Die bedieningstruktuur wat hier beskryf word is die resultaat van deeglike beplanning deur die kerkraad en ander leiers oor 'n tydperk van 'n aantal maande. Dit volg op 'n basiese uitgangspunt dat die gemeente aan die Here behoort. Jesus is die hoof en uit hom groei die hele gemeente. Elke lidmaat (groot en klein) het 'n bepaalde funksie om te vervul (Ef 4) en is dus gesamentlik verantwoordelik vir die groei van die gemeente. Die gemeente behoort dus nie aan die leraars of ander leiers nie, maar aan Jesus. Die leiers is daar om die lidmate toe te rus vir hulle diens en dus nie om die diens uit die lidmate te hande te neem nie. Die gemeente is nie 'n hotel nie, maar 'n bedieningsgemeenskap waar lidmate mekaar bedien en elkeen afsonderlik en almal saam die wêreld bedien. Die kerk word gesien as 'n lewende organisasie wat bestaan ter wille van die nie-lede rondom hulle. Die struktuur is dus gemik op betrokkenheid en dienslewering.
Naas die prediking en kategese word die bediening in twee hoof kategorië ingedeel naamlik pastorale versorging en ander bedieninge.
Hier gaan dit om die geestelike geloofsvorming van lidmate. Na aanleiding van die Nuwe Testamentiese verstaan van gemeentewees, val die klem hier op die onderlinge versorging van mekaar as lidmate. Dit word gefasiliteer deur die kerkraad. Die hele gemeente is in wyke ingedeel en kom een keer per kwartaal in kleingroepe bymekaar onder leiding van 'n ouderling en 'n diaken om mekaar geestelik te versorg en opgebou te word as gemeenskap van gelowiges. Verder neem die wykslede ook verantwoordelikheid vir mekaar se nood deur mekaar te besoek en aan te moedig in tye van siekte en/of ander nood. Elke wyk kry ook van tyd tot tyd 'n diensbeurt op Sondae om tydens en na die erediens bepaalde dienste te lewer soos die verwelkoming van erediensgangers, nuwe besoekers en die bediening van tee en koffie na afloop van die erediens.
Al die ander bedieninge word deur die lidmate gedoen in 'n struktuur wat bestaan uit 'n aantal diensgroepe en funksionele taakspanne. Die diensgroepe bestaan uit die volgende:
Die kerkraad word saamgestel deur die ouderlinge en diakens van elke wyk, die skriba en kassier asook een verteenwoordiger elk van die verskillende diensgroepe. Laasgenoemde verteenwoordigers word as diakens aangestel.
Lidmate kan op een van drie maniere hulle maandelikse dankoffer inhandig:
Omdat dit almeer onveilig is om kontant by jou te dra, moedig ons jou aan om verkieslik met jou bank vir 'n aftrekorde te reël om jou dankoffer oor te betaal. Dit bring ook mee dat ons inkomstebestuur baie vergemaklik word en meer stabiliteit tot gevolg het. Die gemeente se bankbesonderhede is op die kalender en ook op die voorblad van die tuisblad.
Baie mense doen deesdae sover hulle kan transaksies deur middel van die internet. As jy jou dankoffer ook so wil inbetaal, is jy baie welkom. Die gemeente se bankbesonderhede is op die kalender en ook op die voorblad van die tuisblad.
In die voorportaal van die kerkgebou is daar op 'n rak koeverte beskikbaar waarop die naam van die gemeente voorkom asook die woorde "My dankoffer aan die Here". Neem gerus een daarvan en plaas jou dankoffer daarin. Gooi dit dan in die kollektebrodjie tydens die erediens.
Onthou dat jou dankoffer 'n opdrag van God is en dat jy dus aan hom gehoorsaam is wanneer jy dit inbetaal. Daarom bly dit ook jou eie verantwoordelikheid om dit gereeld te doen.