Die betekenis van Kerklike geloofsgemeenskap

Jy sal sekerlik met my saamstem as ek sê dat goeie verhoudings met ander mense van kritiese belang is vir elkeen van ons. Is dit dan nie juis deur verhoudings met ander dat jy as mens jou vervulling in die lewe die beste beleef nie? Aan die anderkant, is een van die slegste dinge op aarde nie in eensaamheid geleë nie? Natuurlik is daar mense wat die beter regkry as ander om alleen te kan regkom. Maar, selfs sulke mense het van tyt tot tyd behoefte aan die nabyheid van ander mense. Die mens is nie verniet 'n kuddewese nie. Daarom moet ons net weer kennis neem van die ou Afrika-segswyse of ook in Zulu "Ubuntu" genoem wat lui: "'n Mens is mens deur ander mense".
Hierdie afhanklik wees van en betrokke wees by die lewens van ander mense is eweneens waar vir die geloofsgemeenskap waarvan jy as gelowige deel is. Daarom is dit belangrik dat ons 'n slag met mekaar daaroor in gesprek tree. Waar kom dit vandaan en wat beteken dit? Kom kyk kortliks na die volgende opmerkings.

Die bron = gemeenskap met God

Waar kom die gedagte vandaan dat elke gelowige noodwendig deel uitmaak van 'n geloofsgemeenskap? Wanneer Paulus hieroor in Ef 3 aan die gelowiges in Efese skryf, dan sê hy die volgende: "Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God." (Ef 3:14-19)
Hierdie is een van daardie gelaaide Skrifgedeeltes wat mens eintlik 'n paar keer oor moet lees om die betekenis daarvan te kan begryp. Let op hoe al drie persone van God Drie-enig in die perikoop 'n rol speel. Die belangrikste is om raak te sien dat die geloofsgemeenskap sy oorsprong van God die Vader self ontvang het. Dit is dus nie deur die besluit van mense of die een of ander kerklike organisasie wat besluit het dat gelowiges in 'n bepaalde geloofsgemeenskap moet behoort nie. Dit is ook nie 'n geval van net die gelowige wat kies om deel van die geloofsgemeenskap te wees, wat wel deel daarvan is nie. Dit is ook nie so dat jy deel word van die geloofsgemeenskap deur amptelike lidmaatskap van die een of ander kerk of gemeente te kry nie.
Nee, Paulus stel dit duidelik dat God die Vader direk verantwoordelik is ddravoor dat jy deel van 'n geloofsgemeenskap vorm. Sonder om hier 'n lang teologiese diskussie daaroor te voer, kan net gesê word dat die manier hoe God jou deel van die geloofsgemeenskap maak verband hou met sy verkiesende genade en die feit dat Hy deur die werking van sy Gees in jou hart die geloof geplant het sodat jy die verlossing wat deur Jesus Christus bewerk is deelagtig kan word. Dit is veelseggend dat Paulus dan vanuit hierdie fundamentele oorsprong die gelowiges oproep om gesamentlik te ontdek wat die volle inhoud van God se liefde is. Let daarop dat hy doelbewus nie vir elke gelowige as individu voorbidding doen nie, maar vir die geloofsgemeenskap as 'n eenheid. Trouens, die volle omvang van God se liefde kan net verstaan word as jy dit onderling in verhouding met ander mense ontdek.

Geloofsgemeenskap met mekaar

In die volgende paar Skrifgedeeltes gebruik Paulus bogenoemde uitgangspunt as basis om 'n oproep op die gelowiges te doen om onderlinge liefde teenoor mekaar uit te leef. In Fil 2:1-2 sê hy: "Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing — maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe." Die Boodskap-vertaling stel dit soos volg: "As julle Christenskap vir julle enigiets beteken, as julle liefde vir mekaar julle deur moeilike tye gedra het, as die teenwoordigheid van die Gees enige verskil in julle lewe gemaak het, as julle weet wat dit beteken om iets vir mekaar te voel, ja, om vir mekaar om te gee, dan wil ek julle 'n groot guns vra..." Met hierdie opmerking bedoel Paulus dat die teken van jou geloofsverbintenis aan God (wat liefe is - 1 Joh 4) sigbaar word in jou liefdesverbintenis aan ander gelowiges.
In Ef 4 gee Paulus 'n verdere motivering hiervoor deur te sê: "Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde." Paulus is lief daarvoor om 'n mens se liggaam as beeld vir die kerk as geloofsgemeenskap te gebruik. Daarmee word twee belangrike eienskappe beklemtoon: aan die eenkant is die geloofsgemeenskap 'n eenheid soos die mens se liggaam. Deur geloof in Christus is ons ook aan mekaar verbind soos wat elke liggaamsdeel op verskillende maniere aan mekaar verbind is. Al is die liggaam 'n eenheid, bestaan dit ook uit 'n verskeidenheid van ledemate. Die verskeeidenheid is juis belangrik vir die korrekte funksionering van die liggaam as geheel. In die mate wat elke liggaamsdeel korrek funksioneer, bat die liggaam as geheel ook daarby en kan die liggaam wees en doen wat van hom verwag word. So gaan dit ook met die geloofsgemeenskap waarvan jy en ek deel is. Die geloofsgemeenskap funksioneer nie al beter na die mate wat net 'n handjie vol mense (gewoonlik die leiers of kerkraadslede saam met die leraars) hulle diens al beter lewer nie. Die gemeente (geloofsgemeenskap) groei en funksioneer al beter wanneer elke gelowige wat deel vorm van die gemeente sy/haar diens lewer.
Deur dus deel te vorm van die geloofsgemeenskap en gehoorsaam aan die Here jou diens te lewer, is dus nie 'n saak van vrye keuse nie, maar deel van die wesensaard van kerkwees. Jy het ander mense nodig en hulle het jou nodig sodat almal saam in geloof kan groei en God almeer deur die geloofsgemeenskap verheerlik kan word.

Betrokkenheid in gemeente

Die tyd waarin ons leef word baie sterk gekenmerk deur die verskynsel van die postmodernisme. Een van die eienskappe hiervan is dat die individu baie vryheid ontvang het. Elke mens eien hom-/haarself die reg toe om te fokus op eie belange. Alles moet gebeur volgens die individu se smaak. Hierdie houding word ook in ons kerklike lewe ingedra sodat kerklike meelewing ook aan hierdie maatstaf gemeet word. Dit lei meermale daartoe dat mense al minder lus het om amptelik lidmaat van 'n kerk of gemeente te word. Ook die belewenis van die gelowige se verhouding met die Here word 'n persoonlike saak waaroor elkeen vir hom-/haarself kan besluit.

Die belangrike vraag om te beantwoord is dus: wat konstitueer jou betrokkenheid by 'n kerk of gemeente? Is amptelike lidmaatskap die motivering sodat jy om daardie rede iewers "aansluit"? Of is daar iets ander? Uit wat reeds hierbo gesê is, word hier duidelik gestel dat amptelike kerklike lidmaatskap nie die motiverende faktor vir betrokkenheid by 'n gemeente moet wees nie. Jy is dus nie betrokke by 'n gemeente omdat jy nou eenmaal daar 'n lidmaat is wie se besonderhede in 'n register opgeskryf is nie. Dit gaan ook nie om die vordele wat jy as lidmate kan ontvang omdat jy lidmaat is nie. As dit die rede vir jou betrokkenheid is, is jou fokus op jouself gerig en selfsugtig.
Dit is belangrik om raak te sien dat die motivering vir kerklike/gemeentelike betrokkenheid voortvloei uit die feit dat jy saam met ander gelowiges aan God gebind is en daarom 'n saam met hulle diesekfde stel kernwaardes tot eer van God najaag. Die foukus val nie op elkeen se eie belang nie, maar op die verheerliking van God deur elkeen se diensbaarheid aan mekaar en aan God. Om ons hiermee te help, het ons hier in die NG Gemeente Pierneef hierdie gesamentlike stel waardes soos volg geformuleer:

Elke waarde spreek vir homself sodat hier nie verder daarop ingegaan word nie. Jy kan ook uit bogenoemde stel kernwaardes agterkom dat die fokus nie op die individuele gelowige val nie, maar op die koninkryk van God en die opbou van die "liggaam van Christus".

Teen die agtergrond van hierdie uiteensetting is die onderskeid tussen mense nie geleë in die vraag of iemand amptelik lidmaat van 'n gemeente is of nie, maar lê die onderskeid eerder in die vraag waar jy lê ten opsigte van die sentrum van die kernwaardes wat nagestreef word. Lê jy nader of verder weg van die sentrum van die geloofsgemeenskap?

Nuutgedink oor kerkwees

As die geloofsgemeenskap dan lyk soos hierbo verduidelik is, hoe moet ons oor kerkwees dink? Die volgende opmerkings word hieroor gemaak:

  1. Die kerk is 'n familie en nie 'n organisasie of instelling nie.

    Uit die aard van die saak moet daar 'n bepaalde organisatoriese struktuur wees waarbinne 'n kerk (gemeente) funksioneer. Maar, dit gaan nie in kerkwees om die instandhouding van die organisatoriese nie. Die gemeente is in eerste instansie 'n geloofsfamilie. Wanneer in die Bybel oor die kerk gepraat word, word op verskillende maniere na die kerk verwys as 'n familie. So word die gemeente byvoorbeeld die huisgesin van God genoem in Ef 2:19.
    Die interressante van 'n familie is dat jy nie 'n familie kies nie. Jy moet vat wat jy kry ongeag jou gevoelens. Aan die anderkant is dit juis familie wat vir mekaar verantwoordelikheid neem.

  2. Dit gaan om mense en nie 'n plek nie.

    In 'n gemeente gaan dit in eerste instansie om 'n netwerk van mense rondom Jesus Christus en sy waardes. Jou identiteit het niks te doen met die plek/gebou nie, maar met verhoudinge. Sopms kry mens die indruk dat dit in gemeentes gaan om die opbou en instandhou van die geboue, die naam van die gemeente en alles wat daarmee saamgaan eerder as om die uitbreiding van God se koninkryk. Dan word die identiteit bepaal deur die tradisie, die naam, geboue, ens eerder as dat die koninkryk van God gedien word. In sulke gevalle het die fokus weg van God verskuif na wat die mens behaag.

  3. Die Kerk is 'n gemeenskap wat onderling aan mekaar verantwoording verskuldig is.

    Somtyds as jy met iemand oor sy/haar verhouding met die Here praat, sal so 'n persoon sê dat dit niks met jou te doen het nie omdat dit 'n privaat saak tussen die individu en die Here is. Dit is aanduiding daarvan dat so 'n persoon nie die aard van 'n geloofsgemeenskap verstaan nie. Die individu se persoonlike verhouding met die Here het alles te make met die res van die gemeente omdat hulle ook deur die individu se geloofslewe geraak word. In 1 Kor 12 spel Paulus dit mooi uit as hy in vers 26 sê: "As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly." Die gelowiges het die verantwoordelikheid om mekaar te hou aan die kernwaardes wat gesamentlik nagestreef word. Dit gaan immers om die eer van die gemeente se God wat op die spel is.

  4. Die kerk is gemeenskap en nie byeenkoms nie.

    Soms kry mens die indruk by mense dat dit in hulle kerklike betrokkenheid gaan om die erediens en wat hulle daaruit kan kry. As dit nie na hulle smaak ingerig word nie, gaan hulle weer na 'n volgende gemeente op soek na die bevrediging van hulle eie behoeftes. Sulke mense verstaan nie dat dit in kerkwees gaan om meer as erediens. Dit gaan eerder om 'n gemeenskaplike lewenstyl vanuit die erediens.

  5. Kerk is God se mense wat na die wêreld gestuur word.

    Die gerigtheid van die kerk is altyd na buite. Dit gaan nie in die eerste instansie om die gelowiges se opbou en geloofsgroei ter wille van hulleself nie, maar altyd in die eerste instansie om die verheerliking van God deur die gelowiges se betrokkenheid by die gemeenskap rondom hulle. Die geloofsgemeenskap help mekaar om God beter in die wêreld te gaan verteenwoordig. Hoe anders sal die wêreld weet dat god hulle regtig intens liefhet? (Joh 3:16).

Milfred Minatra het gesê: "Church is not location-based but relation-based". 'n Persoon met die naam van Neil Cole het gesê: "The church is much more than a one-hour service held one day a week"

Kenmerke van so 'n geloofsgemeenskap

Hoe lyk so 'n geloofsgemeenskap dan? Die volgende paar kenmerke word net genoem en spreek eintlik elkeen vir homself:



As jy graag meer hiervan wil hoor, kan jy hier klik en luister na die klankbaan van die lesing wat hieroor gelewer is.

Terug na hoofblad.