Nadat ons gelet het op die aanhef van die brief, gaan ons aandag gee aan die kern waarom die hele brief draai (soos die as van 'n wiel) naamlik die vraag wie Jesus is en wat Hy doen.
Die aanhef van die brief.
Let daarop dat die brief op die tipiese manier van briefskryf van destyds begin. In die aanhef word drie dinge vermeld: wie die skrywer(s) of afsender is, aan wie die brief gerig word en 'n groete-boodskap daarby saam. Paulus doen dit op 'n bepaalde manier om daarmee baie bepaalde dinge te sê. Kom ons kyk net kortliks daarna.
- Die skrywer(s):Paulus noem nie net sy naam nie, maar voeg by dat hy
skryf as iemand wat deur die Here self bemagtig is (geroep is) om geestelike leiding te
neem. Onthou dat Paulus nie self die gemeente gestig het nie en dat ander persone met allerlei
dwaalleringe in die gemeente opgetree het. Daarom wil hy homself aanbied as iemand wat nie
in sy eie krag na hulle toe kom nie, maar wat betroubaar is omdat hy in opdrag van die Here
self optree. Hy wil dus sy geloofwaardigheid bevestig.
Verder noem hy ook die naam van Timoteus. Hy was 'n jongman met 'n Joodse (gelowige) ma en 'n Griekse pa. Timoteus het waarskynlik as sekretaris vir Paulus diensgedoen en die brief namens Paulus neergeskryf. - Die ontvangers (lesers): Die gemeente word "die mense wat aan God behoort" genoem. Daarmee word beklemtoon dat hulle deur die bloed van Jesus (vgl 1 Pet 1:15 en 16) gekoop is en nou nie meer aan hulleself behoort nie, maar aan God. Hulle moet dus hulle lewens inrig volgens die eise wat deur God aan hulle gestel word.
- Die groete boodskap: In die groet toon Paulus sy bedagsaamheid teenoor gelowiges wat uit die Griekse tradisie kom sowel as dié wat uit die Joodse tradisie kom. Die Grieke het mekaar met die woord "chaire" wat ons met genade vertaal, gegroet en die Jode het mekaar met "shaloom" wat ons met vrede vertaal, gegroet.
Wie is Jesus en wat doen Hy?
In die hele brief speel hierdie vraag 'n sleutel rol. Daarom moet ons net eers kortliks op die antwoord let voordat ons met die res van die brief aangaan. Die antwoord word gevind in 'n lied wat Paulus in verse 15 tot 20 hieroor skryf.
Konteks.
Die agtergrond (konteks) waarteen hierdie lied verstaan moet word, hou verband met die Griekse denke van destyds. Die volgende word hier genoem:
- Gode het sigbare liggame en kan dus gesien word.
- Die gode is soos die mens ook onderworpe aan die noodlot van die lewe.
- Daar is geeste met mag (heersers, konings, gesagvoerders en maghebbers) wat namens en vir die mense by die gode intree.
- Om die gode gelukkig te hou en hulle guns te wen, moet die mense hulle vereer deur allerlei feeste en byeenkomste te hou (vgl Kol 2:16, 18 en 21-23).
Teen hierdie denkpatroon moes die gelowiges standpunt inneem en hulle Christenskap uitleef. Daarom is dit belangrik om te weet wie is Jesus en wat doen Hy.
Wie is Jesus en wat doen Hy?.
Die antwoord het die volgende elemente:
- Jesus is die sigbare beeld van die onsigbare God – God self (1:19). Dat Jesus die beeld van God is, beteken onder andere die volgende:
- Waar Jesus is, is God ook.
- In Jesus kan gesien word wie God werklik is.
- Jesus tree namens God op.
- Hy word onderskei van die skepping omdat Hy belangriker as alles is en nie daaraan onderworpe is nie.
- Wat doen Jesus? Dink vir 'n oomblik na oor die volgende:
- Jesus kan doen wat Hy doen omdat Hy is wie Hy is.
- Hy het geskep. Deur Hom het God alles geskep: die natuurlike en die bo-natuurlike. Dus: ook die sogenaamde geeste wat hier genoem word heersers, konings, gesagvoerders en maghebbers.
- Hy is ook die doel van die skepping. As jy begin vra na die uiteindelike doel van die skepping en die sin van die lewe, moet jy in jou antwoord by Jesus eindig.
- Hy onderhou ook alles (1:17). Hy sien dus toe dat die skepping werk soos dit bedoel is om te werk. Verstaan dit met die liggaamsbeeld: Volgens 1:18 is die Kerk 'n liggaam. Jesus is die Hoof (vgl 2:19). Met ander woorde, Hy beklee die belangrikste posisie, die besluitnemingsposisie waaruit die hele liggaam (die kerk) haar oorsprong kry.
- Jesus het uit die dood opgestaan (1:18). Hy is die eerste – ander sal volg. Jesus word dus as die oorwinnaar aangebied wat heers oor alles, in wie se mag die koningskap is.
- Alles word deur Jesus met God versoen. Hier moet nie in eerste instansie aan persoonlike versoening tussen mens en God gedink word nie, maar aan 'n soort Kosmiese versoening. Die posisie tussen God en ander skepsels (selfs die geeste) moes reggestel word. Vrede beteken hier om posisies reg te stel. Skepsels is net skepsels en moet dit bly.
- Die prys? Jesus gee sy lewe daarvoor. Hy het daarvoor homself aan die kruis geoffer.
Met hierdie kort verduideliking van wie Jesus is en wat Hy doen, is die verhoog opgestel vir die verdere verstaan van die brief
Onthou dus!
- Die Here in wie jy glo is die almagtige wat alles gemaak het.
- Jy hoef hom nie eers 'n guns te bewys voordat Hy in jou belangstel nie.
- Jesus het God se onverdiende goedheid vir jou kom bewys deur sy lewe te gee sodat jy met God versoen kan word.
- Hierdie Jesus wat self God is, het opgestaan uit die dood, Hy lewe en jy sal saam met hom die ewige lewe tegemoet gaan.