DIE NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS - Artikel 1.


Artikel 1 : Die enigste ware God


DIE ENIGE GOD

Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.


1.Die Skrifgedeeltes wat Guido de Brés by art. 1 ingevoeg het is: Mat 10: 32-33, 1 Pet 3:15, Rom 10:10, 2 Tim 2:12. Hierdie verse was eintlik as die inleiding tot die hele geskrif bedoel.


2.”Ons glo almal met die hart en bely met die mond.” Dit is ‘n direkte sinspeling op Rom 10:9-10 waar Paulus sê dat ons “Christus-alleen” bely teenoor die Jode wat nie uit genade wou leef nie, maar deur eie verdienste. Die artikels wat volg is ook nie ‘n saak van eie insig nie, maar die naspreke van dit wat geopenbaar is deur God. Dit gaan om ‘n gelowige aanvaarding van die Woord. Geloof is nie iets wat die mens/kerk geskep het nie. Die gelowige is net ‘n naprater. Hy praat ná dit wat van Bo geopenbaar is uit genade. Die inhoud van wat ons glo, is dus nie die produk van die mens se hart nie. Die kerk be-aam net dit wat die Here geopenbaar het. Die ware kerk wil nie self iets skep nie, maar net luister na wat die HERE sê en uit Sy genade leef. Dit roep Rom 10:9 & 10 op: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.


3.Let op die woordjie “almal”. Dit wat in die NGB staan, is alle ware gelowiges se belydenis, want dit is die suiwere apostoliese leer. Wie hom van dele hiervan distansieër, distansieër hom van die ware kerk van Christus! Die “gereformeerde” leer is dus nie maar net nog een tradisie tussen vele ander (wat ewe goed is) nie! Dit is die enigste ware leer, omdat dit apostolies is. Dit is die leer van Christus. Almal, wat by die leer vd apostels wil bly, glo dit! Hoe wonderlik om, deur die NGB, met alle ware gelowiges vanoor 2000 jaar, hande te vat en saam die Waarheid te mag bely!


4.Kyk ook na die woordjie “hart”. Die geloof is nie ‘n dorre verstandelike saak nie. Dit gaan nie net oor “kopkennis” nie. Dit raak die hart en die lewe. Dit verander die gelowige se lewe. Geloof in die Evangelie raak die wese van die mens. ‘n “Belydenis” van geloof sonder ‘n transformasie in die mens se lewe, is onmoontlik.


5.Die bestaan van God hoef nie bewys te word nie. Dit kan trouens nie. Let op hoe begin die Bybel in Gen 1:1. Deur die eeue is talle sulke “bewyse” aangevoer, maar dit kan nooit reg laat geskied aan Hom nie. Die getuienis van die Skrifte moet aanvaar word of verwerp word. ‘n God wie se bestaan “bewys” kan word, sou in elk geval geen god wees nie, want Hy sou dan aan die mens se verstand onderworpe wees! Dit sou nie die moeite werd wees om so ‘n god te ken nie.


6. Wie is hierdie God in Wie ons mag glo? Bekyk ons die getuienis van die Skrifte oor Hom, kom ons net onder die indruk van Sy grootheid. Ons kan geen “opsomming” gee van Sy eienskappe nie. Dit is onmoontlik. Dit wil artikel 1 ook nie. Nee, ons moet in verwondering kom oor Hom. ‘n Gelowige lewe nie volgens presies uitgewerkte wiskundige formules van wie God is nie. ‘n Gelowige leef in/uit verwondering!


a)Hy is enig. Daar is net een God. Alle ander is afgode (demone) en mensgemaak. Ps 89:9 Here, almagtige God, wie is soos U? Jes 40:25 Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige.


b)Hy is enkelvoudig. In Hom is daar geen teenstellinge en spanninge. Hy is volledig betroubaar


c)Hy is geestelik. Hy kan nooit deur menslike begrip of beeld vasgevang word nie. Hy is nie-stoflik, nie-liggaamlik, nie-geskape. Engele is ook gees, maar is geskape geeste! Joh 4:24 God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.


d)Hy is ewig. Hy het geen begin gehad nie. Hy sal ook geen einde hê nie. Hy is verhewe bo die tyd. Psalm 90:2; Deut 33:27 Die ewige God is ’n skuilplek, sy arms is altyd onder jou Jes 40:28 Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God.


e)Hy is onbegryplik. Ons kan Hom beslis ken, maar Sy wysheid is veel meer as wat die mens se verstand ooit kan deurgrond. Jes 55: 8-9, 1 Kor 2: 9-10. Dit sny alle menslike hoogmoed af. Jes 40:13-14 Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree? Rom 11:33-34 Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?


f)Hy is onsienlik. Hy kan nie met die menslike oog gesien word nie. Ook wanneer Hy Homself sigbaar gemaak het (bv. Moses), was dit nie die volle heerlikheid nie, want dit kan geen mens sien en bly lewe nie. 1 Tim 6:16. Ons moet hou by Sy beeld soos dit in die Bybel na ons kom.


g)Hy is onveranderlik. Hy hou Hom aan Sy beloftes. Hy is betroubaar. Hy is onveranderlik in Sy trou. Hy kan ook wel verander. Wanneer dit oor Sy toorn gaan. Hy sien af van Sy oordeel. Vergelyk Nineve (Jona). Maar, Hy sien nie af van Sy verbondsbeloftes nie. Die onveranderlikheid van God beteken dus nie dat God hard en kil is nie. Eks 3:14 Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.


h)Hy is oneindig. Hy bly sonder ‘n einde vir ewig bestaan.


i)Hy is almagtig. Die Here het ‘n Raadsplan en Hy kan dit uitvoer. Niks of niemand kan dit stop nie. Alles wat Hy wil, dit kan Hy. God se almag het niks te doen met die doen van allerlei “toertjies” nie. Jesus se wonders was nie fasinerende toertjies van Sy almag nie. Dit was tekens wat die koms van die koninkryk aangekondig het. Wanneer dit gaan oor tekens en bakens vir Sy koninkryk, kan Hy ook dooies opwek! Hy kan. Openb 1:8 “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.


j)Hy is volkome wys. Hy is “alleenwys”. 1 Tim 1:17. Dit het nie in die eerste plek te make met Sy superintelligensie nie(bv. waarmee Hy die skepping gemaak het nie), maar dit gaan daaroor dat Hy absoluut alles op so ‘n perfekte wyse sien en deurgrond, dat Hy nooit foute maak nie. Rom 11:33 O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!


k)Hy is regverdig. By Hom heers die perfekte regstelsel. Perfekte reg. Hy is ook magtig om die ellendes van die lewe by Sy perfekte reg te laat inpas ter wille van Sy kinders. Rom 8:28. Sy verlossingsplan deur Christus se dood en opstanding geskied volgens perfekte regsbeginsels. Rom 3: 26. Ons hoef nie reg uit te oefen en wraak uit te oefen nie. God sal reg laat geskied. Ps 25:8-10 Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar.


l)Hy is die fontein van dit wat goed is. Hy wil nie die kwaad en ellende nie. Hy is nie die outeur daarvan nie. Ps 16:11 U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.


Terug na Bybelskool