Die Heilige Gees as belofte van krag - Hand 1:1-11

Inleidende opmerkings

Wanneer mens die boek Handelinge bestudeer, moet gedurig in gedagte gehou word dat dit gaan om die realisering van die koninkryk van God. Soos in die artikels oor die koninkryk van God aangetoon is (kliek hier), gaan dit in die Bybel om die koninkryk van God. God se heerskappy moet aan die hele wêreld bekend gemaak word sodat hulle kan hoor dat God mense wat dit nie verdien nie, so liefhet dat Hy sy Seun gegee het om hulle van hulle sonde te verlos (Joh 3:16). Die vraag is nou: hoe moet dit gebeur? Hoe moet die wêreld wat nie God se Woord lees nie hoor dat Hy hulle so innig liefhet? Jesus het die mense probeer oortuig van God se liefde terwyl Hy op aarde was, maar Hy sterf vroeg reeds (min of meer 33jr oud). Iemand anders sou dit dus moes doen. God wil mense gebruik. Daaroor stem al die skrywers van die Evangelies saam. Matteus sê: "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels." (Mat 28:19) Markus skryf in Mark 16:15 "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom." Lukas sê weer in Luk 24:48 "Julle is getuies van hierdie dinge." Hoe sou mense dit regkry? Handelinge is die verhaal van die eerste gemeentes waarin dit duidelik word dat dit nie deur mense se eie krag sou gebeur nie, maar deur die krag van die Heilige Gees. Daarom sou mens kon sê dat die kernvers van die hele boek 1:8 is: "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld." Handelinge vertel vir ons hoe dit in die praktyk van die eerste gemeentes gebeur het.
In kort kom dit neer op: Die wêreld lees wel nie die Bybel nie, maar hulle lees elke dag die manier van lewe van die gelowiges wat wel God se Woord lees en glo.

Agtergrond inligting

Kom ons kyk net eers na 'n paar dinge wat jou sal help om 'n goeie idee te kry van die agtergrond waarteen Handeling afspeel

Die skrywer

Die skrywer is dieselfde ou wat die Evangelie volgens Lukas geskryf het naamlik dr Lukas. Ja, hy was 'n geneesheer van beroep maar ook 'n opregte gelowige wat die roeping gehad het om oor Jesus met mense te praat. Hy is dus 'n ontwikkelde geleerde mens en daarom sal jy in die lees van die evangelie en in hierdie boek agterkom dat hy moeite gedoen het om navorsing oor die feite van sy boeke te doen en deeglik daarvan rekenskap te gee. As na die volumes van die boeke in die Nuwe Testament gekyk word, was hy ook die grootste skrywer.

Indeling.

Die boek kan in twee groot dele verdeel word: hoofstukke 1 tot 12:24 vertel veral van die bediening van Petrus terwyl hoofstukke 12:25 tot 28:31 fokus op die bediening van Paulus. Daar is interressante ooreenkomste tussen Petrus en Paulus se bedieninge.


Die volgende sake staan deur die hele boek uit:

Nog inligting


Al bogenoemde sake het meegebring dat die vestiging van die die nuutgevonde geloof nie maklik geloop het nie. Tog, ten spyte van dit alles, is die boek Handelinge die suksesverhaal van die werk van die Heilige Gees wat deur al hierdie probleme van die gebroke werklikheid daartoe gelei het dat die Christendom in 'n tyd van ongeveer dertig jaar versprei het van Jerusalem tot in Rome en waarskynlik selfs sover as Spanje. Dit op sigself is merkwaardig.

Hand 1:1-11

Onthou

Terwyl jy so saam deur die boek Handelinge werk, moet jy gedurig in gedagte hou dat dit gaan oor die koninkryk van God en hoe die hele wêreld moes ontdek dat God hulle liefhet. Joh 3:16 "God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het..." Terselfdertyd moet jy onthou: God wil mense toerus en gebruik om sy liefde bekend te maak - Luk 24:45-49“So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur." Matteus stel dit anders in Mat28:20:"En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Met die oog daarop het Jesus by verskillende kere aan sy volgelinge 'n belofte van die krag van die Heilige Gees gegee. "Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.” (Mark 1:8) Kyk gerus ook na Matt. 3:11; Mark. 1:8; Luk. 3:16. Vgl. ook Hand. 11:16; 19:4.

Die belofte van kragDie HG se krag werk soos dinamiet: dit  breek alles oop

Die vraag is natuurlik: hoe sou die volgelinge van Jesus dit regkry om hierdie geweldige verantwoordelikheid na te kom? Hulle is dan bang en kruip gereeld in 'n geslote vertrek weg (Hang 1:13). Wanneer jy nou na Hand 1:1-11 kyk, kan jy gerus op die volgende let:

  1. Jesus praat oor die koninkryk. Dit het baie betekenis dat Jesus by sy laaste ontmoeting met sy volgelinge net voor sy hemelvaart oor allerlei dinge met betrekking tot sy koninkryk met hulle praat. So was Hy vir oulaas besig om hulle toe te rus vir hulle taak. Die eerste manier hoe Hy hulle dus vir hulle taak wou bemagtig was deur gedurig met hulle oor die fokus van die koninkryk te praat en inligting te gee. Sonder die regte inligting en kennis oor jou onderwerp kan jy nie daarvan aan ander vertel nie. Weet jy waaroor die koninkryk van God regtig gaan? Wat doen jy om hieroor ingelig te word?
  2. Hulle moes eers wag. Vir my bly dit geweldig interessant om te lees dat Jesus nie direk met sy hemelvaart die Heilige Gees aan sy volgelinge gegee het nie. Hy gee hulle die opdrag om eers daarop te gaan wag. Luk 24:49 "Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.” Joh 14:16 "Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees" Hand 1:4-5 “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”
    Dit is sekerlik nie moontlik om te weet presies hoekom dit juis so moet gebeur nie, maar een ding is seker en dit is dat Hy hulle wou leer om nie op eie krag hierdie groot opdrag aan te pak nie en dat Hy hulle wou toets om te sien of hulle regtig aan hom gehoorsaam sou wees en hom sou vertrou dat Hy sy woord sal hou.
    Waarvoor het hulle gewag? Vir die herstel van 'n aardse koninkryk? Te oordeel aan die disippels se vraag in vers 6 wil dit lyk of hulle gedink het dit gaan oor die herstel van die aardse koninkryk van Israel: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” vgl Luk 24:21 "Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos." Jesus se antwoord en die gebeure wat in die volgende paar dae in die dissipels se lewens sou afspeel, laat ons goed verstaan dat dit nie vir die Here gaan om die herstel van 'n aardse koninkryk nie, maar om die vestiging van God se koninkryk in mense se lewens.
  3. Let op die belofte van krag. Die krag word baie sterk gekoppel aan die derde Persoon van God Drie-enig naamlik die Heilige Gees. Die Heilige Gees sou God in die lewens van mense werkend teenwoordig kom maak. So sou waar word wat Jesus in Mat 28:21 belowe het naamlik dat Hy by hulle sou bly tot by die voleinding van hierdie lewe. Dit laat Paulus in 1 Kor 3:16 van die gemeente sê: Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? In 1 Kor 6:19 & 20 "besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.
    Die krag wat Jesus belowe is dus die werking van die Heilige Gees in die lewe van sy kerk en in die lewe van elke gelowige kind van God. Dit het hom baie duur gekos en dit vra van elkeen van ons om die beheer van ons lewens oor te gee aan hom. Aan die anderkant sou mens dus ook kan sê dat die gebrek aan krag by baie volgelinge van Jesus dikwels te make het met die mens se onvermoë om die beheer van sy/haar lewe aan die Here oor te gee. Daarom moet jy onthou dat solank as wat jou eie wil en begeertes eerste staan in jou lewe, solank sal jy nie die krag ervaar wat nodig is om werklik 'n lewe te leef waardeur God se liefde aan die mense om jou bekend gestel word nie.
  4. Die noodwendige uitwerking van die krag. Jesus stel dit baie duidelik dat die uitstorting van die Heilige Gees nie die moontlikheid van getuie wees skep nie, maar die noodwendigheid daarvan. "... julle sal getuies wees." Wanneer die Gees van God beheer in jou lewe oorneem, gebeur daar dinge wat jy nou sou gedink het moontlik is nie. Dan is dit die Gees wat dit doen en nie jy wat nou nog self moet besluit hoe jy die krag van die Gees sal aanwend nie. Wanner jy by so 'n punt gekom het, het die Here totaal oorgeneem in jou lewe. Selfs waar hierdie getuienis oral sou geskied, word deur die Gees van God bepaal. Jesus belowe nie die krag van die Gees en vra dat die kerk dan 'n ondersoekspan of 'n kommissie sal aanwys om te besluit hoe hierdie werk gedoen sal word nie. Hy doen dit net en solank as die Gees in beheer is, gebeur dit. So het die koninkryk van God destyds binne 'n kwessie van 30 jaar oor die hele destyds bekende wêreld bekend geword sodat letterlik duisende mense tot geloof in Jesus gekom het.

Hierdie skrifgedeelte laat ons elkeen weer opnuut nadink oor jou manier van lewe as gelowige. Is die Here regtig ten volle in beheer van jou lewe? Kry Hy werklik genoeg ruimte om in en deur jou te werk? Is jou eie belewenis van die Heilige Gees se inwoning in jou lewe een van kragtige werkinge of hou jy nog soveel beheer oor jou lewe in jou eie hande dat die Heilige Gees net geen ruimte kry om jou te gebruik nie al woon Hy reeds in jou? Onthou dat die geheim nie is dat jy gedurig meer van die Gees moet kry nie, maar dat Hy meer van jou onder beheer moet kry.



Terug na die hoofblad.