Hoe om dinamiese Bybelstudie te doen.
Almal sal saamstem dat dit van kritiese belang is om elke dag reg te eet. Mense doen baie moeite met hulle dieet. Kombuise word
met groot sorg en beplanning ingerig en die regte gereedskap word met moeite aangeskaf. Daarvoor is mense gewillig om baie geld
te spandeer en tyd af te staan. Dit is nie net nodig om te eet nie, dit is lekker ook - soms te lekker. Daarvan kan heelwat van ons
se figure getuig.
As mense maar net dieselfde passie met die versorging van hulle geestelike lewe aan die dag wou lê. Miskien is dit juis een van
die probleme van ons tyd. Oor die algemeen doen mense baie min moeite om geestelik versorg te word en dan is hulle verbaas dat hulle
onder moeilike omstandighede nie kan staande bly nie. Sommige mense sê hulle lees tog elke dag Bybel. Ander kla weer dat hulle nie
weet hoe om met die Bybel te werk nie omdat dit so 'n moeilike boek is. En tog stem almal saam dat geestelike voedsel van die
uiterste belang is. Mens kan net so min daarsonder klaarkom as wat jou lliggaam sonder kos kan regkom.
Die bedoeling van hierdie reeks is om jou te help om nie net Bybel te lees nie, ook nie om net Bybelstudie te doen nie, maar om
dinamies Bybelstudie te doen. Die verskil tussen Bybel lees, Bybelstudie doen en om dit dinamies te doen, lê daarin dat laasgenoemde
jou leer om die effek van God se Woord prakties in jou lewe te ondervind. Per slot van rekening is God se bedoeling met sy
Woord nie net om 'n klomp inligting bekend te maak nie, maar om dit te doen sodat dit jou kan help om al beter so te lewe dat
jy die Here in jou lewe sal verheerlik. Dit beteken dat jy deur die bestudering van die Bybel almeer soos Jesus moet lewe.
Daarom is dit belangrik om te ontdek hoe om Bybelstudie te doen sodat jy daar kan kom. Hierdie reeks sluit in 'n groot mate aan by
Rick Warren se boek met die titel "Bible study methods". Dit word egter in ons eie konteks aangepas en bygewerk. Deur na verskillende
Bybelstudie metodes te kyk, kan jy uiteindelik een of twee ontdek wat by jou spiritualiteit en persoonlike behoeftes pas.
Geniet die ontdekkingstog.
Belangrike beginsels vir Bybelstudie.
Voordat ons na spesifieke Bybelstudiemetodes kan kyk, moet ons net eers na 'n paar belangrike beginsels wat geld vir die doen van
Bybelstudie gaan kyk. Daarmee word bedoel dat hierdie sake as uitgangspunte vir alle Bybelstudie geld.
- Vra die regte vrae.
Om vrae te vra, is een van die beste maniere om inligting objektief te bekom. Maar, dan moet mens natuurlik die regte soort vrae vra.
Dit is ook moontlik dat mens verkeerde vrae wat nie van toepassing is nie of wat irrelevant is, kan vrae. Dan gaan jy of
geen antwoorde kry nie, of antwoorde wat geen betekenis het nie omdat dit nie van toepassing is nie. Daarom is dit nodig dat jy
sal leer om in elke situasie die regte soort vrae te vra. Hierdie tegniek is ook van groot belang wanneer jy die Bybel bestudeer.
Eintlik is Bybelstudie niks ander nie as die soek na antwoorde. In elkeen van die metodes wat ons gaan behandel sal jy leer om op
'n ander manier vrae te vra sodat jy die regte antwoorde kan kry.
- Maak aantekeninge.
Dit is belangrik om notas te maak terwyl jy met jou studie besig is. Eers wanneer jy jou gedagtes neergeskryf het, verstaan jy jouself beter en onthou jy soveel beter wat jy geleer het. Jy kan gerus die
gewoonte aanleer om enige vrae wat in jou gemoed is oor enige geestelike of godsdienstige kwessie neer te skryf en selfs die
antwoorde daarop. Jy sal agterterkom dat die feite beter by jou insink en langer bly.
- Maak 'n toepassing.
Hierbo is die opmerking al gemaak dat die bedoeling van die Bybel nie net is om inligting bekend te maak nie. Nee, God se bedoeling
is om sy wil vir jou lewe uit te spel. Hy wil hê dat jy al beter sal agterkom hoe Hy wil dat jy elke dag moet lewe sodat jou manier
van lewe sy liefde en wese aan die wêreld kan bekend maak. Onthou jou verhouding met die Here draai nie in die eerste instansie
om jouself en jou geluk nie, maar om die Here en sy liefde vir die wêreld. Jy moet almeer soos Jesus word en daarvoor is dit nodig
dat jy God se wil in sy Woord sal leer ken, en dit ook prakties sal toepas. God wil juis jou lewe gebruik om sy koninkryk op aarde
uit te bou. Bybelstudie is dus baie meer as maar net die opdoen van kennis. Dinamiese Bybelstudie gaan om die toepassing wat jy
geleer het. Ook hier moet telkens die regte vrae gevra word. Vrae soos: Wat moet ek nou doen? Moet iets in my lewe verander? Moet
ek met 'n dienswerk begin? Moet ek dalk iets los? Hoe moet my verhoudinge lyk as Goe se wil gebeur? ens. Met elke Bybelstudie moet
die vorige toepassingsopdrag ook gemonitor word. Wat het ek toe daarmee gedoen? Hoe het dit my lewe geaffekteer?
- Wees sistematies.

Baie mense lees die Bybel soos die seuntjie wat die veelkeuse vraestel in die eksamen moes invul. Hy het elke keer 'n muntstuk
opgeskiet om die antwoord te bepaal. Ons kan nie lukraak met die Bybel werk nie. Dinamiese Bybelstudie vra dat jy sistematies
deur die Bybel sal werk. Die sisteem kan aan die hand van verskillende moontlike kategorieë gedoen word: Jy kan 'n Bybelboek neem
en dit van voor af deurwerk. Jy kan ook 'n sekere tema neem en bestudeer. Die mense wat in die Bybel voorkom, kan ook bestudeer
word. Dan kan jy ook na sekere leerstellige kwessies gaan kyk. Die belangrike is dat jy dit sistematies sal doen en nie sommer
net die Bybel op 'n plek oopslaan met elke studiegeleentheid nie.
- God se Woord is onuitputlik.
Baie jare gelede het 'n kollega vir my gesê dat hy met sy hande in sy hare sit. Na vier jaar in die gemeente weet hy nie meer wat
om te preek nie. Hy is al deur die Bybel. Hy het heel waarskynlik heeltemal verkeerd te werk gegaan want dit is net nie moontlik om
God se Woord uit te put nie. Miskien het jy dit ookal beleef dat jy na 'n tyd weer 'n oorbekende skrifgedeelte lees en dat daar dan
'n hele nuwe aspek van die boodskap by jou opkom. Jy hoef dus nie bang te wees om Bybelstudie te doen nie. Jy sal nie God se Woord
uitput as jy op die regte manier te werk gaan nie.
Voorbereiding vir die doen van dinamiese bybelstudie.
Voordat jy Bybelstudie doen, moet die volgende dinge in plek wees.
- Skeduleer jou tyd.
Baie van ons het grootgeword met die idee dat jy elke dag jou Bybel moet lees - selfs twee maal: in die oggend en die aand - anders
is jy nie 'n goeie gelowige nie. Van Bybelstudie was daar geen sprake nie. Vir baie van ons het omstandighede so verander dat
ons vroeg moet opstaan vir werk en laat tuis kom en dan nog 'n klomp ander verpligtinge het dat ons net nie by die tradisionele
ideaal kom nie. Dit lei meermale daartoe dat mense met 'n geweldige skuldgevoel rondloop. Mens moet altyd versigtig wees om tradisies
tot norme te verhef.
Die norm is natuurlik nie hoeveel keer jy dit doen nie, maar dat jy dit doen en wanneer jy Bybelstudie doen, dat jy dit ordentlik
en dinamies doen sodat dit 'n lewensveranderende effek op jou het. Daarom moet jy 'n slag gaan sit en mooi dink wanneer dit in jou
week se program die beste tyd is vir Bybelstudie. Dit maak nie saak wanneer dit is nie. Dit kan vroeg in die oggend wees of laat
in die aand. Dit kan enige dag van die week wees. Daar is geen Bybelse voorskrifte in hierdie verband nie en elke sekonde van die
dag behoort aan die Here. Die belangrikste is dat jy dit sal regkry om een uur elke week opsy sit vir die doen
van dinamiese Bybelstudie.
- Kry die regte plek
Dit is belangrik dat jy iewers 'n plek sal vind waar jy ongestoord vir daardie uur lank met die Bybel kan besig wees. Niemand moet
jou kan pla nie. Spreek dus met ander mense in die huis af (indien jy nie alleen bly nie) dat hulle jou nie mag pla (behalwe
natuurlik as daar 'n noodgeval is). Ook die telefoon mag jou nie pla nie. Trek dit uit of vra die ander in die huis om dit te
antwoord. Sit jou selfoon af. Kry 'n plek waar jy gemaklik kan wees en nie deur allerlei geluide en/of bewegings afgesit kan word nie.
- Kry 'n geskikte notaboekie.
Hierbo is al oor die maak van aantekeninge gepraat. Dit beteken natuurlik prakties dat jy 'n geskikte boekie sal aanskaf. Los
die boekie altyd by jou Bybel. Daar is baie oulike drasakke beskikbaar waarin jy jou Bybel en notaboekie kan plaas om altyd by
mekaar te wees, selfs al gaan jy na 'n byeenkoms.
- Skaf die regte gereedskap aan.
Die feit dat die Bybel so oud is en boonop deur soveel verskillende mense onder baie verskillende omstandighede en kontekste geskryf
is, bring uit die aard van die saak mee dat jy verskillende hulpmiddels nodig sal hê om in vandag se konteks te kan verstaan wat
die Here vir jou wil sê. Soos wat ons met die verskillende metodes van studie gaan besig wees, sal na die spesifieke hulpmiddels
verwys word. Dit bly vir my verstommend dat mense vir die maak van kos in die huis baie moeite doen en baie geld spandeer om die
kombuis reg in te rig en baie verskillende apparate aan te skaf sodat die kos op hulle beste sal proe. As mense maar dieselfde
passie vir die bestudering van God se Woord aan die dag wou lê.
- Kies die regte metode.
Ons beleef nie almal ons verhouding met die Here op dieselfde manier nie omdat mense se spiritualiteit (Godsbelewenis) verskil.
Sommige mense hou daarvan om intellektueel met die Bybel besig te wees want dan ervaar hulle die meeste geestelike verryking. Ander
hou weer daarvan om meer emosioneel met God om te gaan om geestelik verryk te word. Nog ander verkies weer om dinge te doen. Wanneer
hulle met verskillende aksies en projekte besig is, word hulle weer geestelik verryk. Omdat ons so van mekaar verskil, is dit ook
nodig om uit te vind watter tipe metode jy moet gebruik om Bybelstudie mee te doen. Nie alle metodes gaan by alle mense aanklank
vind nie. Dit is dan ook die bedoeling met hierdie reeks waar ons na twaalf verskillende metodes gaan kyk. Jy gaan gehelp word om
in die loop van die proses te ontdek watter metode(s) vir jou die beste werk.
- Bid voor jy begin.
Omdat jy met die Here se Woord gaan werk, is dit van die allergrootste belang dat jy eers met die eintlik skrywer van die Bybel
sal praat voordat jy dit begin bestudeer. Dit kan so maklik gebeur dat mens Bybelstudie doen sonder dat jy regtig oop is om die
stem van die Here te hoor. Dit kan ook gebeur dat jy in jou binneste onrustig is en eers moet stil word en heeltemal konsentreer
op dit waarmee jy nou gaan besig wees. Daarom is dit nodig dat jy eers net heeltemal stil en rustig sal word. Soms is dit goed as
mens voordat jy bid net eers vir 'n rukkie doodstil sit met jou oë toe en niks anders doen nie as om net af te skakel en jou
gedagtes op God te fokus. Vra dan vir die Here om in daardie volgende oomblikke heeltemal van jou beheer te neem en jou denke
deur sy Heilige Gees so te rig dat jy werklik sy stem sal hoor wat met jou in jou situasie praat. Natuurlik moet mens ook wanneer
jy klaar Bybelstudie gedoen het, met die Here daaroor praat in gebed en hom vra om jou te help om die opdrag wat jy geformuleer het
te kan uitvoer tot sy eer.
Baie sterkte met jou Bybelstudie. Mag jy daarin vreugde vind.