BYBELSTUDIE OOR DIE NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS


Artikel 3: Die geskrewe Woord van God

Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.
2 Pet. 1:21; Ps. 102:19; Eks. 17:14; (Deut. 3); Eks. 34:27; Deut. 5:22; Eks. 31:18.

1.Die Here het nie net in die Bybel gepraat nie. Vóóraf het Hy op verskillende maniere met die vaders gepraat (Hebr 1:1 “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete”). Die profete se prediking is nie alles op skrif nie, maar hulle was nogtans deur die Gees gedrewe. Hulle het nie uit hulle eie hart gepraat nie. Die Gees het op verskilende maniere Sy Woord in hul bewussyn gebring bv deur toespraak (Gen 1:28, 2:16), inspraak (Num 24: 3-4, 16), visioen (Open 1:10), drome (Gen 28:12), wonders (Eks 4:1-9, die lot (1 Sam 14: 36-41) en Urim en Tummim (Eks 28:30).

2.    Behalwe dat God hom aan die mens deur die gesproke woord bekend maak, het Hy mense ook opdrag gegee om sy boodskap neer te skryf. Vgl byvoorbeeld Jer 30:2 “So sê die Here die God van Israel: Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in ’n boek.” Hab 2:2 “Die Here het toe vir my gesê: ?Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette ?sodat mense dit sommer ?in die verbygaan kan lees.” Opb 1:11 “Skrywe wat jy sien in ’n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” Dit wat dus wel op Skrif gestel is en aan ons sorgvuldig oorgelewer is, het die mens nie uit eie wil gedoen nie, maar deur die troue sorg vd Here self. Hy het die opskrifstelling “beveel”. Hy het deur Sy voorsienigheid daarvoor gesorg. Uit 2 Petr 1 is dit duidelik dat die Here gewone mense in diens geneem het om Sy Woorde op Skrif te stel. Sommige mense dink dat daar dan ook foute in die Bybel sal wees, omdat mense foute maak. Die Bybelskrywers was feilbare kinders van hul tyd en kultuurgebonde. Nee, die feit dat God mense in diens geneem het, beteken nie dat die Woord minder betroubaar geword het nie. Vers 20 sê dat ons die Skrif nie menslik mag uitlê nie en vers 21 gee die rede daarvoor: “Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek..”

3.    Die eintlike Skrywer van die Bybel is die Heilige Gees self. Kyk maar net hoe haal NT-skrywers die OT aan. In Hebr 3:7 word Ps 95 aangehaal as “die Heilige Gees spreek”. Jesus doen dieselfde wanneer Hy Ps 110 aanhaal in Mark 12:36: “Dawid self het deur die ingewing van die Gees gesê: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’. Dit is opvallend met watter gesag Petrus self die geskrewe Woord bejeen: Hy berig van die keer toe hy saam met Jesus op die berg van verheerliking was en wat hy daar gesien en gehoor het. So ’n direkte ondervinding moes tog aan Petrus baie gesag gegee het. Hy was daarby ’n apostel. Tog verwys hy sy lesers na die geskrewe woorde van die profete! Hy stel selfs sy eie ervaring saam met Jesus op die berg van verheerliking nie bó die geskrewe Woord van God nie!!

4.    Wat beteken dit dan dat die Gees mense gebruik het? Wat beteken dit presies dat die Gees die Bybel geïnspireer het? Het die mense soos robotte gesit en skryf wat hulle deur ’n stemmetjie in hulle ore gehoor het? Nee. Petrus sê hulle was deur die Gees “gedrewe”. Dit is ’n woord wat in die skeepvaart gebruik was vir die wind wat in die seile van ’n skip kom om hom in die regte rigting te stuur. Die mense wie die Gees in diens geneem het, het die Gees in hulle seile gekry, maar nie op misterieuse maniere nie. Hy het hulle gebruik terwyl hulle volledig mens was. Hulle het hulle talente, gawes en persoonlikheid behou. Lukas het navorsing gaan doen (uit ander bronne) vir sy evangelieskrywing. Paulus was gedwing om aan die Korintiërs te skryf as gevolg van die probleme en vrae in daardie gemeente. Omstandighede dus, maar onder die voorsienigheid van God. Johannes het visioene gekry op Patmos. Sommige van Paulus se briewe was noodsaaklik omdat hy in die tronk gesit het. Die mense het dus nie in willose robotte verander wat meganies gesit en skryf het nie. Die Gees se sorg was egter daar en Hy het elkeen in sy eie situasie gebruik en afgesonder. Nie die mens staan voorop nie, maar die Gees. Dáárom bely ons dat die Bybel God se Woord is. Jesus het byvoorbeeld die geskrewe OT volledig as Woord van God aanvaar. Sien Mat 5: 17-18, Luk 24: 27, Joh 5:39. Die apostels het ook geeis dat hulle eie geskrifte as Woord van God erken moes word. Sien 1 Thes 2:13, Gal 1: 8-9, 2 Petr 3: 15-16.

5.    Is daar ’n verskil tussen die Gees se inspirasie van die Bybelskrywers en die verligting van die verstand waardeur die Gees alle gelowiges lei, bv. predikers. JA!! Daar is ’n groot verskil. Volgens 2 Pet 1: 19-21 en 2 Timoteus 3:16 was die Bybelskrywers deur die Gees “meegevoer.” Die Griekse woord is “feromenoi.” Volgens Romeine 8:14 word die gelowige deur die Gees “gelei.” Die Griekse woord is “agontai.” Die eerste woord beteken dat die inhoud aan jou gegee word terwyl die laaste woord beteken dat jou verstand verhelder word sodat jy die inhoud wat jy lees kan verstaan.

6.    Ons bely dus dat alle gesag en geloofwaardigheid (van die Skrif) slegs van God uitgaan. God self is die bron en kriterium van wat Waarheid is. Die gesag en geloofwaardigheid hang in geen opsig af van die oordeel van die mens nie. Ook nie van die kerk nie. Daarom is die selfgetuienis van die Skrif van deurslaggewende belang. Ons neem nie ons vertrekpunt in die mens se ervaring en waarneming en wetenskaplike kontrole nie. Ons neem die goddelike gesag, wat die Skrif aan homself toeskryf, as volstrek gesaghebbend.


Terug na Bybelskool