Dr Gys Loubser
Destyds in Judea moes jy jou plek op die sosiale leer ken. Die elite was ̕n baie klein deel van die bevolking (15-20%), maar
het alle mag en omtrent alle grond besit asook omtrent 70-80% van die bruto nasionale produk. Die res van die volk was
meestal brandarm, met min bedingingsmag en uitgelewer aan die grille van die heersers, tollenaars, grondeienaars en
handelaars. Polities was hulle uitgelewer aan Romeinse regente en amptenare wat dikwels opdrag gehad het om enige iets
te doen om die gebied te beheer. Die Romeine het dikwels twv gemakliker regering die hoëpriester en sy familie se guns
gewen (natuurlik met byvoordele). Laasgenoemde het dus polities sterk gestaan en kon hulle invloed by die Romeine gebruik
om landgenote (onbehoorlik) te beïnvloed. Dink aan Herodes en Pilatus.
Hoewel die hoëpriesterlike familie 'n politieke rol gekry het, was hulle eintlik veronderstel om hoofsaaklik 'n geestelike rol te
speel. Hulle moes die tempel en reinheidskultus bewaar. Die Sanhedrin, die Joodse verteenwoordigende raad van 70 lede
(bestaande uit priesters, oudstes en skrifgeleerdes uit aristokratiese geledere, en Fariseërs), het dikwels mag misbruik en
mense uitgebuit tot selfverryking. Hulle was ook die grondbesitters en het dus ongelooflike mag oor die gewone bevolking
gehad wat van hulle guns afhanklik was. Geen wonder nie dat die gewone bevolking vir Jesus prys met sy intog in Jerusalem
en dae later vra vir sy kruisiging. Hulle moes kos op die tafel kry en moes daarvoor doen wat die priesters, regeerders,
burokrate en grondbesitters eis.
Hoewel daar ruimte was vir indiwidue om in 'n bepaalde verhouding tot die Here te staan, was dit 'n ondergeskikte waarde.
Vir alle praktiese doeleindes was ̕n persoon nooit 'n indiwidu in eie reg nie, maar deel van 'n groep. Die lewe was verdeel
tussen ons (groeplede) en hulle (nie-groeplede). Volledige (selfs blinde) lojaliteit aan die groep is vereis as 'n saak van eer.
Buitestanders was onbelangrik in die aangesig van groepsbelange, behalwe as hulle bepaalde gebruikswaarde gehad het. Jy
is eenvoudig in 'n bepaalde groep ingebore en erf daarmee die groep se goeie of slegte naam en jy moes daarvolgens optree.
So het hulle gewonder of 'n profeet uit Galilea kon kom (Joh 1:46; 7:41, 52)
Hulle mag teenoor iemand van 'n ander groep onbeskof gewees het. As een sy donkie op jou familie se staanplek vasmaak,
mag jy hom en sy donkie verjaag. Maar môre, wanneer jy as Galileër teen 'n buitestander van Jerusalem af optree, sal daardie
selfde ou wat jy gister verjaag het, jou in die stryd omarm, want julle is altwee Galileërs.
Die enigste manier om dalk uit jou groep gelig te word, was wanneer iemand van hoër status jou onder sy sorg geneem het.
So begin jy deel in sy status. Dit het van buite af na jou toe gekom. Jy kon dit nie najaag nie, want jou etiket het jou
vooruitgeloop. Dit het dikwels die onguns van jou familie impliseer. In hulle wêreld het hulle nie gedink dis onbillik nie. Jy sou
eerder verkeerd wees, want jy tree teen jou aangewese en toegeskrewe aard op.
Die stereotipering is in die geslagte oorgedra. Daarom is geslagsregisters so belangrik en dikwels nie feitelik korrek nie. Hulle
wou eerder vertel met wie jy geassossieer is as waar jy vandaan kom. Dit was dus eerder karaktersketse of getuigskrifte (Mat
1:1-17; Luk. 3:23-38). 'n Vriend van 'n vriend is my vriend!
Om vir mense dankie te sê was ook nie die gebruik nie. Binne die groep sê jy nie dankie as iemand die vleis aangee nie. Dis
ons almal se vleis wat ons van God ontvang het en ons het vir Hom dankie gesê. Dis soos in 'n netbalwedstryd. Jy sê nie
dankie as jy die bal kry nie. Die bal is die span s'n en jy moet terwyl jy dit het eervol daarmee omgaan en die groepsbelange
dien.
Om dankie te sê het ook beteken dat jy die een wat iets vir jou gee se gesag oor jou erken. Jy het dus net dankie gesê aan
mense wat jy as hoër as jouself erken het. Dit was 'n manier van erken dat iemand gesag oor jou het of groter eer as jy besit.
As Paulus in 1 Kor 10:23-32 skryf oor vleis wat aan afgode ge-offer is, verklaar hy dat vleis waarvoor God gedank is maar geeët
kan word, al is dit vir afgode ge-offer. Die rede is dat die danksegging eintlik verklaar dat net God as God erken word. Die groep
se belang bepaal darem dat jy nie moet eet nie as een van die groeplede swak is in die geloof en dink dat jy daarmee wil sê
dit is reg om aan afgode te offer.
Dit beantwoord ook vir ons die probleem dat buiten vir Rom 16:4 daar nooit gesê word dat gelowiges mekaar moet bedank
nie. Hulle is nie daaroor onbeskof nie. Hulle erken net dat hulle net Een het wat groter is as almal. Paulus sal wel sê dat hy God
altyd dank vir die Filippense (Fil 1:3).
Weldoeners soos hierbo genoem was wel te vinde. So iemand sou bv. 'n ambagsman in diens neem, en sommer sy seuns
ook, of aan hom die nodige geriewe en gereedskap voorsien, of werk inkry, sonder dat hy enige materiële vergoeding sou kry.
Hy sou in ruil vir sy guns verwag dat die persoon en sy familie sy goeie naam bevorder en sy eer in ander se oë laat toeneem.
Die soort reëlings sou nie net vir vakmanne geld nie, maar ook vir mense aan wie verblyf voorsien is, of aan wie landbougrond
aangebied is om op te boer, of bote voorsien is om mee vis te vang, ens. Die hele sosio-ekonomiese orde is gebou op die
beskermheer-kliënt reëling. Dit is dalk waarom die gewone gepeupel so maklik hulle opinies oor Jesus kon verander in
Jerusalem. Nie net was hulle materiële versorging in gedrang nie, maar ook hulle eer, want hulle eer het daarin gelê dat hulle
hulle weldoener se goeie naam moes bevorder en sy oordeel oor sake respekteer en verdedig.
Daar is 'n ander uiters belangrike verskynsel in hierdie verband. Die kliënt het nie sommer toegang tot die weldoener gehad
nie. Nie eers nadat hulle ooreengekom het nie. 'n Tussenganger moes die ontmoeting fasiliteer, en daarna moes alle versoeke
en boodskappe na die beskermheer via die tussenganger gaan. Laasgenoemde was iemand wat in besondere guns was by
die weldoener en invloed by hom gehad het - gewoonlik iemand wat deel van die huishouding was, maar hoër in gesag as die
gewone bediendes. Die tussenganger tree ook as sodanig op, omdat hy deur die kliënt geag word as eerbaar en geeërd dat
hy in so 'n verhouding tot die weldoener staan. Die tussenganger sou ook nie sy eer, invloed en verhouding met die weldoener
op die spel plaas as hy nie gereken het dat sy versoeke sou slaag nie. Daarom sou 'n weldoener ook die tussenganger se
oordeel vertrou, en gewoonlik honoreer.
Hulle het die onsigbare wêreld beskou as die belangrikste. Dis waar die geeste in die lug - goed en sleg - werksaam was en
waar alles bepaal is. God was as eienaar van alles, die Groot Weldoener/Beskermheer met toegang tot en beheer oor alles,
insluitend die lewe, gesondheid, eer en alle magte - ook die dood (Mat10:28). Volgens Klaagl1:15-20 deel Hy die magte met
sy Seun. Jesus is eintlik die beeld van sy Vader (ook Joh14). God se kliënte is almal sondaars, maar sy Seun bemiddel
vergifnis en vrede. As mense in geloof op Hom reageer, verander hulle status na kinders van God (Rom 8:16). Hulle word selfs
erfgename (Rom 8:17), deel in sy Gees (Rom 8:23; Ef 1:14), en is nie vatbaar vir die dood nie (Rom 8:38). Uit dank vir al die
guns van die Weldoener, word van kliënte vereis dat hulle Hom eer en grootmaak voor mense (Mat 5:16; 1 Kor 10:31; Klaagl
3:17).
In 'n wêreld van skaarste en waar produksiemiddele ontsettend beperk was in vergelyking met ons geïndustrialiseerde
Westers-individualistiese wêreld, was kapitalisme nie net vreemd nie, maar sou dit 'n vloekwoord wees. Van alles in die lewe
was daar beperkte hoeveelhede: soveel land, soveel geld, soveel water, soveel eer, soveel liefde, ens. Van alles, materieel,
emosioneel, of geestelik, was daar net soveel beskikbaar en basta!
Op materiële vlak kon 'n mens - veral in Judea - net ryk word deurdat God jou seën met tweeling lammers, of goeie reëns wat
groot oeste oplewer. As jy op 'n ander manier ryk geword het, was dit omdat jy gesteel het of mense uitgebuit het, want daar
is net soveel van alles. Diefstal was dus wyer gedefinieer. Geen wonder ryk en arm het nie lekker oor die weg gekom nie. Die
een groep het die ander besteel en die ander moes eer gee aan mense wat hulle in absolute afhanklikheid gedompel het.
Daarmee saam het die jubeljaar en sabbatsjaar al hoe minder vir die rykes saak gemaak. Daar was dus nie sommer materiële
en finansiële regstelling soos die wet bepaal het nie. Vgl byvoorbeeld die gelykenis van die talente in Lukas en Matteus. Kyk
hoe hulle klem verskil agv die konteks se betekenis.
Eer was ook beperk. Elke mens is in sy bepaalde groep met 'n sekere hoeveelheid toegeskrewe eer gebore. Daardie eer moes
beskerm word. Jy mag dit nie afstaan nie. 'n Mens kon ook eer verwerf deur wat hy doen in die lewe, of deurdat jy in 'n geveg
of woordestryd met iemand as die oorwinnaar uit die stryd tree. Hulle (veral die Fariseërs, Sadduseërs en skrifgeleerdes) was
dus baie gou om te stry. Ons keer hierna terug.
Soos gesê, was dit ook 'n beperkte kommoditeit. Jy kon dit deur geboorte ontvang as 'n toegeskrewe waarde, of jy kon dit in
beperkte maat verwerf deurdat jy dit van 'n ander afneem of afstry. Jou lewensmissie was egter om jou eer te beskerm deur
op te tree soos wat verwag is van iemand van jou statuur. Binne jou groep het jy eervol opgetree as jy gehandel het
ooreenkomstig jou groep se onderlinge waardes en verwagtinge. Buite die groep het jy vir 'n ander groep se gevoel eervol
opgetree as jy opgetree het volgens hulle waardes. Indien dit jou vyand was, het jy vir jou eie groep se gevoel eervol opgetree
as jy die vyand afgejak of gevloek het, of in 'n argument geseëvier het. As jy in so 'n situasie eer verdien het, het die ander een
skande oorgekom.
Mans se lewensroeping het gelê in die verdediging en uitbouing van die familie se eer. Dis meestal in die openbaar gedoen
- veral op die markplein, in die sinagoge en die tempel. Daarom het hulle godsdiens ook dikwels ontaard in veruitwendiging
en het Jesus daarteenoor sterk gefokus op die innerlike dimensie en die feit dat die goeie en slegte dade waarop hulle gefokus
het uit die bose of reggestelde hart van die mens kom. Die eer wat jy voor mense kon verdien, dra nie noodwendig die Here
se guns weg nie.
Vrouens se eer het weer gelê in hoe hulle hulle huislike pligte uitgeleef het. Hulle mag sterk opinies hê, maar dan net in die
privaatheid van die huis en sonder om haar man te beskaam. Sy kon nie sommer op die markplein kom nie. Sy moes
gewoonlik van 'n manlike lid van die huis vergesel wees, of haar gesig moes bedek wees, sodat sy nie sommer as 'n prostituut
geeïen sou word nie. Die Samaritaanse vrou was byvoorbeeld op die verkeerde tyd van die dag by die put - middel van die dag
toe mans ook volop daar was. 'n Veragte Samaritaan, verkeerde tyd op verkeerde plek, en waarskynlik onbedek, sodat Jesus
maklik oor haar sedes kan praat. 'n Vrou moes haar skaamte bedek as sy eervol wou optree.
Dit is reeds duidelik dat die uitgebreide familie die primêre groep was. Die huis waaruit jy gekom het, het alles van jou gesê
en wat van jou verwag is. Die rol van die patriarg was om die familie se eer te beskerm deur die familie se waardes van geslag
tot geslag oor te dra en te interpreteer. Hy was die verpersoonliking van die familie se waardes en eer.
Die oudste seun was die patriarg se regterhand en moes in sy afwesigheid vir hom instaan. Hy was ook dikwels die een aan
wie die dissiplinering van die ander familielede opgedra is. As daar twiste was, moes hy dit ook hanteer in naam van die
patriarg. Dit sou selfs gebeur dat 'n dogter wat reeds deur die patriarg aan 'n ander beloof is, wegloop met iemand en so die
patriarg en familie oneer aandoen. Die oudste seun sou selfs daardie dogter gaan doodmaak twv sy pa en familie en daarmee
gelukgewens word omdat hulle eer weer herstel is.
Soos reeds gesê, was die vrouens in die privaatareas welkom om hulleself te wees en hulle opinies te lug. In die openbaar
was dit 'n ander storie. Die dat Paulus sê dat hulle in die byeenkomste van die gelowiges moes stilbly. Dit was altyd privaatarea,
maar nou openbaar. Hulle moes nog gewoond raak aan vrouens wat in Christus gelyk was en hy wou nie hê die mans moes
verontwaardig voel nie. Paulus het dus 'n daad van liefde van hulle gevra.
Kinders moes hulle plek ken. Kinders se status onder ander kinders is bepaal deur die status van hulle ouers, maar binne die
groter samelewing was kinders nie belangrik nie. In die Joodse gemeenskap was dit nie so erg soos in die Hellenistiese
gemeenskappe nie. Joodse ouers het immers 'n verbondsopdrag gehad om die kinders op te voed in die Here se weë. Hulle
het dus meer intieme verhoudinge met kinders gehad, maar kinders was steeds ondergeskiktes en moes volwassenes met
uiterste respek behandel.
Daar was 'n groot probleem met straatkinders in Israel - meer so in die ander gebiede. Israel se probleem het saamgehang
met Esra se geestelike herstel van Israel na die terugkeer uit ballingskap. Die Jode wat in ballingskap met heidenvroue getrou
het, se vrouens moes hulle of bekeer tot Jahwe, of die mans moes hulle skei. Baie wou hulle nie laat bekeer nie en is toe
geskei - baie sonder enige versorging, omdat Moses se skei-wette geag is as net geldend vir verbondshuwelike. Daardie
vrouens het hulle dikwels (meestal) tot prostitusie gewend en kinders wat uit hulle sedelose optrede gebore is, op straat gelos
vir ander om aan te neem of om te sterf. Die situasie het natuurlik vererger nader aan die tyd van die NT.
Die Grieke en Romeine het kinders as besittings beskou en kon hulle aanvaar of verwerp - afhangend van die pa se gevoel.
'n Kind was eers sy pa s'n wanneer sy pa vaderskap aanvaar het en hom/haar 'n naam gegee het. Tot dan was die kind redelik
"disposable". Ons het 'n brief waarin 'n generaal van die slagveld navraag doen by sy vrou of sy al gebaar het. Hy voeg dan
by dat as dit 'n seun is sy hom moet grootmaak, maar as dit weer 'n dogter is sy haar moet doodmaak of buite in die straat los.
Jesus se optrede met die (straat)kinders wat Hy seën, kry natuurlik dieper betekenis en 'n mens verstaan die dissipels se
posisie ook. Jesus aanvaar egter nie die situasie nie en eis 'n nuwe benadering.
In 'n wêreld sonder gastehuise was gasvryheid 'n saak van eer. Die woord wat ons met herberg vertaal, moet eintlik met
gastekamer vertaal word. Gewoonlik het mense tuisgegaan by mense met wie hulle 'n gesamentlike kennis gedeel het, dalk
iemand wat vroeër daar gewoon en jou aanbeveel het. As 'n saak van eer het jy gehelp - môre help iemand weer vir jou. As
gasheer was jy verantwoordelik vir jou gas se veiligheid. Hy is vir daardie tyd beskou as deel van jou groep. Dan deel julle
vriende en vyande.
Die vroeë Christene het swaar op gasvryheid geleun. Paulus beveel gedurig mense aan in sy briewe wat hy uitstuur.
Gasvryheid was 'n kenmerk van 'n goeie ouderling (1 Tim 3:2; 5:10; Titus 1:8). In 3 Joh is dit die kernsaak van die brief.
Diotrefus het nie gasvryheid betoon nie, maar Gaius wel, en dit maak die verskil tussen of jy die evangelie dien of nie. Daar
was ook reëls verbonde aan gasvryheid. Jy mag dit nie misbruik nie. Die Didache beveel aan dat niemand langer as 3 dae
oorbly nie. Dwaalleraars moes nie ontvang word nie.
Die oog was die venster van die siel. Dit kon goeie dinge inneem en slegte dinge uitstraal. Jy kon beheer oor mense en hulle
besittings verkry. Bv as jy iets van 'n ander begeer het, het jy jou oog daarop gegooi om dit in die hande te kry. As jy dit lank
genoeg gedoen het, het jy jou lewe aan die ander mens se goed gebind en het slegte dade gevolg. Jy kon ook beheer oor
ander kry deur deurlopende en slegbedoelde oogkontak. Soms was die "Evil eye" ook net 'n uitdrukking vir "the evil one".
Mense met 'n oogprobleem (blindheid, skeelheid, ooginfeksie, oogbesering, ens) het ook 'n "evil eye" en jy moes uit hulle pad
bly sodat hulle nie 'n slegte invloed oor jou kry nie. Oogkontak is dus vermy - veral ook met vreemdelinge, omdat jy nie geweet
het wat hulle intensies was nie. Daar is ook aan mense met aaneen wenkbroue gedink as mense met die "evil eye". Daar word
vermoed dat Paulus sulke oë gehad het en dat dit dalk sy doring in die vlees was. Dink ook aan sy brief aan die Galasiërs waar
hy pal praat oor sy gesondheid en klem laat val op die Galasiërs se sien van die evangelie toe hy daar was. Sommiges meen
dat hy dalk 'n ooginfeksie gehad het en dat hulle tsv die geweldige terugslag steeds geglo het wat hy vertel.
In 'n wêreld van eersoeke, was foute ontoelaatbaar en die erkenning van skuld was 'n teken van swakheid. Jy sou dus eerder
'n fout toeskryf aan die noodlot of die gode, maar nie aan jou swak oordeel nie. Daar was vir die Grieke selfs 'n spesiale godin
vir die soort ding (Tuge). Dit het natuurlik daartoe gelei dat mense nie graag besluite geneem het wat in die openbaar in jou
gesig kon ontplof nie. Daarom Pilatus en Herodus se speletjies met Jesus. Hulle wou nie verantwoordelikheid aanvaar nie.
Hier het Jesus se evangelie anders kom leer en moes die apostels groot regstellings help aanbring. Dink aan Petrus en hoe
verlig hy moes wees toe sy eer herstel is.
Die baas was ook altyd reg. Jy mag hom nie betwyfel nie. Hy kon later foute regstel op sy eie inisiatief, maar jy mag hom nie
teengaan nie.
Tyd was 'n onakkurate saak. Niemand het horlosies gehad nie en min sonwysers was beskikbaar. Die natuur was die horlosie
wat ure, dae, maande, jare en seisoene aangekondig het. Daarom het hulle eerder siklies oor tyd gedink as dat dit doelgerig
op 'n toekoms afstuur.
Verder het die Romeine se dag met middernag begin en die Jode s'n het van sonsopkoms (06:00) tot sonsondergang (18:00)
geloop. Die 6de uur sou dus om 12:00 wees. 'n Baie bedrywige uur was die 11de uur (Mat 20:6), want dit was net voor
sonsondergang en tyd om iets dringend in te pas - veral net voor die Sabbat wat Vrydag om 18:00 begin. 'n Gedeelte van 'n
dag het ook getel as 'n dag. Van Vrydagmiddag tot Sondagoggend, sou dus 3 dae wees. Dit verklaar waarom daar gesê word
dat Jesus drie dae in die graf was, terwyl Hy eintlik net min of meer 38 uur dood was.
Hulle het vanuit die hede eers op die verlede gekonsentreer ten einde sin aan die hede te gee en om raad vir die toekoms te
soek, voor hulle toekoms toe beweeg het. Vir hulle was die geskiedenis lewend. Hulle kon mense (veral konings) se
hoedanighede opnoem. Veral standbeelde was belangrik. Die geskiedenis was ingedeel in terme van konings se regeertye
of die tye van belangrike mense. Belangrike mense kon ook nie aangejaag word nie. Hulle bepaal die tyd. Wanneer hulle
arriveer is dit altyd op die bestemde tyd.
Verder was feesgeleenthede belangrike tydsaanduidinge. Weereens het die verlede (dit waaroor die fees gaan) die hede
medebepaal en sin daaraan gegee.
Om alles nog meer ingewikkeld te maak, was die Fariseërs baie gesteld daarop dat daar heinings, of veiligheidsmaatreëls om
die wet opgestel word. Hulle moes nie naby die moontlikheid van wetsoortreding kom nie. Dit het hulle gedoen uit vrees dat
God hulle weer in ballingskap sou wegstuur as hulle ongehoorsaam sou wees. Dit mag net nie weer gebeur nie.
Verder het hulle sterk daarop gefokus om alle liggaamsopeninge (mond, ore, oë, anus, en geslagsdele) te sluit vir slegte buite
invloede. Gedrag gekoppel aan hierdie openinge kon ook in grade van banaliteit aangedui word. Jesus lê klem op wat uitkom
eerder as wat ingaan.
|
Kaart van Heilige Plekke Allerheiligste Heiligdom Altaarhof en altaar Priesterhof Hof vir Israeliete Hof vir vroue TempelhofTempelberg (Sion) Binne Jerusalem Ommuurde stede Land Israel |
Kaart van Heilige Tye Sabbat Paasfees Groot Versoendag Fees van Tente Ander feesdae Nuwejaarsfees Purimfees Tussen-feesdae |
Kaart van Reinheidstatus Hoëpriesters Priesters, skrifgeleerde Fariseërs Wetsgetroue Jode Nie-wetsgetroue Jode Liggaamlik onrein Jode Moreel onreine Jode Dooie Jode |
Kaart van Geestelike Status Hoëpriester/Priesters Leviete Israeliete Bekeerd uit heidendom Vrygekoopte Joodse slawe Gediskwalifiseerde priesters (buite-eg priesterkind) Tempelslawe Basters Ontmandes Mans met besk. testes Hermafrodiete |