Probeer vir 'n oomblik eers om self 'n antwoord op die volgende vraag te gee: As jy in een sin moet sê waaroor dit nou regtig in die Bybel gaan, wat sal jy antwoord? Sal jy kan saamstem dat as mens mooi al die moontlike antwoorde gereduseer het tot een dan sou mens kan sê dat dit gaan om die koninkryk van God. Die fokus het alles te make met die
realisering van God se koninkryk. Daarom is dit verskriklik belangrik om te verstaan wat die koninkryk van God behels. Mens sou ook kan sê dat wanneer mens die Bybel lees, jy elke
keer vir jouself sou kan vra: Wat wil hierdie gedeelte vir my leer oor die koninkryk van God? Dit vorm dus altyd die onderliggende konteks vir die verstaan van die Bybel.
In hierdie artikel gaan ons begin kyk na die koninkryk van God deur op twee dinge te konsentreer: eers die verstaan van wat 'n koninkryk nou eintlik is en hoe dit van toepassing is op
die koninkryk van God en daarna te kyk hoe hierdie koninkryk in die Ou Testament begin realiseer het.
Sê nou maar jy loop 'n mannetjie van Mars raak en hy sou vir jou vra: Wat se ding is 'n koninkryk? Wat sal jy vir hom antwoord? Dink bietjie mooi daaroor. Uiteindelik gaan dit om drie dinge wat saamloop: iemand wat regeer (beheer uitoefen), mense wat regeer word (gelei of beheer word), 'n plek waar dit alles gebeur en 'n stel reëls waarvolgens dit gebeur. 'n Ou met die naam van Graeme Goldsworthy het 'n baie eenvoudige definisie vir die koninkryk in die Ou Testament. Hy sê: "The kingdom is God's people, in God's place, under God's rule". God is dus die een wat regeer of beheer uitoefen oor sy mense (mense wat Hy self gekies het) in 'n plek wat God self bepaal het. Dit gebeur op 'n baie interressante manier.
As mens nou met bogenoemde kort uiteensetting van wat 'n koninkryk behels na die Ou Testament toe gaan, dan kom die volgende klompie dinge onder ons aandag.
In die tyd van die ontstaan van die Bybel was daar baie verskillende gode onder al die verskillende nasies. As alle mense dieselfde god aanbid het, sou dit maklik wees om oor so 'n god te praat en om sy heerskappy te verstaan. Maar nou dien almal nie dieselfde god nie en daarom is dit baie belangrik om mooi te verstaan wie is die God van die Bybel. Let op die volgende sake:
Elke koninkryk het sekere mense wat deur die koning wat in beheer is, gelei word. Wie is dan die mense (burgers) wat God se koninkryk uitmaak? Kom ons begin eers weer by die nasies
waarvan die Ou Testament praat. By al daardie volkere het die mense self gekies watter sogenaamde gode hulle wil dien. Vir party was dit die son. Ander het weer gekies om beelde van
die gode te maak. Sommige nasies het die natuur aanbid. Feit van die saak is dat in alle gevalle was dit die mense wat self besluit het wie hulle gode is. Jesaja praat selfs spottenderwys
daarvan as hy in Jes 44:9-10 sê: "Dié wat afgodsbeelde maak, is self almal niks; die dierbare gode van hulle kan nie help nie. Dié wat vir hulle moet getuig, kan nie sien nie,
kan nie verstaan nie; dié wat sulke gode het, word teleurgestel. Wie maak nou ’n god, giet ’n beeld wat nie kan help nie!". En verder in Jes 44:14-17 spot die profeet: "Die ambagsman kap vir hom seders af, of hy kies sipresse of eike en laat hulle groot word in die bos, of hy plant ’n lourierboom, en die reën laat dit groot word. Dit dien as vuurmaakhout vir die mens;
iemand vat daarvan en maak hom warm, of hy maak ’n vuur om brood te bak, of hy maak ’n god en aanbid dit, hy maak ’n beeld en buig daarvoor. ’n Deel van die hout verbrand hy:
hy maak kos daarmee gaar, hy braai vleis en eet tot hy genoeg het; hy maak hom ook warm en sê: “Dis lekker! Ek is warm, ek geniet die vuur!” Van die hout wat oorbly, maak hy ’n god, ’n beeld,
hy buig voor hom en aanbid hom, hy bid tot hom en sê: “Red my, want jy is my god!” Sulke mense weet nie wat hulle doen nie".
Dit is juis wat die volk van God so uniek maak. Hulle het nie God as hulle Koning gekies nie, maar Hy het hulle as sy volk gekies. Van die begin af was dit so. Om hierdie verkiesing deur
God te verstaan, moet opgemerk word dat die verhouding tussen God as Koning en sy volk ten nouste verband hou met die verskillende verbonde wat God met sy mense deur die eeue gesluit het.
Sonder om hier breedvoerig daarop in te gaan, kan net vermeld word dat daar in die Ou Testament sprake is van die verbond tussen God en Adam (die Adamietiese verbond), die verbond
tussen God en Noag (die Noagietiese verbond) en die verbond van God met Abraham (die Abrahamietiese verbond wat ook die genadeverbond genoem word). Wat vir ons verstaan van God se koninkryk
van groot belang is, is die feit dat dit telkens God is wat die inisiatief neem en na die mense toe kom om eensydig met hulle 'n verbond te sluit. Die belangrikste belofte wat telkens
in hierdie verbonde gegee word is die formule: "Ek sal julle God wees" (Vgl Gen 15-17). Dit is dus nie die mense wat God kies nie, maar andersom - amper teen alle verwagtinge in omdat
die mense eintlik gekies het om die rug op God te draai.
Dit is dan ook die hartseer van die verhaal van die mense in God se koninkryk. Van die begin af is hulle nie lus om hulle aan God as Koning te onderwerp nie. In Gen 3 word die sondeval
dan ook juis bekryf as 'n keuse wat die mens gemaak het om teen God kant te kies en op homself te fokus. Dwarsdeur die Ou Testament is dit dan ook telkens die kenmerk van hierdie volk
van God naamlik dat hulle gedurig teen God in opstanad kom en graag agter die ander nasies se gode aanloop. Daarom word van die volk Israel in Eseg 2:6 gesê: "Hulle is 'n
weerbarstige volk". Alhoewel God van sy volk verwag het om hom getrou te dien, het net die teenoorgestelde gebeur sodat dit uiteindelik vir God nodig was om sy volk te straf en in
die hande van ander heidense nasies oor te gee. Tog, ten spyte van die volk se ongehoorsaamheid, bly God getrou aan sy verbondsbeloftes sodat Hy telkens ook maar weer vergewe en
sy mense red en vir hulle voorsien. Vgl byvoorbeeld Jes 44:1-3 : "Maar luister nou, my dienaar Jakob, Israel wat Ek uitverkies het: So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou gevorm
het in die moederskoot en jou nou nog help: Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob, Jesurun wat Ek uitverkies het. Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond.
Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge".
Waar sou die koninkryk van God in die Ou Testament gestalte kry? Anders as in die Nuwe Testament (volgende artikel) kry God se koninkryk in die Ou Testament 'n baie aardse karakter.
Omdat die koninkryk verband gehou het met 'n spesifieke etniese volk, was die plek waar die koninkryk sou realiseer ook baie aards gewees. Dit het in Palestina, in die beloofde land,
uitgerol. Tussen die ander nasies moes God se koninkryk al duideliker gestalte aannneem. Dit gaan gepaard met baie stryd en oorlog, bloedvergieting. Hierdie styd gaan ten diepste
om die feit dat die volk van God swak was en nie saam met ander volkere in dieselfde land kon woon sonder om die gode van die ander nasies te aanbid nie. Wat dit aanbetref, was die
volk swak en sondig. In Rigt 3:6 word daarna verwys: "Die Israeliete het met die dogters van hierdie nasies getrou en hulle dogters met hierdie nasies se seuns laat trou. Die Israeliete het hierdie nasies se gode gedien". En dit ten spyte van Eks 20:3 "Jy mag naas My geen ander gode hê nie". So is die verhaal van God se mense 'n baie hartseer verhaal.
Wanneer mens dus in die Ou Testament lees van al die oorloë en stryd tussen Israel en die ander nasies dan moet mens nie in die eerste plek dink dat God 'n wrede god is nie,
maar dat sy volk 'n ongehoorsame groep mense is en dat Hy hulle teen hulleself probeer beskerm het. In Eks 20 word God se motivering ook uitgespel met die woord: "Ek is 'n jaloerse God"
(Eks 20:5 OAV). Jaloers word hier in 'n positiewe sin bedoel naamlik dat God sy mense nie met ander gode wil deel nie. Die 1983 afrikaanse vertaling vertaal dit met "eis onverdeelde
trou aan my".
Elke koninkryk het sekere grondreëls wat deur die koning vasgestel word en vir die onderdane geld. Die bedoeling daarvan is om dit vir die mense moontlik te maak om rustig
en vreedsaam saam te leef en gelukkig te wees. So was daar ook vir die volk Israel so 'n stel grondreëls wat gegeld het. Ons vind dit uitgespel in Eks 20 en in Deut 6. Dit word ook
die Tien Gebooie genoem. Solank as die volk volgens hierdie gebooie leef, sou hulle voorspoed, vrede en geluk ervaar. Reeds in die Ou Testament word hierdie gebooie saamgevat onder die
een groot beginsel van liefde: ware liefde uit die hele hart vir God (Deut 6:5) en jou naaste liefhê soos jouself (Lev 19:18). Die bedoeling van die Tien Gebooie was dus nie
om dit vir die mense so moeilik as moontlik te maak om te leef nie, maar juis om vir hulle sekere bakens daar te stel waarbinne hulle moet lewe sodat hulle gelukkig kan wees.
Dit is treffend dat Johan Heyns juis sy boek oor die Tien Gebooie die titel gee van "Tien stippellyne langs die pad".
Behalwe vir die Tien Gebooie was dit in die Ou Testament vir God egter ook nodig om aan sy volk detail opdragte te gee oor die kultiese handelinge waarvolgens hulle Hom moet aanbid
en dien. In die verband moet ons onthou dat die volk 'n rondswerwende en onontwikkelde volk was en daarom gehelp moes word om hulle aanbidding tot eer van God in te rig. Lees gerus
die eerste vyf boeke van die Ou Testament om die detail hiervan te sien.
Wat verder belangrik is om te weet, is die feit dat God nie vir die volk die grondreëls van sy koninkryk gee sodat hulle hom daarmee kan beïndruk of sy arm vir gunste kan
draai nie. Nee, Hy gee dit juis aan hulle nadat hulle uit Egipte bevry is sodat hulle moet hoor hoe hulle as reeds bevryde volk nou die Here dankbaar moet dien. Die grondreëls
is dus nie bedoel as manier om by God sekere dinge te verdien nie, maar om Hom daarmee te verheerlik. Daarom moet telkens voor elkeen van die wette die woorde ingevoeg word: "Noudat
jy verlos is, moet jy ...".
Wat van groot belang is, is om raak te sien dat ook in die Ou Testament was die koninkryk van God missionêr van aard. Al is dit so dat God self sy mense gekies het en al is dit so dat in die Ou Testament die klem val op die etniese volk Israel was die bedoeling nooit om ander mense en volkere uit te sluit uit die volk van God nie. Telkens kry ons die indruk dat God se bedoeling was dat ander nasies se mense na sy volk moes kon kyk en self verlang om deel van God se volk te word. Twee van die mooiste voorbeelde hiervan is eerstens die verhaal van Jona. Of Jona nou ookal werklik geleef en gewerk het en of dit net 'n verhaal was, is nie regtig van belang nie. Wat wel van belang is, is die boodskap wat deur die verhaal aan ons deurgegee word naamlik dat God ook die God van ander nasies wil wees en dat Hy ook teenoor hulle genadig en barmhartig is. Hy wil sy mense gebruik om sy liefdesboodskap aan hulle oor te dra. Die tweede voorbeeld is die verhaal van Daniël. Al is Daniël deel van die groep jongmanne wat in ballingskap weggevoer word na Babilonië om daar onder 'n heidense koning te gaan slawewerk verrig, bly Daniël en sy vriende so getrou aan hulle God dat hulle getuienis oor die hele heidense land respek vir God afdwing. Darius, die heidense koning, vaardig selfs 'n bevel uit wat sê: "Ek gee hiermee opdrag dat in my hele koninkryk die God van Daniël gevrees en geëer moet word. Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. (Dan 6:27). Wat 'n getuienis was Daniël se lewe. Hy was gewillig om daarvoor te sterf. As gevolg van sy getrouheid is hy in die leeukuil gegooi. Maar, die God van Daniël is getrou. Hy het hom uit die leeukuil gered en hy is net onder die koning aangestel. God se koninkryk is bedoel om die hele wëreld in te sluit. Daarvoor wil Hy sy mense gebruik om sy Naam te verheerlik al kos dit wat.