Die rol van gesprek in konflikhantering.

Woordewisseling
  1. Hoe belangrik is praat?

    Ons het reeds gesien in die vorige artikels oor konflik dat kommunikasie verskillende vorms kan aanneem. Om jou te help onthou, word dit net kortliks weer gegee: jy kan woorde gebruik, gebare, liggaamstaal en emosies om jou boodskap oor te dra. Al hierdie verskillende aspekte speel saam 'n rol. Tog is die heel belangrikste van hulle almal die oordra van jou saak deur middel van woorde. Sonder woorde ontstaan die gevaar dat die ander party(-e) verkeerde afleidings kan maak van die saak waaroor die konflik gaan. Met woorde kan jy jou saak die heel beste stel en afleidings regstel. Met praat in 'n konflik word hier beklemtoon dat alle betrokke partye gewillig moet wees en geleentheid gegun moet word om aan die gesprek deel te neem.

  2. Is stilbly soms tog 'n opsie?

    Hoe belangrik praat ookal mag wees, kan dit gebeur dat dit soms tog wenslik is om stil te bly - of ten minste vir eers stil te bly. Soms kan mens te gou praat, voordat jy seker is van jou feite. Ander kere kan dit gebeur dat die atmosfeer belas word met spanning (veral woede) sodat mense nie helder kan dink voordat hulle praat nie. Die ou spreeukwoord in afrikaans lui mos: "Tel eers tot tien voordat jy praat". Soms kan dit ook gebeur dat daar binne afsienbare tydperk nuwe lig op die hele saak waaroor die konflik nou dreig, gaan bekend word. Dit sal dalk die hele saak ophelder sodat dit op die oomblik nie wenslik is om die saak aan te spreek nie. Bly dan liewer stil of sê dan dat die saak deur die nuwe feite opgeklaar behoort te word en laat die gesprek daar.

  3. Hoekom praat mense nie?

    Dit gebeur baie keer dat een of meer persone in konfliksituasies net nie praat nie. 'n Paar van die moontlike redes daarvoor word hieronder kortliks bespreek:
    • Persoonlikheidstipe. Dit is nou maar eenmaal so dat alle mense se persoonlikhede net nie dieselfde is nie. Sommige mense is ekstrofert en praat maklik oor sake. Ander is weer meer introfert ingestel en praat net nie. Party mense moet stilgemaak word om ander kans te gee om in 'n gesprek ook iets te kan sê terwyl sommige mense nooit, nie net in 'n konflik nie, aan 'n gesprek deelneem nie. Met sulke mense kan jy maar maak wat jy wil, jy kry hulle net nie aan die praat nie. Wanneer 'n konflik uitgesorteer moet word, skep dit natuurlik geweldige probleme.
    • Vrese. Soms is daar sekere faktore wat in iemand se lewe by hom/haar vrese tot stand laat kom het. Dan is so 'n persoon in konfliksituasies net te bang om te praat. Miskien kan dit vrees vir verwerping wees, of vrees vir emosies wat nie beheer kan word nie, of vrees vir seerkry en verlies. As dit die geval is, sal so 'n persoon eers aan hierdie vrese moet aandag gee en dit uitsorteer. Dit is nie net vir die hantering van konflikte belangrik nie, maar ook ter wille van so 'n persoon se algemene lewensgeluk.
    • Persepsies en ervarings. Enige persoon vorm in die belewing van sy/haar lewe gedurig bepaalde persepsies oor dinge waarmee hy/sy elke dag te doen kry. Gewoonlik is sulke persepsies op 'n mens se eie afleidings gebasseer. Die probleem is egter dat jou afleidings nie altyd getoets word nie en meer kere verkeerd is. Sulke verkeerde persepsies kan mense sover bring om bang te wees in konflikte en dan liewer stil te bly.
    • Onkunde en onvermoë. Om nie te weet hoe om gesprek te voer tydens konfliksituasies nie, kan soms die gevolg wees van onkunde en onvermoë. Dit kan weer gepaard gaan met emosionele- of persoonlikheidsonvolwassenheid. So 'n persoon sal moeite moet doen om emosioneel volwasse te word en bepaalde vaardighede aan te leer om hom(-haar)self te kan bestuur.

  4. Maniere van praat.

    Daar is verskillende maniere hoe mens deur te praat die konflik kan benader en uiteindelik bestuur. Hier word die twee belangrikste maniere kortliks bespreek:
    • Onderhandeling Dit is 'n proses waarin alle betrokke partye gewillig is om op verskillende maniere saam te werk om uiteindelik 'n bevredigende oplossing vir die konflik te bereik. Die volgende aspekte is vir die proses van belang:
      • Vrywillige vennootskap: Die partye moet sonder dwang gewillig wees om deel te neem. Die oomblik wat iemand gedwing moet word, val 'n belangrike fondament in die gesprek weg en kan nie op volle samewerking gereken word nie. Daarby moet almal besef dat dit gaan om 'n vennootskap waarin die een pary nie oor die ander heers of meerdere gesag dra nie. Almal bevind hulle op gelyke voet en die partye moet ook instem om mekaar daardie posisie te gun.
      • Gewilligheid om te praat: Teen die agtergrond van wat hierbo reeds oor die belangrikheid van kommunikasie gesê is, is die hier van selfsprekend dat alle partye hulle daartoe moet verbind om vir mekaar ruimte tot deelname aan die gesprek te gee en ook hulle daartoe verbind om gewillig te wees om self tot die gesprek toe te tree.
      • Gewilligheid om te luister (Jak 1:19-20): Jakobus plaas geweldige klem op die noodsaaklikheid om na mekaar te luister. Mens sou amper kon sê dat die noodsaaklikheid om te luister selfs van nog groter belang is as om te praat. Met luister word hier natuurlik al die komponente van kwaliteit luister bedoel. Luister is meer as hoor. Luister is aandag gee, seker maak dat jy die feite reg hoor, jou afleidings telkens kontroleer sodat jy nie hoor wat jy wil nie, maar die eitnlike bedoeling van die spreker verstaan.
      • Saamwerk aan 'n oplossing: Alle partye moet gewillig wees om saam te werk aan 'n nuwe oplossing waarmee almal tevrede sal wees. Dit beteken dat partye hulle eie belange sal aanpas ter wille van ander se belange en dit nie ten alle koste daaroor sal laat heers nie.
      • Die regte gesindheid: Die gesindheid waarmee partye aan 'n konflikgesprek deelneem is soos die sous in 'n sardienblik: dit is noodsaaklik vir die sukses van die hele saak. Miskien word hierdie gesindheid die mooiste beskryf in Fil 2:3 & 4 met die volgende woorde: "Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander."
    • Bemiddeling As partye nie daarin kan slaag om vrywillig op valwasse manier met mekaar in onderhandeling te gaan nie, moet die moontlikheid oorweeg word om 'n derde party in te roep om as bemiddelaar tussen die partye op te tree. Al die partye betrokke in die konflik moet egtere bereid wees om hulle aan so 'n middelaar se leiding te onderwerp en saam te werk. Die middelaar moet uit die aard van die saak 'n persoon wees wat werklik objektief na alle kante van die saak te luister en die gesprek te begelei na 'n oplossing. Sy/haar taak is nie om namens die partye besluite te neem nie, maar om hulle na die naam van besluite te begelei.


Terug na die hoofblad.