Waarvan praat ons as ons praat van die sogenaamde vreemdelinge onder ons? Dit hang natuurlik af wat die maatstawwe is wat jy aanwend. Hoe bepaal mens wie is 'n vreemdeling en wie nie? Voordat jy verder lees, sal dit goed wees om self eers bietjie hieroor na te dink. miskien sal die volgende paar fotos vir jou help om in die regte rigting te dink. Watter van die prente laat jou ongemaklik voel?




Jy het seker agtergekom dat hulle nie almal soos jy is nie. Miskien verskil een of meer van jou soort kultuur of het 'n ander kleur vel of
behoort tot 'n ander sosiale groep mense of ... en so sou mens kon aangaan. Die feit van die saak is dat alle mense nie in mekaar se teenwoordigheid gemaklik voel nie, wat die rede ookal mag wees. Dit is hierdie "ander" wat ons hier die sogenaamde "vreemdeling" noem -
sommer 'n term wat ons help om die saak mee aan te spreek. Hoe moet jy as gelowige mens optree teenoor sulke "ander" mense?
Jy het seker ook uit my laaste opmerking agtergekom dat dit hier gaan om 'n bepaalde soort mens se gedrag teenoor die ander. Dit gaan hier
om die gelowige se optrede. Daarmee is dadelik uitgespel wat die bepalende eienskap van die groep is waaraan jy behoort, wat jou
primêre identiteit bepaal: 'n innige geloofsverbintenis met God deur geloof in Jesus Christus as Verlosser. Natuurlik is daar ook onder gelowiges verskillende groepe met ander soortige beklemtonings - ons noem dit gewoonlik verskillende spiritualiteitstipes. Jy mag dalk ook tussen sommige gelowiges met 'n ander spiritualiteit ongemaklik voel. Die feit van
die saak is dat alle geowiges, ongeag watter spiritualiteit beoefen word, ten minste dieselfde bron van waardes het naamlik hulle geloofsverbintenis
aan God. Uiteindelik is dit nie jou spiritualiteitstipe wat jou gedrag bepaal nie, maar die wil van die Here wat vir al sy kinders geld.
As uitgangspunt vir hierdie gesprek geld die volgende uitdrukking: Die kerk is die enigste organisasie wat nie bestaan ter wille van sy lede nie, maar ter wille van die
nog-nie lede. As jy by 'n sportklub aansluit, doen jy dit omdat jyself iets daaruit wil kry. As jy by 'n sosiale organisasie aansluit, doen jy dit omdat jyself iets daaruit
wil kry. En so sou mens kan aangaan. Maar, as jy deel word van die Kerk van Jesus Christus deur jou geloof in Hom as Verlosser (ons praat nie hier van formele institusionele lidmaatskap
nie, want jy is outomaties deel van die Kerk as jy glo in Jesus Christus) dan moet jy weet dit gaan primêr vir die Here om jou as instrument te gebruik om sy liefde vir die nie-gelowige
wêreld bekend te maak. Om dit te kan doen, moet jy die volgende in ag neem.
Dit bly baie interressant dat op die eerste bladsye van die Bybel van God in meervoudsvorm gepraat word. Al probeer die skrywers van die boek Genesis nie teologie bedryf nie en al
spel hulle nie uit wat hulle presies bedoel nie, is dit tog opvallend dat God in meervoudsvorm gebruik word. In Gen 1:26 is dit asof God met homself in gesprek tree net voor Hy die mens
skep en sê: "Toe het God gesê: "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere
en al die diere wat op die aarde kruip." Hieruit mag ons nie aflei dat God toe al belei is as God Drie-enig nie. Wat ons wel kan aflei uit hierdie manier van praat, is dat die skrywer
toe al geglo het in 'n God wat as 'n verhoudingswese bestaan. Op die een of ander manier is die wese van God 'n verhouding tussen meer as een - ons gee daaraan die teologiese term van
"drie persone". Hoe ons dit ookal moet verstaan, God is 'n ingewikkelde meervoudige wese wat sy identiteit vind in verhoudings in homself en na buite met sy skepping.
Wat nou opvallend is, is dat die mens deur hierdie God op 'n baie interressante manier geskep word. Van geen ander skepsel op aarde word gesê wat van die mens gesê word nie naamlik dat
hy/sy volgense die beeld van God geskep word. In die Hebreeuse teks word 'n woord gebruik wat ook met "skaduwee" vertaal sou kon word. Op een of ander manier moet die mens dus 'n
skadubeeld van God op aarde wees. Dit sou onder andere daaruit bestaan dat die mens namens God orde op aarde moet handhaaf en ook die aarde namens God moes uitbou tot sy volle potensiaal
(leese gerus weer Gen 1 & 2 hieroor).
Wat nou vir ons gesprek hier van groot belang is, is die feit dat die skrywer van Gen 1 nie sê dat God die "gelowige" mens beeld van God kom maak het nie, maar dat alle mense
die beeld van God is. Onder hierdie geskape mense is daar dan mense wat God as hulle God erken en dien en ander wat dit nie doen nie. Of jy nou in God glo of nie, jy is deel van die mensdom
wat na die beeld van God geskep is. Dit beteken natuurlik dat ook die sogenaamde "vreemdelinge" onder ons die beeld van God is. Natuurlik is die beeld van God in sommige mense al so
vervorm dat jy God glad nie kan herken nie. Miskien moet dus maar erken dat die gelowiges net 'n groep mense is in wie se lewens God deur die werking van sy Gees begin het om sy beeld weer
te herstel.
Die vraag wat jy en ek as gelowiges dus eintlik moet beantwoord is: Hoe moet ons as mense in wie God se beeld aan die herstel is, optree teenoor ander mense in wie die beeld van God nog erg
verwronge is en ook ander mense in wie se lewens die beeld van God op 'n ander manier aan die herstel is as wat jy en ek dalk dink dit behoort te gebeur?
Die eerste baie belangrike punt hier is egter om te besef dat alle mense die beeld van God is en dat dit 'n belangrike vertrekpunt is in ons optrede teenoor die ander mense.
Ons sal dus veral in verhoudinge so moet optree dat God se beeld daardeur duidelik sigbaar word. As mens daarmee saam 1 Joh 4 lees, dan besef mens dat die eis vir ons optrede is om in liefde
op te tree want, so sê Johannes: "God is liefde".
Alle mense dra gelyke gewig by God. God het nie witbroodjies nie. Die feit dat sommige in Hom glo en ander nie, beteken nie dat die gelowiges vir hom belangriker is as die ander nie.
Inteendeel, soms kry mens die indruk dat die "nog-nie-gelowiges" dalk vir God belangriker is as sy gelowige kinders. Dit blyk uit tekste soos Joh 3:16 "God het die wêreld (die ongelowiges)
so lief dat Hy Sy eniggebore Seun gestuur het sodat elkeen wat in hom glo (tot geloof in hom kom) nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe sal hê". Daarmee saam oom Rom 5:8 "God
bewys sy liefde vir ons (as verlore mense) juis daarin dat Christus gesterf het terwyl ons nog sondaars is". Daarom kan mens sy deernis vir die vreemdelinge in die volgende teksgedeeltes
verstaan: "Die vreemdeling wat jou beskerming geniet en die paasfees van die Here wil vier, moet besny word, hy en al die mans en seuns by hom." (Gen 12:48); "Jy mag nie 'n
vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self 'n vreemdeling in Egipte." (Gen 22:21) en Jer 22:3 "Red dié wat beroof word, uit die mag van die uitbuiter, ook die
vreemdeling, die weeskind en die weduwee."
Jy kan verstaan dat dit vir ons natuurlik baie te sê het op soek na ons antwoord oor hoe ons moet optree. As die Here wat eintlik die een is wat benadeel word deur die mense wat sy beeld
in hulle manier van lewe beskadig dan hierdie "vreemdelinge" met soveel deernis en liefde bejeen, wie is ek en jy om dan ons neus vir hulle op te trek asof ons beter is as hulle? Ons sal
dus met God se manier van liefhê moet kyk en uitreik na die ander mense rondom ons al laat hulle ons hoe ongemaklik ookal voel.
Vir die doel van ons gesprek moet jy kortliks die volgende drie dinge oordink:
Toe Jesus op aarde as mens verskyn het, was Hy alles behalwe deur die kerk hier verwelkom. Inteendeel, dit was juis die sogenaamde kerkmense wat hom die meeste as 'n indringer, as 'n vreemdelinge behandel het. Om mee te begin was daar nie vir hom plek in die gewone herberge van destyds nie, maar is Hy in 'n stal gebore. Hiervoor sou mens nog 'n verskoning kon uitdink want niemand het geweet wie Josef en Maria as gewone mense is en wie die baba wat sy verwag het eintlik is nie. Binne die eerste twee van Jesus se lewe op aarde het die heerser van destyds (Herodus) egter al wraak teen hom gesweer en beveel dat alle kinders tot en met twee jaar oud doodgemaak moes word uit vrees vir hierdie nuwe Koning waarvan deie sterrekykers hom kom vertel het. Josef moes met sy gesin na Egipte vlug - ironies dat die volk Israel ook vroeër in Egipte as vreemdelinge moes bly. Nadat Jesus met sy openbare bediening begin het, moes Hy gedurig te doen kry met die venyn en agterdog van die destydse kerkmense. Die skrifgeleerdes en fariseërs het om elke hoek en draai hom in 'n hoek probeer vasdruk oor sy manier van lewe en die inhoud van sy leringe. Uiteindelik het hulle dit tog reggekry om met die hulp van iemand in Jesus se groep (Judas Iskariot) Jesus aan die owerheid uit te lewer en die mense te oorreed om Jesus te laat kruisig.
Ten spyte daarvan dat Jesus soos 'n vreemdeling behandel is, is dit opvallend dat Hy juis die ander mense rondom hom wat ook soos vreemdelinge behandel is, met deernis en liefde bejeën het en hulle in hulle nood bygestaan het. Daarmee wil Jesus sy volgelinge uit die isolasie van 'n geslote familielewe na openheid vir die "ander" uitlei. Dit is wat Hy ook met ons wil doen met die voorbeeld wat Hy op aarde gestel het.
Wanneer ons in die boek Handelinge lees hoe die Heilige Gees werk, sien ons dieselfde ding gebeur. Die Gees van God werk juis onder die sogenaamde vreemdelinge. Een van die mooiste verhale in die verband is die storie van Kornelius in Hand 10. Op 'n wonderlike manier wys God aan Petrus en die eerste kerk van Jesus dat alle mense welkom is binne God se koninkryk en dat jy vir niemand jou neus moet optrek nie. Gaan lees gerus weer daardie mooi verhaal.
Die een ding wat ons nooit moet vergeet nie is: DIE KERK IS 'N GEMEENSKAP VAN VREEMDELINGE WAT FAMILIE WORD.
In elke gemeente word daar elke Sondag ten minste een erediens gehou. Wat 'n wonderlike geleentheid om die vreemdelinge rondom jou geleentheid te gee om die gemeenskap van die gelowiges in God se teenwoordigheid te kan beleef. Doen moeite om ander saam met jou na die erediens te neem. Nooi hulle uit en indien dit enigsins moontlik is, gaan haal sulke mense en neem hulle met jou saam na die erediens.
Onthou dat geen denominasie hulle kerkwees so mag beoefen dat dit nie vir alle mense rondom hulle oop is nie. Geen denominasie mag kerkwees vir hulleself eksklusief maak nie. Die Kerk van Jesus Christus is vir alle mense oop. Neem dus vrymoedigheid om die vreemdelinge rondom jou te nooi om saam met jou deel te word van die aktiwiteite van jou kerk.
Onthou dat jy as deel van Jesus se kerk altyd ook anders as die skulêre wêreld buite die kerk is. Jou manier van dink en doen en die stel waardes waarvolgens jy optree, is altyd ander. Daarom sal jy jou altyd ontuis voel tussen die mense van hierdie wêreld wat God nie ken nie. Dit hoort so. Om die waarheid te sê, as jy ewe tuis voel tussen die mense van die kerk as die mense van die wêreld is daar 'n groot skroef los in jou vehouding met die Here en sal jy dalk weer oor die egtheid van jou geloof moet gaan dink. Moenie dat jou "andersheid" in die wêreld jou verhinder om juis uit te reik na die mense in nood rondom jou nie.
Om uit te reik na ander rondom jou wat anders as jy is, skep juis die ruimte om Jesus se gasvryheid met ander te deel. Jy sal ontdek dat dit juis hierdie betrokkenheid by ander is wat die meeste bydrae tot jou geestelike groei en vorming tot volwassenheid.
Om uit te reik na ander mense wat anders is as jy mag vir jou na 'n geweldige uitdaging lyk en dit is ook. Miskien is jy doodsbenoud om dit te waag. Moenie wees nie. Doen dit in die Naam van die Here en deur sy krag. Hy het belowe dat Hy altyd by sy volgelinge in hierdie wêreld sal wees (Mat 28:20). Vertrou hom daarvoor en jy sal ontdek dat dit groot vreugde vir jou tot gevolg sal hê.
As jy meer hiervan wil hoor, kan jy gerus hier klik om na die klankbaan van die lesing wat hieroor aangebied is te luister.
Terug na hoofblad.