Een van die opvallendste dinge van menswees is die feit dat die mens sy wêreld leer ken deur vrae te vra.
Van kleinsaf is daar hierdie ingeboude nuuskierigheid by die mens om sy omgewing en alles daarin te ontdek. Die manier
waarop hy dit doen, is deur vrae te vra. Kyk maar net hoe dikwels moet ouers bont staan om hulle klein kindertjies se magdom
vrae elke dag te beantwoord.
Die grootste fout wat ouers natuurlik kan maak, is om die vra van vrae by hulle kinders af te raai of om hulle te ignoreer of om
sommer enige antwoord te gee net om ontslae te raak van die laspossies. Nee, die vra van vrae bly die beste manier hoe die mens
van vroegaf sy konteks kan leer ken en ontgin.
Dieselfde geld natuurlik vir die hantering van konflik. Jy sien, deur 'n vraag te vra, staan jy neutraal. Die vraag veronderstel
dat jy nie seker is van die antwoord nie en gewillig is om deur die ander geleer te word. Dit skep 'n soort openheid wat die ander
nie noodwendig bedreigd laat voel nie. Ek sê "nie noodwendig nie" om daarmee te erken dat 'n mens natuurlik altyd deur 'n
bepaalde liggaamstaal en manier van formulering 'n vraag so kan stel dat die ander persoon bedreiging ervaar. Daarom is die manier
waarop jy vrae vra natuurlik van uiterste belang. Hier word nie verder daarop ingegaan nie en word veronderstel dat jy besef dat jou
liggaamstaal en die manier waarop jy die vrae stel van nog groter belang is as die feit dat jy vrae vra.
Wat weet jy van die partye en hulle verhouding met mekaar?
Inligting oor die partye wat in die konflik betrokke is, is van uiterste belang. Daarom moet jy uit jou pad uit gaan om alles moontlik oor
hulle uit te vind. Dinge soos agtergrond, kultuur, persoonlikheid, opvoedingspeil, verwysingsraamwerk, herkoms, ens vorm alles die
algemene verwysingsraamwerk waarteen enige mens sy/haar wêreld waarneem en beleef. Inligting daaroor gaan jou dus instaat stel om
beter te verstaan waarom 'n persoon op 'n bepaalde saak reageer soos wat hy/sy reageer.
Wat weet jy van die omstandighede en agtergrond van die konflik?
Enige konflik het te make met 'n sekere saak waaroor daar verskil word. Nie alle sake dra dieselfde gewig nie. Rondom elke saak is daar gewoonlik
ook 'n hele klomp omstandighede wat dit makliker of moeiliker verstaanbaar maak. In die hantering van die konflik is dit dus van kritiese
belang om seker te maak presies wat die verskillende faktore is wat die saak beïnvloed. Daar moet deurgaans gepoog word om op die
saak van die konflik te konsentreer en nie persone aan te val nie.
Wat weet jy van die grondoorsaak en doel van die konflik?
In die hantering van enige konflik moet moeite gedoen word om vas te stel wat ten diepste regtig die aanleidende oorsaak van die konflik is. Soms
kan dit selfs gebeur dat iemand doelbewus 'n konflik veroorsaak om 'n bepaalde doel te bereik. Indien dit die geval is, is dit belangrik om dit
raak te sien en dan die saak aan te spreek. Soms is die oorsaak van 'n konflik nie so ooglopend nie en nie soseer geleë in die onmiddellike
situasie nie, maar ver terug in die verlede. Dit kan wees dat iemand met 'n klomp onverwerkte emosies of ervarings uit die verlede sit wat nog nooit
aangespreek of verwerk is nie. Dit is dus indirekte oorsake van die konflik. Dan moet dit aangespreek word omdat dit dan waarskynlik die eintlike
probleem is en nie die oënskynlike saak wat in die konflik na vore kom nie.
Wat is die standpunte/eise en mag van die partye?
Die verskillende partye in die konflik beklee noodwendig 'n bepaalde magsposisie. Hierdie posisie kan 'n groter of kleiner rol in die hantering van
die konflik speel. Hoe groter die verskil tussen die partye se magsposisies, hoe moeiliker word dit om die konflik te hanteer. So is dit byvoorbeeld
baie moeilik vir 'n werknemer om 'n konflik met sy werkgewer te bestuur omdat hy vir baie dinge, waarvan sy werk onder andere, van sy werkgewer se
goeie gesindheid afhanklik is. Aan die anderkant moet mens altyd onthou dat die verantwoordelikheid tot billikheid en openheid in 'n konflik baie
swaarder rus op die skouers van die party wat ooglopend oor die meeste mag beskik. Daar moet ten alle koste gewaak word daarteen dat so 'n persoon
sy magsposisie misbruik. Om hierdie gevaar te help vermy, kan dit dus baie help as die hulp van 'n derde onafhanklike party ingeroep word om die oplossing
van die konflik te bestuur (soos tans in Zimbabwe gebeur met die bemiddeling van mnr Mbeki).
Wat is elke party se belange en behoeftes?
Elke pary moet seker maak dat hy/sy deeglik bewus is van sy/haar eie en die ander party se belange en behoeftes ten opsigte van die saak waaroor die
konflik handel. In dié verband spreek Paulus 'n waar woord in Fil 2:3 & 4 as hy sê: "Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid
moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander."
Wat is die eintlike probleem?
Na al bogenoemde vrae beantwoord is, behoort dit moontlik te wees om vas te stel wat die eintlike probleem is. Dit is dikwels goed moontlik dat
dit nie regtig die aanvanklike probleem is nie, maar eintlik iets heeltemal anders. Die goue reël in enige konflik is altyd: Spreek die eintlike
probleem aan en moenie mense persoonlik aanval nie.
Moenie jou antwoorde op ongekontroleerde afleidings baseer nie.
Laastens moet iets gesê word oor die hantering van die antwoorde op die vrae. By die soek van antwoorde moet noodwendig afleidings gemaak word
uit die inligting wat as antwoorde aangebied word. Die probleem met afleidings is dat dit natuurlik weereens deur verskeie faktore beïnvloed word sodat
die gevaar altyd bestaan dat iemand se afleiding verkeerd kan wees. Daarby is enige afleiding altyd 'n subjektiewe saak. Wat dikwels die hantering
van die konflik baie moeilik maak, is die feit dat partye afleidings maak, die korrektheid daarvan nie kontroleer nie en dan alle argumente in die konflik
verder op hierdie verkeerde afleidings bou. Uit die aard van die saak kan mens dan nie by die regte oplossing uitkom nie. Daarom is dit van die grootste
belang dat elke party wat in die konflik betrokke is, elke afleiding wat gemeek word eers sal kontroleer. 'n Persoon kan byvoorbeeld sy afleiding openlik
formuleer en die ander party vra of hy/sy dit ook so verstaan. Sodoende kry die ander party kans om die korrektheid daarvan te onderskryf of om korreksies
aan te bring indien dit nodig is. Op die manier werk mens in die konflik ten minste met dieselfde vertrekpunte en kan 'n oplossing makliker bereik word.
Ten slotte moet net gesê word dat hier deurgaans van die veronderstelling uitgegaan word dat die partye in die konflik met dieselfde stel waardes
as vertrekpunt werk. As een party(e) byvoorbeeld met die waardes van God se Woord as vertrekpunt werk en die ander party(e) gebruik 'n wêreldse waardesisteem
as vertrekpunt, kan die bestuur van die konflik nogal uiters moeilik raak. Daarom is dit nodig dat mens ook wat die basiese waardesisteme betref met mekaar sal
uitklaar watter een die basis van die gesprek vorm.
Gebruik die volgende skrifgedeeltes as soort gevallestudies. Probeer uit die gedeeltes en ander inligting wat jy uit die
Bybel kry, om die vrae hierbo ten opsigte van die betrokke konfliksituasies te beantwoord. Hoe sou jy die konflikte hanteer het?
Hoe kon die betrokke partye anders opgetree het?
- Hand 15:36-40 - Paulus en Barnabas.
- Mark 3:1-6 - Jesus en die kerkleiers van sy tyd.
Terug na hoofblad