(Hierdie lesing is uitgewerk met erkenning aan prof Nelus Niemandt wat dieselfde reeks aanbied in sy boek getiteld: "Nuwe drome vir nuwe werklikhede").
As jy na die klankbaan van hierdie lesing wil luister, kan jy hier klik.
Die oomblik wat mens oor diensbaarheid begin nadink, kom daar onmiddellik twee vrae na vore. Die eerste een raak die moontlike verband tussen
gelowiges of dan die kerk se manier van dienslewer en dié van die sekulêre wêreld: Is die Kerk/gelowiges die enigste wat goed doen sodat waar goed
gedoen word noodwendig na God se liefde verwys word? Jy sien, ons gaan hier dadelik uit van die veronderstelling dat ons dienslewering op aarde
moet heenwys na God se liefde. Vir die gelowige/kerk gaan dit nooi maar net om dienslewering as sodanig nie. Die primêre doel van ons dienslewering
is nie eerstens om in mense se lewens 'n verskil te maak ter wille van die mense alleen nie, maar sodat die mens wat gehelp word, sal raaksien
en besef dat jy dit doen in die Naam van die Here omdat die Here die mens liefhet. Daarmee saam weet ons mos ook dat die kerk se mense nie die
enigstes is wat ander se nood raaksien en iets daaraan doen nie.
Daarom kom die volgende vraag ook na vore: Wat is die verskil tussen humanisme en diens deur geloofsgehoorsaamheid? As mens mooi oor die antwoord
hierop nadink, kan mens nie anders nie as om te besef dat die wesenlike verskil tussen hierdie twee groepe lê in die motivering, die rede hoekom
goed gedoen word. Jy kan gerus eers hier stop en self oor die motivering tot dienslewering van genoemde twee groepe nadink.
Wanneer dit kom by organisasies en instansies in die sekulêre wêreld wat daarop uit is om mense se nood te help lenig, kan daar natuurlik baie
verskillende motiverings voor gesoek word. Soms wil iemand ('n land, regering) daarmee punte probeer verdien of indruk maak sodat hulle beter
deur ander raakgesien word. Ander kere gaan dit weer om die soeke na erkenning of die uitlewe van 'n behoefte om avontuurlike dinge te doen waarvan
noodleniging dan deel vorm. Wat wel waar is, is dat nie alle sekulêre pogings negatiewe motiverings agter dit het nie. Daar is ook mense wat
gewillig is om baie energie, middele en tyd af te staan dood gewoon omdat hulle omgee vir ander mense en met deernis na hulle uitreik al is hulle
nie Christene of selfs hoegenaamd godsdienstig nie.
Terloops, persoonlik het ek al gewonder of die diepste rede vir liefdadigheid deur mense wat nie 'n persoonlike verhouding met die Here het nie,
nie miskien geleë is in die feit dat alle mense per slot van rekening tog as beeld van God geskape is. Al word God se beeld
in mense se lewens erg verwoes, word dit tog nooit heeltemal vernietig nie. Is hierdie omgee ding by mense nie dalk tog die een deel van
beeld-van-God-wees wat in mense bly bestaan nie - al besef hulle dit self nie. Dink bietjie hieroor na.
Hierbo het ek al die term "geloofsgehoorsaamheid" gebruik en so terloops dit as motivering vir die gelowige se dienslewering genoem. Voor ons
verder gaan, moet ek net eers die term kwalifiseer. Wanneer hier van geloofsgehoorsaamheid gepraat word, word nie 'n wettiese soort gehoorsaamheid
bedoel nie. Die gelowige dien nie (of behoort nie) omdat hy/sy uit klieniese gehoorsaamheid aan God daartoe verplig voel om dit te doen nie.
Sy/haar gehoorsaamheid spruit voort uit 'n diep innerlike drang wat deur die Heilige Gees se wedergeboorte in die mens veroorsaak is. Die
effek van God se wedergeboorte in jou lei daartoe dat jy tot geloof in Jesus Christus kom en God se genade vir sondaars ontdek en aanvaar. Die
wonder om te ontdek dat die Here jou liefhet ten spyte daarvan dat jy 'n sondaar is wat die dood verdien (Joh 3:16 en Rom 5:8) dring jou daartoe
om ook aan ander iets van hierdie liefde van die Here te laat sien. Die diepste motivering agter die gelowige se gehoorsaamheid is dus uiteindelik
die ervaring van God se deernis van jou in jou sonde nood wat jou die nood van ander laat raaksien en daarom gehoorsaam jy Hom deur jou
dienslewering. Paulus skryf hieroor in Ef 2:10 en sê; "God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te
wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het."
Wanneer Jesus met sy volgelinge oor die wederkoms praat, leer Hy hulle op 'n baie interressante manier wat God se norm is om mense in sy
koninkryk toe te laat en wie nie. In Mat 25:31-46 sê Jesus: "31Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. 32Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos 'n wagter die skape van die bokke skei. 33Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.
34"Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: 'Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.'37Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: 'Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?'40En die Koning sal hulle antwoord: 'Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.'
41"Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: 'Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 42want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; 43Ek was 'n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.'44Dan sal hulle ook antwoord: 'Here, wanneer het ons U honger of dors of 'n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?'45En Hy sal hulle antwoord: 'Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.'46En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe."
Jy het seker agtergekom dat Hy hier goeie dade as norm stel om in God se koninkryk toegelaat te word. Dit laat mens onmiddellik wonder wat dan
van geloof en genade geword het. Ons word mos nie deur ons goeie dade gered nie, maar deur ons geloof en dit is alles 'n geskenk van God en boonop
'n geskenk wat ons uit genade ontvang. Gaan lees maar weer tekste soos Ef 2:5-10; Rom 3:24-26; 11:5 & 6; Gal 2:21; 5:4; ens. Wat wil Jesus dan
vir ons kom sê?
'n Mens verstaan Jesus se bedoeling met Mat 25 beter as jy net weer Jakobus se brief aan die gemeentes van destyds gaan lees. Hy praat in Jak 2
oor mense wat in nood verkeer en oor die geloof wat mense so maklik mondelings bely. Uiteindelik vra hy in vers 14 die vraag: "Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red?" Dit is natuurlik 'n retoriese vraag waarop
die antwoord versonderstel word om "nee" te wees. Hy kom dan in vers 26 met die stelling: "'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood." Daarmee daag hy die gelowiges uit om hulle geloof deur hulle dade te bevestig. Jy sien, jy kan
nie in Jesus Christus glo omdat jy deur die Heilige Gees nuutgemaak is en jou lewe toon nie deernis met ander se nood nie. Wat Jesus dus eintlik
maar net probeer doen in Mat 25 is om daarop te wys dat dit maklik is om met jou mond jou geloof te bely. Egte geloof word egter sigbaar in
jou optrede teenoor ander mense wat in nood is. As jy regtig as sondige mens God se deernis en liefde vir jou ervaar het toe Hy sy Seun aan 'n
kruis laat sterf het, sal jou lewe dieselfde soort deernis teenoor ander openbaar en dit sal vir die Here die teken wees dat jy regtig opreg in
Jesus Christus as Verlosser glo. Hoe lyk dit in jou lewe? Kan mense jou geloof sigbaar sien in jou deernis vir ander rondom jou?
Dit is verskriklik belangrik om te weet dat elke gelowige 'n getuie vir Jesus Christus moet wees. Dit word op verskillende manier duidelik in die Nuwe Testament vir ons gesê. Dink maar aan 'n teks soos Luk 24:48 "Julle is getuies van hierdie dinge." Die inhoud van "hierdie dinge" word in die vorige verse uitgespel en dui op die kern inhoud van die evangelie. Vir baie jare is daar verskillende evangelisasie kursusse wat baie klem lê op die mondelinge getuienis van gelowiges en dit help ons baie. Die probleem is egter dat ons moet besef dat die Evangelie nie net uit woorde bestaan nie, maar veral ook uit dade. Die gelowiges moet nie soseer 'n boodskap oordra nie, as 'n boodskap wees. Mense moet in jou doen en late veral iets kan sien van die egtheid van jou geloof. In die postmoderne samelewing waarin ons leef, oortuig woorde nie meer so baie nie, maar dade oortuig. Dit is op baie vlakke van die samelewing die algemene klag teen die leiers - hulle doen nie wat hulle sê en beloof nie. Die gelowiges sal moet ander wees en dit wat hulle met die mond bely ook met hulle dade bevestig.
Wat moet bereik word? Wat is die doel van alles waaroor dit hier gaan? Dit gaan nie om iets daarvoor te kry nie (bv lidmate werf, persoonlike
eer en erkenning, geldelike bydraes, ens). Ons mag nie die uitdra van die Evangelie misbruik om ons eie strewes mee te verwesenlik nie. Dit mag
bv nie gaan om die uitbreiding van ons gemeente se getalle nie. Dit kan egter maklik daarom gaan veral by kerke en gemeentes waar daar geen
geografiese afbakening van gemeentegrense bestaan nie of waar die streng verpligting van lidmaatskap binne die geografiese grense nie meer streng
toegepas word nie. Dit mag ook nie gaan om die werwing van fondse sodat ons begroting in die gemeente kan klop nie.
Die fokus van ons getuienis deur woord en daad is nie onsself of die een of ander kerklike struktuur of instituut se voordeel nie. Nee, die fokus
bly altyd die verheerliking van God. Daarom moet getuienis gedoen word uit dankbaarheid vir God se liefde en genade. Dieselfde gesindheid as die
van Petrus en Johannes in Hand 4:19 moet in ons lewens teenwoordig wees. In die teenwoordigheid van die Joodse Raad wat pas hulle leier, Jesus,
laat doodmaak het, word hulle verbied om verder die Evangelie te verkondig. Dit is dan, wetende dat hierdie mense hulle ook kan doodmaak, dat
Petrus vir die Raad sê: "Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie." Ook Paulus was deur hierdie gesindheid gemotiveer. Hy sê in 2 Kor 5:14
"Die liefde van Christus dring ons" Hy en sy medewerkers kan daarom nie anders nie. Gedring deur die Here se liefde, doen hulle wat
hulle doen - selfs al sou dit hulle lewens kos.
Ken jy iets van hierdie drang in jou lewe? Kan mense rondom jou sien dat God se liefde vir die wêreld maak dat jy nie anders kan nie as om God
se liefde deur woord en daad uit te leef?
Voordat Abram nog uit sy geboorteland vertrek het, het God na hom toe gekom met 'n baie belangrike belofte: "Ek sal jou seën en jou 'n man
van groot betekenis maak," Maar daarmee saam gee die Here ook aan hom die opdrag: "... en jy moet tot 'n seën wees." Al is dit
die Here wat Abram sal gebruik as instrument om sy genade uiteindelik aan die hele wêreld bekend te maak, het Abram nogtans ook hierin 'n
bepaalde verantwoordelikheid om so te leef dat hy vir ander tot 'n seën sal wees. Ja, dit is die Here wat deur mense werk, maar die Here
neem nooit die mens se verantwoordelikheid weg nie.
Dit gaan vir ons elkeen uiteindelik daarom om raak te sien en geraak te word, om sterk te voel om te doen wat reg is en verantwoordelikheid te
aanvaar om 'n verskil te maak. Artikel 4 van die Belhar Belydenis gee die motivering hiervoor mooi deur met die volgende woorde: "Ons glo dat
God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in 'n wêreld vol onreg en vyandskap op 'n
besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan
verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy die wat bedruk is
ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weesklnders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat vir Hom reine en onbesmette
godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek."
Rob Bell sê: "I am learning that the church is at its best when it gives itself away."
Waarom gaan dit dus vir elke gelowige? Om betrokke te raak omdat God dit van ons verwag deur net 'n slag belang te stel. Om oorvloedige dienswerk deel van die alledaagse lewe te maak want elke gelowige is tot diens geroep. 'n Mens se gewone lewe/werk het alles met geloof te doen. Om ander se pyn jou eie te maak. Om dit "anders" as die wêreld te doen, in die Naam van die Here, gerig op sy eer.