'n waaragtige hart in volle
geloofsversekerdheid... (Heb 10:19, 22). En voorts: maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op
ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red dié wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle
in te tree (Heb 7:24, 25). Wat kom daar nog kort, aangesien Christus self sê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe;
niemand kom tot die Vader behalwe deur my nie (Joh 14:6)? Waarom sal ons 'n ander voorspraak soek, aangesien
dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om 'n ander te neem of
liewer om 'n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed
geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus,
ons enigste Middelaar, soos dit in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader
in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh 16:23).
1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:26; Deut. 4:24; Gen. 3:10; Eks. 20:19; Jer. 2:33; Jes. 43:22; Hos. 13:9; Luk. 18:19; Ef. 3:20; 1 Joh. 4:10; Ef. 3:19; Filip. 2:7; Joh. 15:13; Matt. 28; Heb. 1:3,7; Jes. 55:1-3; Matt. 11:28; Jak. 5:17; Ps. 115:1; Hand. 14:15; 10:26; Heb. 9:24; Joh. 11:9; Hand. 4:12; 1 Kor. 1:30; Ps. 34:7; Jer. 2:5; Heb. 4:14,16; Jer. 17:5,7; Heb. 2:17,18; 4:14-16; Ef. 2:18; Heb. 10:19; 7:25; Joh. 14:6; Ps. 44: (21) 6; 1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:34; Luk. 11:2; Joh. 14:13; Jer. 16:20; Heb. 13:15; Rom. 5:8.
Artikel 27
DIE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK
Ons glo en bely 'n enige katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat
almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees.
Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige Koning,
wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld
bewaar, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos
die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat die voor Baäl gekniel
het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot 'n sekere plek of sekere persone nie, maar
dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en
dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.
Ps. 46:6; Jer. 31:36; Ps. 102:14; Matt. 28:20; 2 Sam. 7:16; Luk. 1:32; Ps. 89:37; 110:4; Gen. 22; Rom. 11; 1 Kon. 19:18;
2 Tim. 2:19; Luk. 17:21; Matt. 11:25; Hand. 4:32; Ef. 4:4; 1 Pet. 3:20; Gen. 22:18; Matt. 16:18; Jes. 1:9; Rom. 9:29; Joël
2:32; Hand. 2:21.
Artikel 28
ELKEEN IS VERPLIG OM BY DIE WARE KERK AAN TE SLUIT
Ons glo - aangesien hierdie heilige vergadering 'n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid
is nie - dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou
nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te
bewaar deur hulle almal - as lede van een en dieselfde liggaam - aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die
juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle
geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af
te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig
het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood - of lyfstraf oplê. Daarom
handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.
Ps. 5:6; 22:23; Ef. 4:12; Heb. 2:12; Matt. 24:28; Jes. 49:22; 52:11,12; Hand. 4:17,19; Heb. 10:25; Op. 17:2; Hand. 17:7;
18:13.
Artikel 29
DIE KENMERKE VAN DIE WARE EN DIE VALSE KERK
Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware
kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle en onregte die naam kerk toe-eien. Ons praat
hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle
uiterlik daarin is; maar ons sê dat 'n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al
die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende:
Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die
kerklike tug gebruik om die sondes te straf - kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God
gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met
sekerheid die ware kerk uitken en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.
Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik
hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die
geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met
sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle
juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en
gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.
Wat die valse kerk betref: Dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit
wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord
beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus en dit vervolg
hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.
Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.
Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4,14; Matt. 28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol. 1:23; Hand. 17:11;
Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20; 1 Joh. 4:2 (en 3:9); Rom. 6:2; Gal. 5:17,24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18,19; Ps.2:3;
Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.
Artikel 30
DIE REGERING VAN DIE KERK
Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons in die Here ons in sy Woord geleer
het, geregeer moet word. Daar is naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die
sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel
moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse
vermaan en in toom hou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse
sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif
wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus gee (1 Tim 3).
1 Kor 4:1, 2; 2 Kor 5:19; Joh 20:23; Hand 26:18; 1 Kor 15:10; Matt 5:14; Luk 10:16; Gal 2:8; Tit 1:5; 1 Tim 3.
1 Kor. 4:1,2; 2 Kor. 5:19; Joh. 20:23; Hand. 26:18; 1 Kor. 15:10; Matt. 5:14; Luk. 10:16; Gal. 2:8; Tit. 1:5; 1 Tim. 3.
Artikel 31
DIE AMPSDRAERS VAN DIE KERK
Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word
deur middel van 'n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos
die Woord van God leer. Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring.
Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit
van God kom.
Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag
en gesag, omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is - die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van
die kerk. Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat
elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk
wat hulle doen en sover moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.
Hand. 6:3,4; 1 Tim. 4:13; Hand. 1:23; 13:2; 1 Tim. 5:22; 1 Kor. 12:28; Rom. 12:8; 1 Tim. 4:14; Matt. 18:26; 1 Kor. 3:8; Rom. 12:7,8; 2 Kor. 5:19; Hand. 26:18; Jes. 61:1; Ef. 1:22; Kol. 1:28; 1 Tess. 5:12,13; Heb. 13:7,17.
Artikel 32
DIE ORDE EN TUG VAN DIE KERK
Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar 'n bepaalde orde tot
instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van
wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.
En daarom verwerp ons alle menslike versindsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op
watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag
en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban
en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.
1 Kor. 7:57; Kol. 2:6,7; Matt. 15:9; Jes. 29:13; Gal. 5:1; Rom. 16:17,18; Matt. 18:17; 1 Kor. 5:5; 1 Tim. 1:20.
Artikel 33
DIE SAKRAMENTE
Ons glo dat ons goeie God, omdat hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou. Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare tekens en seëls van 'n inwendige en onsigbare saak en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees. Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees. Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en van die heilige nagmaal van Jesus Christus.
Rom. 4:11; Gen. 9:13; 17:10,11; Eks. 12; Kol. 2:11; 1 Kor. 5:7; Matt. 28:19; 26:26; Rom. 10:9; Kol. 1:11; 1 Pet. 3:20; 1 Kor. 10:2.
Artikel 34
DIE HEILIGE DOOP
Ons glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom 10:4), deur sy bloed te stort 'n einde gemaak
het aan elke ander bloedvergieting wat 'n mens tot versoening of tot voldoening van sondes sou kan of wil aanwend.
Hy het die besnydenis, wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop
ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste
afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra. Dit dien vir ons tot 'n getuienis dat
Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees. Daarom het Hy ons beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone
water in die Naam van die Vader en die Seun en die heilige Gees te doop (Matt 28:19).
Hy toon ons daarmee dat, soos die water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons gegiet word en soos die
water op die liggaam van die dopeling gesien word wanneer dit daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van
Christus deur die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat
ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Dit gebeur nie deur die uitwendige water nie
maar wel met die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God, ons Rooisee waardeur ons moet trek
om aan die slawerny van Farao, dit wil sê die duiwel, te ontkom en in die geestelike land Kanaän in te gaan. Die
bedienaars gee ons van hulle kant dus met die sakrament wat sigbaar is, maar die Here gee wat met die sakramente
aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en
ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egter sekerheid van sy Vaderlike
goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke.
Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te
herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie. Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons
is en en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe. Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat
nie tevrede is met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie en wat bowendien ook nog die doop van die
gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die
verbond te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde beloftes besny is as wat aan ons kinders gemaak
is. En, waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes
vergiet nie. Daarom behoort hulle die teken en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen het, soos
die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe
van Christus deur vir hulle 'n lam te offer, wat 'n sakramentele heenwysing na Jesus was. Buitendien doen die doop
aan ons kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit is die rede waarom die heilige
Paulus die doop die besnydenis deur Christus noem (Kol 2:11).
Matt. 28:19; 1 Kor. 6:11; Tit. 3:5; Heb. 9:14; 1 Joh. 1:7; (Op. 1:5); 1 Pet. 1:2; 2:24; 1 Joh. 5:16; Joh. 19:34; Matt. 3:11; 1 Kor. 3:7; Rom. 6:3; Ef. 5:26; Hand. 22:16; 1 Pet. 3:21; Gal. 3:27; 1 Kor. 12:13; Ef. 4:5; Heb. 6:1,2; Hand. 8:16; 2:38,41; Matt. 19:14; 1 Kor. 7:14; Gen. 17:11; Kol. 2:11; Lev. 12:6.
Artikel 35
DIE HEILIGE NAGMAAL
Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal beveel en ingestel het om
hulle te voed en te onderhou wat Hy reeds wederbaar en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou het dié wat
wedergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring
het en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte, wat deur
die woord van die evangelie in die gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind. Almal deel nie in hierdie lewe
nie, maar slegs die uitverkorenes van God. So het God tot instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons
aardse en gewone brood voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self, aan almal. Maar om die geestelike
en hemelse lewe wat die gelowiges besit, in stand te hou het Hy vir hulle 'n lewende brood gestuur wat uit die hemel
neergedaal het, naamlik Jesus Christus; Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet,
dit wil sê deur die geloof toegeëien en ontvang word. Om hierdie geestelike brood vir ons af te beeld het Christus
aardse en sigbare brood as 'n teken van sy liggaam en wyn as teken van sy bloed in te stel.
Hy gee ns daarmee dit te kenne: so waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou en dit met ons
mond eet en drink en dit daarna in die lewe hou, net so waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur
die geloof - die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser.
Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir ons voorgeskryf het nie; Hy doen
immers in ons alles wat Hy vir ons in hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir
ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werk van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is. Tog dwaal
ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus
is nie; maar die manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie maar met die Gees deur die geloof. Daarom, al
bly Christus altyd aan die regterhand van sy Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan
Homself deel te laat hê nie.
Hierdie feesmaal is 'n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons
Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet. Hy voed, versterk en vertroos ons arme troostelose siel
as ons sy liggaam eet en Hy verkwik en herstel dit as ons sy bloed drink.
Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word nie beide deur alle mense
ontvang nie. Die goddelose ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die
sakrament nie. So het Judas en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat daardeur
voorgestel word nie; Hy
' word slegs aan die gelowiges gegee.
Ten slotte, ons ontvang hierdie sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God, waar
ons met danksegging 'n heilige gedagtenis aan die dood van Christus ons Verlosser onderhou en belydenis van ons
geloof en van die Christelike godsdiens doen. Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers
deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel drink as hy van hierdie brood eet en van hierdie beker drink
nie (1 Kor 11:29). Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot 'n vurige liefde vir God en ons
naaste beweeg. Daarom verwerp ons alle brousels en verwerplike versindsels wat mense by die sakrament bygevoeg
en daarmee vermeng het, as onheiligings daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die verordening wat
Christus en sy apostels ons geleer het en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het.
Matt. 26:26; Mark. 14:17; Luk. 22:19; 1 Kor. 11:24, 28; Joh. 3:6; 10:10; 5:25; 6:48,51,63; 1 Kor. 10:16,27; Ef. 3:17; Joh. 6:35; Hand. 3:21; Mark. 16:14; Matt. 26:11; 1 Kor. 10:3,4; 11:29; Rom. 8:22; 2 Kor. 6:15; 2 Kor. 6:15; 1 Kor. 2:14; Hand. 2:42; 20:7.
Artikel 36
DIE BURGERLIKE OWERHEID
Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel
het. Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid
van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié doel het Hy die
owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. En
dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige
Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van
die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord en die evangelie orals te laat
verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.
Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te
onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die
Woord van God in stryd is nie en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur,
sodat ons in alle godsvrug en eerbaarheid 'n rustige en stil lewe kan lei (1 Tim 2:2). Hierin verfoei ons die Wederdopers
en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en die regeerders wil verwerp en die
regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder
mense ingestel het, versteur.
Eks. 18:20; Rom. 13:1; Spr. 8:15; Jer. 22:3; Ps. 82; Deut. 1:16; 16:19; 17:16; 2 Kor. 10:6; Ps. 101; Jer. 21:12; Rig. 21:25; Jer. 22:3; Dan. 2:21,22; (5:8); Jes. 49:23; 2 Kron. 23; 1 Kron. 15:12; Rom. 13:1; Luk. 22:1; 1 Pet. 2:17; Tit. 3; Matt. 17:27; Hand. 4:17-19; Hand. 2, 5; Hos. 5:11; Jer. 27:5,2; 2 Pet. 2:10; Jud. 1:10; 1 Tim. 2:2.
Artikel 37
DIE LAASTE OORDEEL, DIE OPSTANDING EN DIE EWIGE LEWE
Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal
het-die tyd is vir alle skepsels onbekend-en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met
groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het, om Homself as
Regter oor die lewendes en die dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit
te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense,
mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot
Regter verskyn. Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, die siel van elkeen saamgevoeg en verenig met die
liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog lewe, sal nie soos die ander sterwe nie maar in 'n oogwink verander
en uit verganklikheid onverganklik word. Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word
volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of sleg. Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke
ligsinnige woord wat hulle gesê het, al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime
bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word. Daarom is die gedagte aan hierdie
oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes
begeerlik en troosryk. Want dat sal hulle volle verlossing voltooi word en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite
en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God
sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses
sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog
slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt 25:41). Die gelowiges en
uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy
Vader (Matt 10:23) en sy uitverkore engele bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op 21:4). Dan sal dit bekend
word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van
die Seun van God is. En as 'n beloning uit genade sal die Here self hulle so 'n heerlikheid gee as wat die hart van 'n
mens nooit sou kon bedink nie.
Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten
volle te geniet.
Matt. 13:23; 25:13; 1 Tess. 5:1,2; Matt. 24:36; Op. 6:11; Hand. 1:11; 2 Pet. 3:10; Matt. 24:30; Op. 21:11; Matt. 25:31; Jud. 1:15; 1 Pet. 4:5; 1 Tim. 4:1; 1 Tess. 4:16; 1 Kor. 15:51; Matt. 1:22; Mark. 12:18; Matt. 23:23; Joh. 5:29; Rom. 2:5; Heb. 6:2; 9:27; Matt. 12:36; 2 Tess. 1:5; (Heb. 10:27); 1 Joh. 4:17; Op. 14:7; Luk. 14:14; 2 Kor. 5:10; Op. 21:8; 22:12; Dan. 7; Matt. 25:41; 2 Pet. 2:9; Jes. 25:8; Matt. 10:32; Op. 21:4; Jes. 66:5; 1 Kor. 2:9.