Konflikhantering: Hoe tree mense op wanneer probleme opduik?
Verskillende mense tree op verskillende manier op wanneer hulle met prbleme te doen kry. Aan die
anderkant kan dit ook gebeur dat dieselfde mens verskillend optree in die hantering van verskillende
soorte probleme. Hoe iemand (jyself) optree in probleemsituasies, gee 'n goeie aanduiding hoe iemand ook
konflik hanteer.
'n Eenvoudige voorbeeld sal jou help om te verstaan wat bedoel word. Veronderstel een van die deure in die
huis kraak baie as dit oop of toe gemaak word. Een persoon in die huis sal ongestoord voortgaan asof niks
gebeur nie. Nog iemand sal grensloos geïriteerd raak en hoop iemand doen iets omtrent die deur. 'n Derde
persoon sal die blikkie olie gaan haal en die skarniere kom olie gee sodat die probleem opgelos is. Dit
laat mens dadelik vermoed dat as die eerste persoon in 'n konflik situasie kom, sal hy waarskynlik redelik
apaties optree en moeilik daardeur versteur word. Die tweede persoon sal erg omgekrap raak, maar waarskynlik nie die
moed hê om die probleem aan te spreek nie. Die derde persoon sal vermoedelik dadelik die bul by
die horings pak en die saak uitsorteer.
Om te weet hoe iemand gewoonlik in die hantering van probleme optree, help baie om te weet hoe so iemand in
'n konflik sal optree. Dit kan jou baie help om jou strategie te beplan. Daarom gaan ons in hierdie artikel so
'n bietjie praat oor die manier waarop mense optree in probleemsituasies met die hoop dat dit ook sal help om
konflik beter te hanteer. Dit sal jou hopelik ook help om jouself beter te verstaan as jy let op hoe jy reageer in probleemsituasies.
Twee basiese kategorieë van Reaksies op probleme
Mens sou die reaksies van mense basies in twee kategorieë kan indeel: mense tree of so op dat dit afbrekende (negatiewe)
gevolg het of so dat dit opbouende (positiewe) uitkoms oplewer. Kom ons kyk kortliks na die twee groepe:
- Reaksies wat afbreek (destruktief/negatief):
Reaksies wat onder andere op een van die volgende maniere
vorm aanneem, het gewoonlik baie destruktiewe gevolge.- Fisiese geweld – bv Gen 4:5-8; 27:41.
- Psigiese geweld – vgl Spr 15:28; 17:19-20. Mense praat hier ook van emosionele verkragting. Dit gebeur wanneer iemand
geneig is om ander af te kraak, sleg te sê of te verkleineer wanneer probleme opduik. Dit gebeur wanneer die "persoon"
gespeel word in plaas van die "bal".
- Spirituele geweld – bv Num 22:5b-7; Jer 27:9-11. Sommige mense val aan met godsdiens of spirituele temas. Iemand sal bv
sê: “Die Here het vir my gesê…” Daarmee word ander lamgelê want as die Here dan opdrag gegee het, wie is die
mens dan om dit teen te gaan.
- Opbouende reaksies (konstruktief):
Die volgende optredes het 'n positiewe, opbouende uitkoms:
- Woorde van waarheid – vgl Spr 12:17. Dit gebeur wanneer iemand in die hantering van 'n probleem dadelik terugval op
die vraag na die waarheid. Waarom gaan dit nou eintlik?
- Woorde van vergifnis – vgl Spr 17:9. Iemand wat so optree, het 'n basiese houding van vergewensgesindheid. Dit is gewoonlik
iemand wat besef dat alle mense uiteindelik maar net mense is wat foute kan maak en daarom nie iemand se verkeerde optrede
(indien dit die oorsaak van die probleem is) teen hom/haar sal hou nie.
- In afhanklikheid van die Here – vgl Spr 16:7; Jes 2:3-4. Hierdie persoon benader sy lewe (en daarom ook probleme en
konflik) gedurig vanuit die vraag: "Hoe moet die Here se wil geskied, sy eer gesoek word?".
- Wat is die basiese verskil tussen hierdie twee?
Dit is duidelik dat die groot verskil daarin gesetel is dat die eerste
tipe mens oor homself en sy eie voordeel besorg is. Die tweede tipe mens fokus weg van hom-/haarself op die Here en sy wil.
Die eerste baie belangrike ding wat ons dus hieruit moet leer is dat jou basiese fokus 'n baie groot rol speel in die hantering van probleme en veral wanneer dit op konflik uitloop.
Hoe reageer mense op probleme?
Teen die agtergrond van bogenoemde kan nou kortliks gelet word op hoe mense in verhoudingsprobleme in die praktyk
reageer. Die volgende word kortliks genoem. Elkeen van hulle (behalwe die laaste een) kan positiewe en negatiewe uitkomste
tot gevolg hê:
- Vermy betrokkenheid: Dit gebeur wanneer iemand teen alle koste die aanspreek van die probleem vermy.
Uit die aard van die saak los dit niks op nie en kan die innerlike frustrasie soms op baie onaangename maniere tot uiting
kom. Hierdie manier van optrede kan egter gewens wees wanneer die oplossing van die probleem binne afsienbare tyd sigself
sal aanbied. Vermy dus onnodige konflik as jy weet dat nuwe feite binnekort 'n ander lig op die saak sal werp wat die
moontlikheid van 'n konflik sal oplos.
- Gee ander hulle sin: Somtyds sal iemand ten koste van hom-/haarself die ander persoon altyd sy/haar sin gee. Dit kan
werk as jy dit werklik bedoel en as die ander persoon se sin nie beteken dat onreg en/of vernietiging die gevolg sal wees nie.
- Dring daarop aan om jou sin te kry: Dit is uiteraard 'n baie selfsugtige en vernietigende manier van optree. Aan die
anderkant sou dit in uitsonderlike situasies kan werk as jou sin die volle waarheid verteenwoordig en duidelik die beste
uitweg vir die situasie is.
- Gaan ’n kompromie aan: 'n Kompromie beteken dat elkeen iets prysgee en iets wen. Dit kan dus 'n wen-wen uitkoms tot
gevolg hê. Die belangrike vereiste vir hierdi optrede op te slaag, is dat elke party eerlik moet wees in wat hulle
prysgee en dit werklik kan bedoel.
- Werk saam om die probleem op te los (speel die “bal” en nie die “man” nie): Hierdie manier van doen, bly natuurlik
die ideaal en kan vir almal betrokke uiteindelik die beste wees. Dit vra egter volwassenheid van alle partye wat betrokke is.
Wat leer ons uit hierdie moontlikhede?
Uit bogenoemde opmerkings kan die volgende afgelei word:
- Daar is meer as een manier om ’n probleem/konflik te hanteer. Dieselfde metode is nie altyd die beste nie. Daarom
moet mens leer om in verskillende situasies en teenoor verskillende soorte mense anders op te tree in die hantering van
'n probleem of konflik.
- Kies die manier van hantering volgens die situasie. Moenie by voorbaat besluit hoe jy in 'n konflik gaan optree nie,
maar laat diekonteks van die situasie jou lei.
- Ander mense het ook redes vir húlle keuse. Besef dat jy nie die enigste een is wat die reg het om op 'n bepaalde manier
op te tree nie, maar dat die ander ook net soveel reg het om op te tree soos wat gedoen word.
- Samewerking om die probleem op te los is in die meeste gevalle die beste.
Praktiese nadenke.
Gebruik die volgende teksgedeeltes om so bietjie na te dink oor die toepassing van wat hierbo gesê is:
- Kyk na Hand 15:36-40. Hoe het Paulus gereageer op die probleem met Johannes Markus? Wat was Barnabas se reaksie? Het Paulus probeer verstaan waarom Johannes Markus omge-draai het (Han 13:13)? Lyk dit asof Paulus en Barnabus die saak rustig uitgepraat het? Wat, sou jy raai, was Johannes Markus se reaksie? En Silas s'n?
- Lees Gal 2:11-14. Hoe het Paulus opgetree na aanleiding van die probleem met Petrus se gedrag? Wat, dink jy, was Petrus se reaksie?