Identifiseer met die lewe van Jesus Christus en fokus op die koninkryk van God.
(Hierdie lesing is uitgewerk met erkenning aan prof Nelus Niemandt wat dieselfde reeks aanbied in sy boek getiteld: "Nuwe drome vir nuwe werklikhede").
Een van die grootste probleme van die gevestigde kerke waarvan die NG Kerk maar een is, is die feit dat die indeling van gemeentes volgens geografiese grense en die klem op amptelike
kerklike lidmaatskap by baie gelowiges die indruk laat dat dit in ons godsdiens gaan om die bestaan van die kerk binne 'n bepaalde gemeente. Vir baie mense begin en eindig kerkwees binne
die grense van 'n sekere gemeente. Die gevolg is dan dikwels dat dit vir sulke mense baie meer in die uitlewing van hulle godsdiens gaan om die groei en behoud van hulle gemeente as wat
dit gaan om die koninkryk van God. Daar kom soms by mense selfs 'n beheptheid met die identiteit en voortbestaan van 'n bepaalde gemeente sodat hulle dit ten alle koste sal verdedig. Die
eerste belangrike insig waartoe ons as gelowiges moet kom, is om te besef dat dit in ons godsdiens nie gaan om die kerk nie, maar om die koninkryk van God. By die wederkoms van Christus
sal die kerk verdwyn maar die koninkryk van God sal bly staan tot in ewigheid.
In Wikipedia word soos volg oor ontluikende kerke geskryf: "Ontluikende kerke is toegewy om Jesus se lewenswyse na te volg - veral Jesus se liefde vir God, sy naaste en selfs sy vyande.
Die evangelie word verstaan uit die sentrale rol van Christus en sy aankondiging dat God se ryk aangebreek het sodat daar versoening tussen God, mens en skepping kan plaasvind."
Persone wat oor die verskynsel van godsdiens navorsing gedoen het, het tot die gevolgtrekking gekom dat mense oor die algemeen baie positief dink oor Jesus Christus. Die probleem is egter
dat baie mense nie lus het vir die "vrou" van Christus (dit is die kerk) nie. Vir hulle gaan dit in die kerk om 'n klub van Godsdienstige mense waar die klublede tradisies vier en lekker
saam met die ander klublede kuier. Verder het die kerk geen invloed na buite nie. So is daar ook ander klubs waaraan mense behoort. Kies dus maar vir jou by watter klub jy wil aansluit
en lewe jou daarin uit.
Die eerste belangrike verskuiwing wat daar in die gelowige se denke moet kom, is om te besef dat dit nie gaan om kerkgroei nie, maar om koninkryksgroei. Die fokus van die
gelowige mag nooit op die kerk gerig wees nie, maar altyd op die koninkryk van God - die heerskappy van God oor die ganse wêreld moet die mikpunt wees. In hierdie verband is twee sake
van die uiterste belang:
- God se droom. Die alles oorkoepelende saak waaroor dit vir die gelowige moet gaan hou verband met God se droom. Wanneer die Bybel bestudeer word, kom mens agter dat
dit vir die Here gaan om mense met nuwe harte, nuwe liggame, 'n nuwe volk van God, 'n nuwe mensdom. Alles moet nuut gemaak word sodat daar uiteindelike 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde
tot stand kan kom. In die Ou Testament gaan dit om God se sjalom (die vrede van God) wat op aarde moet realiseer. In die Nuwe Testament gaan dit om die ryk van God wat gekom het en al
verder uitgebrei moet word. Dit bring die tweede belangrike saak in gedrang:
- Die gelowige se roeping. Elke gelowige moet erns maak met sy/haar Godgegewe roeping. Hierdie roeping kom kortliks daarop neer dat ons God se nuwe koninkryk bekend moet maak.
Elke gelowige moet teken wees van God se heerskappy. Jou styl van lewe sal kenmerke van God se koninkryk moet vertoon in alles wat jy doen en waarmee jy elke dag besig mag wees. Omdat ons
nietige mense bly wat geneig is tot die kwaad ten spyte daarvan dat ons geredde mense is, vra ons roeping van ons 'n proses van voortdurende bekering.
Iemand met die naam van Milfred Minatrea sê: "Missional churches seek to develop Kingdom Citizens".
In die boek waarna reeds hierbo verwys is, probeer Nelus Niemandt ons help om die koninkryk van God beter te verstaan deur 'n aantal terme te gebruik wat op eietydse wyse verskillende
perspektiewe van God se koninkryk belig. Die volgende word genoem:
- God se droom. In die koninkryk van God gaan dit om sy totale heerskappy oor die hele
skepping. Det die koms van Jesus na hierdie wêreld het Hy deur die offerande van sy lewe aan die kruis en veral sy opstanding uit die dood, die oorwinning oor alle magte in die hemel en
die aarde behaal. Jesus verklaar net voor sy hemelvaart: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde." (Mat 28:18b) Daarom kan Paulus bid vir die gemeente in Efese: "Ek bid dat Hy
julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom." God se droom vir hierdie
wêreld is dat hierdie mag van Jesus Christus deur die ganse skepping erken sal word sodat daar 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde tot stand kan kom
- God se rewolusie. God neem nie genoeë met die feit dat die mens in opstand teen hom gekom het en nou
mag en reg in eie hande kan neem nie. Deur Jesus Christus na die wêreld te stuur, het God oorlog teen die bose verklaar. Mens sou kan sê dat Jesus die groot rewolusionêr is wat teen
die mens se arrogansie in opstand kom. Wie dus aan Jesus se kant kom staan deur in hom as Verlosser te glo, moet weet dat hy/sy deel word van God se rewolusie. Toegerus met die wapens
wat God self in Ef 6 voorsien, betree ons die strydperk om saam vir die koninkryk van God te veg, wetende dat die oorlog eintlik al klaar gewen is.
- God se visie & missie (sending). In die sekulêre wêreld en selfs in die funksionering van gemeentes is
die uitwerk van 'n visie en missie vir die instansie deur strategiese beplanning by ons al ou nuus. Dit beteken maar net dat jy baie meer doelgerig oppad is iewersheen met die saak waarmee
jy besig is en dat jy nie sommer maar net doen ter wille van doen nie. So gaan dit met die koninkryk van God. God is met die wêreld doelgerig op pad. Sy visie met die wêreld is om dit in alle
opsigte so te regeer dat alles en almal sy heerskappy sal erken en daarvoor sal buig. Die manier hoe hierdie visie bereik gaan word, hou verband met jou en my roeping. Hy wil mense, gelowige
volgelinge gebruik om ander mense te bereik.
- God se fees. In die Bybel word daar soms verwys na 'n feesmaal wanneer na die mens se ontmoeting
met God verwys word. So praat Dawid in Ps 23 byvoorbeeld daarvan dat hy tuis is in die huis van die Here omdat hy daar oorlaai word met die hartlikheid van die Here se goedheid wanneer
hy by die feestafel aansit. In Openbaring word vertel van die feesmaal wat in die hemel geniet sal word. God se koninkryk het te make met feestelilkheid, vrolikheid, oorvloed van God
se gasvryheid.
- God se netwerk. Die hele konsep van netwerke ken ons vandag ookal goed. Die internet is sekerlik
die grootste enkele netwerk waardeur mense oor die hele wêreld met mekaar kan kommunikeer en inligting oor en weer uitgeruil kan word. Die gelowige volgelinge van die Here vorm almal saam
God se netwerk op aarde. Deur hierdie netwerk kan die Here sy heerskappy uitbrei en sy koninkryk al meer gestalte in mense se lewens aanneem.
- God se dans. In die Bybel is daar ook sprake van danse wat gebruik word om die vreugde van te
behoort aan God se koninkryk mee te vier. Mens sou dus kon sê dat God se koninkryk bedoel is om mense van vreugde te laat dans.
- Ubuntu. Hierdie is 'n woord wat van die Zoeloes afkom. Dit word in hulle kultuur gebruik om
te sê dat die individu se waarde en betekenis saamval met die indentiteit van die groep waaraan jy behoort. Dit is waaroor dit in God se koninkryk gaan - om mense aan God se groep te laat
behoort sodat jy kan lewe.
Die koninkryksvraag: hoe verander ons die gemeenskap waarbinne die kerk leef?
Twee aspekte van God se koninkryk loop altyd in 'n kreatiewe spanning met mekaar saam: aan die eenkant is daar die al-reeds van die koninkryk en aan die anderkant is daar die
nog-nie karakter. Die koninkryk van God bestaan reeds, dit is 'n werklikheid. Tog moet hierdie werklikheid almaar en al beter deur Jesus Christus se volgelinge gestalte kry in
hierdie gebroke wêreld waarin ons leef. Daarom is ware geestelikheid nie 'n ontsnappingsroete om die gelowige te help om van hierdie aandse bestaan af weg te kom nie. Dit word 'n lewensreis
waarin elke gelowige die verantwoordelikheid het om God se toergids in hierdie wêreld te wees. Wie kan nou ooit 'n beter toergids wees as die mens wat sy wêreld deurleef het? Die deurgeefde
gelowige is die heel beste daartoe instaat om namens God die mense van die wêreld te wys hoe die heerskappy van God in die mens se lewe lyk.
Iemand met die naam van Bernard Stiegler het hierdie baie belangrike opmerking gemaak: "Dit gaan nie soseer oor waarheen jy gaan nadat jy sterf nie, dit gaan oor die wêreld wat jy agterlaat wanneer jy sterf". Daarme bedoel he dat die gelowige se doel op aarde is nie om net seker te maak dat jy eendag die ewige lewe gaan erf na jou dood nie, maar dat die lewe self jou fokus
moet word. Jou fokus moet dus veral daarop gerig wees om 'n stukkie van God se heerskappy in hierdie wêreld agter te laat deur die styl waarop jy geleef het. Wat veral hier van belang is, is
om te onthou dat God se koninkryk te make het met die hele spektrum van ons lewe. Sy heerskappy moet in die onderwys, die politiek, die ekonomie, die ekologie, en noem maar op sigbaar gemaak
word.
Dit bring ons daartoe om na te dink oor die volgende vrae:
- Watter soort van lewenstyl wil God hê mense moet leef?
- Hoe lyk lewe in God se ryk regtig?
- Hoe lyk dit wanneer mense 'n goeie lewe lei?
- Hoe lyk dit wanneer die kerk regtig in die gemeenskap doen wat die Here Jesus wil hê ons moet doen?
- Watter nalatenskap laat ek agter wanneer ek sterf?
- Hoe kan jy help dat God se liefde ervaar word en nie net bedink word nie?
As jy graag na die klankbaan van hierdie lesing wil luister, klik hier.
Terug na hoofblad.